"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas
En daar kry Amici GOUD op die Wêreldkoorspele 2018! Of soos ons liefderyk daarna verwys- die olimpiese spele van koor. (Ek noem dit ook koornerdhemel...) Nou om die impak van die prestasie te verstaan, moet jy eers 'n tree terug gee en Amici verstaan.
Amici het 22 jaar terug begin as #HeleneYollieRudolfRustyWion wat hoofsaaklik vir Helene se ouma by haar ouetehuis gaan sing het. En ons hoofprogramwennommer was hoofsaaklik Looking from a window above in vyf stemme. (Ons het daai parararams na nuwe hoogtes toe geneem.) Die lotjie van ons was almal studente daardie tyd, behalwe Wion. As ek reg onthou was hy nog 'n skolie. Iewers in standerd nege, matriek rond?
So hou Helene oor die laaste twintig jaar die skapies bymekaar, en eindelik eindig Amici darem op 'n plek waar hulle vir die laaste paar jaar elke Desember met twee of drie oefeninge agter die blad 'n besonderse bogemiddelde kerskonsert kan aanbied, met enigeiets tussen 15 en 30 lede. Afhangende van wie swanger is, eksamens skryf of ander belangriker dinge het om te doen. (Daar is dokters, aptekers, onderwysers, ingenieurs, boekhouers, grafiese ontwerpers...en ek)
Wat ook belangrik is om te noem, is dat jy nie 'n oudisie hoef te slaag om in Amici te sing nie. As jy van sing hou, is jy in! Of as Helene jou iewers hoor sing en sy jou rekruteer. En dis haar spesiale super talent- om mense te oortuig om goed te doen wat hulle nie regtig noodwendig geweet het hulle wil doen nie. Amici se leuse: Winging it since 1996! Dit alleen spreek boekdele oor die (kom ons noem dit) vaardigheidsvlak van Amici.
En toe kondig Helene laas jaar aan dat sy Amici gaan inskryf vir die Wêreldkoorspele. Nou sy vertel altyd en sê dat haar pa graag spot en sê dat haar entoesiasme haar vaardigheid soms oorskry. En ons spot altyd terug en sê...haha, dis snaaks. Want dit is in werklikheid die reine waarheid. (Dit was in elk geval tot vanoggend! #howthingshavechanged) Die vrou is 'n beendokter for crying out loud. Gewone standaard koorleiers het grade in musiek. En kan koormusiek lees sonder om eers die spasie-lyntjienootrympies op te sê. (Okay soprane julle noot is 'n... elke, goeie boer drink fanta...F...o nee wag ek dink daar is 'n kruis....!!) Maar haar hart wys net een rigting. Wêreldkoorspele toe. Basta met hoe die res van die wêreld werk! En so oortuig sy meesterlik ses en dertig van ons om dit saam met haar te doen.
'n Klompie van ons daag op vir die eerste oefening. Drie (erige) maande voor die groot optreedag. Die uitvoerende raad van Amici het alle verwagtinge oortref. Ons musiek lê gereed in hopies en wag. (Ek vermoed een of ander skool of besigheid se afrolkostes was deur die dak daardie maand.) Ek bekyk die liedere so en wonder stilletjies of Helene dalk 'n breintumor het. Geen kans dat die groepie hier om my dié liedere op wêreldstandaard gaan sing in drie maande nie! Ons wroeg deur die oefeninge. Elke Maandagaand tussen 18h30 en 20h30 sit ons soos weeskinders en wag vir die wonderwerk oomblik om te kom. Maar dis moeilik, want in drie volle maande kry ons dit nie reg om die volle ses en dertig Amici's in een gebou te versamel nie.
Oefeninge verloop soos volg. Ons almal kom laat. Behalwe Magriet en Catrien. Hulle is altyd daar en vroeg. Dan is dit eers 'n gedrukkery en gesoenery. Magriet bring eenkeer Melkkos. Audrey 'n koek met 'n Amici logo op. Catrien soetgoed en soutgoed. So daar moet geëet ook nog word in die twee waardevolle ure. En na eet is daar eers nog drukke en soene. En geselsies. Want ons hou van mekaar. En ons is opgecharge soos duracell hasies. Dan warm ons op. Maar dis moeilik, want so stiptelik as wat Magriet is, so moeilik is dit om haar te kry om vir vyf minute nie te klets nie. Magriet het 'n stem soos 'n engel, is dierbaar soos Maria, maar goeiste sy praat baie soos 'n grammofoonplaat wat nuut opgewen is. (Eintlik nou dat ek daaraan dink het sy waarskynlik nie opwarming nodig vir haar engelstembande nie. They are always fired up and ready to go....ook om in te val as enige solo stukke per abuis wegraak, of nie opdaag nie, of nie hulle woorde ken nie. #queenofallunderstudies)
En dan is daar die koorrokke. Hulle word weekliks weer en weer en weer en weer gemeet. Terwyl ons opwarm, terwyl ons oefen, terwyl ons eet, terwyl ons druk en soen en gesels. En elke week is dit of te lank of te kort. Adrienne gee egter nie moed op nie. If all else fails gaan ons ten minste fantasties lyk op D-dag!
Dan begin ons deur die stukke gaan. Rudolf hou beat met die djembe, maar hy kan netsowel nie, want Amici het 'n ritme van hulle eie. Dis 'n wonderlike ritme. Een van liefde en entoesiasme en oorgawe- dis net nie noodwendig almal gelyk op dieselfde tyd nie. Helene skuif my in drie verskillende liedere na drie verskillende stempartye toe. Ek is eintlik 'n hoë alt, maar in Amici is ek enigeiets van 'n lae tenoor tot 'n hoë sopraan- afhangende van hoeveel mense opdaag vir oefening en hoe senuweeagtig Helene daai spesifieke aand oor 'n stemparty voel.
Die aand wat ons die Afrikaanse medley die eerste keer oefen, oorweeg ek om tou op te gooi. Wat het die vrou wat die ding geskryf het gedink? Dis 'n Babelse verwarring. Ek dink nie die beste koor in die wêreld kan die stuk baasraak nie. Die tenore vat vals na nuwe hoogtes toe met die sologedeeltes. Die geskryfde ritmes kon netsowel in Chinees geskryf gewees het. Ons ignoreer dit soos 'n rooilig in Solomon Mlangu Drive. (Ek is heel toevallig tenoor in die lied!) Maar wag. Daar is meer. 'n Week voor ons eerste optrede besluit Helene dat die stuk ook bewegings kort. Die basse en tenore moet die tyd hou op die off-beats. Dirk neem die vorm van 'n SAL boeing aan. Dis pragtig om te sien- ek sweer, maar teen die res van die koor is ek bang die gehoor roep dalk vir 'n dokter om die ou met die arm spasma uit sy pyn te help. En Anton. Pragtige jong man met 'n pragtige stem, maar so min ritme het ek nog nooit gesien nie. Daar is geen kans dat hy op die off-beat kan klap en sing tegelyk nie. GEEN. KANS. NIE. Hy staan uit soos 'n Pepstores sweetpak in 'n Nike winkel.
Dan is daar ons Latynse lied. Helene spring soos 'n mak sprinkaan op en af om ons te kry om hard en sag te sing. Maar ons bly beslis op 'n stewige mezzo-forte. Geen ff's en pp's vir Amici nie. Helene kry ook twee weke voor eerste optrede nuwe gehoor apparate. "O, so dis hoe julle klink!" Ek hoop in my hart sy maak 'n grap. Ek moet egter sê- na die nuwe ore was sy baie meer persistant oor die hard en sag. In so mate dat dit so week voor die optrede begin klink het soos 'n regte egte koorstuk. Klein vlammetjies van hoop begin brand. Die enigste ander uitdaging met die lied is om almal te kry om hulle hande langs hulle sye te kry. Met Ineke was dit spesiaal moeilik. Sy het 'n breiprojek aan die gang gehad. "Arms-langs-die-sye" het in haar kop ingegaan as "lus, draad, glip...en...herhaal....vir ewig...."
Soms wil my kop ontplof oor die min erns, maar dan kyk ek na Chantel. Hoe haar litte nie kan stilwees van opgewondenheid nie. En ek kom agter dat Magriet nie oor ditjies en datjies klets nie, maar oor musiek en hoe opgewonde dit haar maak. Dirk lyk dalk soos 'n vliegtuig, maar sy passie is aansteeklik en kort voor lank, hoef hy nie af te skaal nie, want die om hom lyk nou al amper net soos hy- 'n vloot boeings van Basse. Ek sien Yani se kinders wat lê en saamluister terwyl ons oefen. En ek onthou hoekom ons almal daar is. Want dit is vir ons lekker.
Helene red keer op keer wonderbaarlik die gemorse wat aanhou gebeur. Dalk is daar meer vaardigheid as wat ons (of haar pa) besef? Hilde help met haar rotsvaste lae-alt die tenore met hulle vals stukke. Rudolf skuif oor na die basse met die medley om hulle te help met hulle ritme. En so stuk vir stuk kom alles bymekaar. Ons klink al meer soos 'n koor en minder soos die sanggroepie wat ons eintlik is. Nou kort ons net 'n oefenlopie om te wys waartoe ons regtig in staat is.
Ons reel 'n optrede saam met 'n paar ander kore wat ook deelneem aan die Wêreldkoorspele en kry selfs 'n paneel fopbeoordelaars om ons te krit. Ons is egter steeds nie voltallig nie. (Rusty hang in België uit, maar hy't belowe hy's betyds terug vir die kompetisie.) Ons lyk soos 'n miljoen dollar in Adrienne se rokke en ons daag ewe paraat by die kapel op vir ons optrede. Een van die kore wat reg voor ons optree is wêreldklas. (Hulle is ook laas week aangewys as die beste in hulle kategorie in die wêreld- so dis nie oordryf nie). Om na hulle te moet optree vat 'n man op 'n perd. Maar ons bly hoopvol.
Ons hoop val egter plat soos 'n opgestopte bra in die reën. Ons het die manier hoe ons staan op laaste verander en ons kan mekaar skielik nie hoor nie. Die kapel het nie 'n klavier nie, so ons gebruik my keyboard, wat ook hopeloos te sag is. Met die Afrikaanse medley verloor ons mekaar heeltemal en soos ons mekaar verloor vergeet ons sommer ook ons bewegings en ek vermoed ons lyk waarskynlik soos skape wat kraal toe gejaag word. Met ons Engelse lied kan ons nie die klavier hoor nie en elke stemparty struikel dus toe maar voort in sy eie sleutel. Brennie ons solis (en ook ons secret weapon), wat op 'n gemiddelde dag vir Cher soos 'n amateur laat klink, val 'n miniatuur kwarttoon laer as die koor in. As sy alleen gesing het was daar geen probleem nie, maar met 'n koor agter jou is dit egter effens problematies. Sy besef dit en begin in rooi vlamme uitslaan. Iewers langs die pad verloor ek my altpartywysie en sing maar net so goed ek kan op enige noot wat min of meer reg klink.
Ons fopbeoordelaars gee bladsye vol "opbouende kritiek". Ons begin bekommerd raak. Selfs Helene wat al messe uit half bewustelose mense se koppe moes haal en heupbene met haar kaal hande kan breek raak effe gespanne. Sy bel my in 'n klein paniekuitbarsting. "Jy gaan saam met Brennie haar solo moet sing. Net om haar bietjie meer selfvertroue te gee..." Ek weet vir 'n feit dat Brennie geen selfvetroue hulp nodig het nie. Dalk net 'n harder klavier- at most. Het ek egter genoem dat GEEN mens vir Helene kan nee sê nie. Ek stem halfhartig in. Weet Helene dat die lied in 'n Afrikataal is wat ek geen woord van verstaan nie? Dis 'n week voor kompetisie- daar is geen kans in die heelal dat ek al daai woorde ooit sal kan onthou nie. (Ek onderhandel myself gelukkig toe later daarin om net die eerste reel saam met Brennie te sing...vir selfvetrouedoeleindes en als....) Eintlik moet ek eerlik noem dat dit my selfbeeld glad nie goed doen om langs Brennie te sing nie- die girl se stem is, soos my ma sê, van 'n ander planeet af ongelooflik!)
Die week na die toetsoptrede is almal bietjie meer gefokus. Selfs Magriet is met stilte geslaan tydens oefening. Ons luister na die fopkritiek en probeer beter maak wat ons kan. En toe ons weer kyk is dit kompetisiedag. (Daar was darem nog een kerkoptrede tussen die toetslopie en die kompetisie wat effens beter gevaar het). Steeds het ons al ses en dertig nog nooit almal saam gesing nie. Rusty is missing in action- vermoedelik iewers aan die vassit op 'n lughawe.
Kompetisiedag warm ons 7uur die oggend op in 'n skoolsaal. Toe ek by die trappe opklim is die basse en tenore besig om nog bewegings te oefen. Daai off-beat wil net nie vat kry nie. Daar is geen kans dat hulle dit gaan nail voor die kompetisie nie. "Just wing it boys" dink ek by myself. Dis twee ure voor kompetisie. Helené lyk effe bleek om die kuwe.
By die Musaion staan ons vir 'n foto. Rusty het opgedaag. Ons is vir die eerste keer die jaar voltallig. My senuwees is klaar. Toe ons opstap op die verhoog bid ek saggies. Die Latynse lied is eerste. Vir die eerste keer in drie maande vat al die basse dieselfde beginnoot. Ons sing soos nog nooit vantevore nie. Nootvas. Ritmevas. Iets bo-natuurliks is aan die gebeur en dit is absoluut magies. Na ons eerste lied bars die skare in 'n juigende handeklap uit. (Baie van hulle is rent-a-crowd, maar steeds!). Ons Engelse lied klink soos iets uit die hemel. Die Afrikaanse Medley is asemrowend. Wat 'n fantastiese lied. Het ek ooit getwyfel in die skrywer se gesonde verstand? Selfs die off-beat klop klopdisselboom. (Later op die skelm video wat Judith geneem het sien ek selfs Anton het daai off-beat toe reggekry!) Na die medley ontplof die skare weer. Ons kry selfs 'n glimlag by een van die beoordelaars. Nog net die Afrikalied. Brennie sing die saal stil. In die helfte van die lied begin my trane loop. Ek dink nie ek was al ooit so oorweldig op 'n verhoog nie en ek doen verhoog al LANK! Toe ons klaar is staan ek en wag om af te gaan en ek dink. “Ons is lankal nie meer net amici (vriende) nie. Ons is familia (familie).” Want dis wat familie doen. Maak nie saak wat die omstandighede of probleme is nie- in die einde, wanneer dit die meeste saak maak, trek familie laer en kom bymekaar om wonderwerke te maak gebeur.
So hier is Amici nou. Goud in die sak. En boonop vierdebeste Vocal Ensemble in die wêreld in ons afdeling. (I never doubted us for a moment!) En natuurlik tonne goue memories to go with it. Wat 'n wonderlike voorreg was dit nie!
Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.