Archives

Kommin skoene is soms okay

18th May 2018

Soms is dit die klein dingetjies in die lewe wat ‘n ou (of meisie in my geval) ure se pret verskaf. Vat nou maar vanoggend.

Maar eers moet ek natuurlik die bobbejaan agter die berg gaan haal om by my punt uit te kom. So paar weke gelede besluit ons, na ‘n klompie stampe op my ou getroue Ford Ranger, dat dit dalk tyd is vir ietsie kleiners om mee te ry vir die mammamens. Pretoria parkerings is aansienlik kleiner as Kaap parkerings en daar is ook klaarblyklik baie meer paaltjies en hekke wat ‘n ou nie raaksien so met ‘n canopy saam nie. Ek hou maar nog altyd van ‘n kar sonder ballet frokkies en teen alle raad en daad besluit ek om die Ford in te ruil op ‘n Suzuki Jimny. Luukshede in die model sluit hoofsaaklik lugsakke, ‘n radio en elektriese vensters in. Die bagasieruim is ook net-net te klein vir ‘n gewone grootte tas, maar die tas pas baie gemaklik op die agtersitplek. Wel net-net gemaklik!

“Nee my vrou, dis dan net ‘n halwe kar!” laat die liefde van my lewe hoor. “Mamma, die ding het nie eers controls op die stuurwiel nie…” sê Grootprins. “Jy moet maar ‘n kierie ook saamkoop,” sê Peet die ou by wie ek die Jimny koop, “die automatic het net drie ratte- hy’s stadig soos ‘n skilpad.” Kleinprins noem hom my halwe broodjie en my pa noem hom my ambulans. (Lang storie vir ‘n ander dag.) Maar soos gewoonlik steur ek my nie veel aan die witgeraas rondom my kop nie. Dit is die cuteste tjor waarmee ek nog ooit gery het. Dis soos om sonskyn te ry. 80km per uur en al.

Terug by vanoggend. Daar moet inkopies gedoen word en die Jimny word opgevlam vir die tog winkels toe. Ek het ‘n effense verkoue en sukkel om asem te haal so in die toe kar. Kyk, in Pretoria ry ‘n ou mos maar met toe ruite om seker te maak die spreekwoordelike boef op elke hoek vang jou nie. Okay, dis nie regtig spreekwoordelik nie, maar dit kan netsowel wees. Ek hou my egter braaf en ry met wawyd oop ruite na al my stoppe toe. Waaragtig sonder enige voorvalle. (Behalwe as jy die feit dat ek my onoopgemaakte Fanta zero vir ‘n bedelaar gegee het omdat hy baie dors gelyk het en my ook vertel het dat hy baie dors is, as ‘n voorval beskou.) Soos reeds genoem is daar nie baie klokke en fluite (#seewhatididthere) verbonde aan die Suzuki Jimny nie, maar die belangrikste een het hy darem wel. Bluetooth sodat ek Itunes kan luister.

Soos ek ‘n paar weke gelede belowe het, na die fiasko oor Dirkie van Jaarsveld, Afrikaanse sangheld ekstrodenêr, is my Itunes speellys tans op goeie ou Afrikaans ingestel. Net so skuins voor ek my estate oor die rant sien, begin niemand anders nie, as Jack Parrow die kar te vul met Jy dink jy’s cooler as ekke…

Nou kyk, daar is niks wat die petrol in jou bloed uitbring soos Jack Parrow nie. Ek trek die radio se ore tot op vol volume. En so ry ek en Jack Parrow, met my oop vensters en die wind in my hare, teen 60km per uur my estate tegemoed. Ek voel hoe my kommin skoene juk van lekkerkry. Ek ken (uiteraard!) nie die woorde nie, so ek maak dit maar uit volle bors op soos ek aangaan. Dis so lekker dat toe dit eindig ek sommer weer repeat druk en dit nog ‘n slag luister.

By die estate se hek moet ek eers my vingerafdruk gee vir die hek om oop te gaan. Diep binne voel ek soos ‘n gangster wat geprocess word by die polisiekantoor toe ek my vingers op die masjien sit om my uit te ken. ‘n Gangster met Jack Parrow as wingman. Langs my stop ‘n fênsie estate tannie in haar ewe fênsie lang slap Mercedes. Haar venster gaan oop nes Jack Parrow op vol volume vertel van die tattoo van ‘n slang op jou tette…Ek oorweeg om sagter te sit, maar sekerlik luister selfs fênsie estate tannies soms Jack Parrow reg? Ek giggel en glimlag vir die fênsie tannie met die baie haarsprei en lipstick. Sy gee my egter net ‘n estate tannie kyk en rol haar ruit so vinnig weer op as wat sy hom afgerol het. Die sekuriteitswag dink darem ek is legit (dis hoe ons gangsters die lingo gooi…) en dans selfs ‘n stukkie saam toe ek wuiwend wegry.

Nou is dit eers lekker, want binne in die estate mag ek net 25 km per uur ry. Ek hang my arm uit by die oop venster, voel hoe die son op my wintervelletjie brand en sing sommer nog lekkerder saam. Die Jimny se radio het nie regtig bass nie, maar selfs met die bietjie wat daar is kan ek voel hoe Jack Parrow onder my sitplek op en af spring. Dis darem nou al die tweede slag dat ek dit luister so ek ken die woorde al baie beter. Jy is Tim Vorster, ek is Chris Edwards…

Toe die laaste klanke van Parrow wegsterf begin Coenie se Karoonag speel. Ek maak die Jimny se ruite weer toe. (Dis maklik want dis elektries en alles.) Party musiek is nou eenmaal net nie lekker met oop vensters nie. Ek trek my kommin skoene uit en gooi dit in my miniatuur bagasieruim. Vir ‘n anderdag. Maar Jack…jy en ek…ek en jy…ons sal altyd daai Vrydagoggend in die Jimny, met die wind in ons hare hê!  Daai tannie by die hek is Ice tea my bra, ek en jy en my Jimny- ons is witblits! Oor en uit!

Stoepsit saam met Anna

23rd March 2018

‘n YOLANDE STRAUSS kortverhaal – Stoepsit saam met Anna

*Spesiale dank aan Jak J Brits vir jou hulp met die skryfstuk

Hier sit hulle op Anette se stoep. Sewentig plus met niks meer om hierdie ou wêreld te bied nie. Dag in en dag uit staar hulle na die vaalgroen blare van die apiesdoringboom in die agtererf.

Die blare staan stil, nes tyd. Tyd wat stilstaan is nie ‘n ou se maat nie. Dae word langer. Soos Somer. Die vreugdes van Somer ontgaan jou egter.

Bedags spandeer hulle op die stoep. Dag in en dag uit lê Anette se hond getrou by hulle voete. Die nuwe intrekkers was vir hom aanvanklik vreemd. Die eerste ruk was dit ‘n alewige onsinnige geblaffery, maar later het hy hulle gewoond geraak. Snags sluip hulle so stil as moontlik in die huis rond. Van slaap is daar al lank reeds nie meer ter sprake nie.

“Kan jy glo sy verkoop net als so?” sê Anna.

Sy is die een wat altyd die stilte breek. Piet het lang jare terug al geleer dat stilbly so goed ‘n antwoord is as enigeiets. Hy kruis sy bene langsaam en krap-krap aan die laaste stukkies tabak wat vassit in sy pyp.

“Dit was my pa se erfgeld,” praat Anna voort. “Onthou jy nog toe ons die tafel gaan koop het, Piet?”

Hy knik net sy kop.

“Ek was verlief op die kabinet wat saam met dit gekom het,” sê Anna. Sy onthou dit nog soos gister. “Die gekleurde glasvenstertjies was vir my so mooi. Het die kind dan geen sentiment nie?”

Piet wens hy kan die pyp aansteek, maar hy moes die sondetjie ook maar prysgee. Hy dink eers lank voor hy antwoord.

“Ag my vrou, die ding het die hele wêreld volgestaan in Anette se huis. Sy het tog haar eie smaak, hoekom sal sy nou daai monsteragtige eetkamerstel in die ou klein plekkie wil laat probeer inpas? Is dit nie nou haar meubels om mee te maak soos sy wil nie?”

Anna is egter nog nie klaar nie. Sy kan ‘n ding dood praat as mens vir haar ‘n kans gee. Sy was nog altyd so. Dalk daarom dat Piet so stil geword het.

“En wat van al die soetgoed wat sy die seuns so voer?”

Piet val haar hier in die rede. Want stilbly is ook soms nie die antwoord nie.

“Jy gaan staan nie weer en steek die soetgoed weg nie. Ons is net gaste hier, Anna! Los die kinders. Die lewe is swaar genoeg.”

Anna lag vir haar eie vernuftige poets. So paar weke terug het sy al die soetgoed in die huis onder in die vrieskas gaan wegsteek. Anette is nie ‘n voorslag kok nie, so die vrieskas is die laaste plek waar sy vir enige iets soek. Altyd net Woolies klaargaar kos.

Anna, uit pure verveeldgeid en vir bietjie binnepret, steek ook soms ander klein goedjies weg, maar Piet hoef nie van alles te weet nie.

Hy raak versigtig weer ‘n ou onderwerp aan.

“Jy sal jou dinge moet laat staan, Anna. Ons het ons beurt gehad. Nou moet ons terugstaan en die laaste bietjie van die lewe saam geniet.”

Alles is anders na die ongeluk. Anna stry nie daaroor nie. Piet sal nooit weer dieselfde wees nie. Sy ook nie.

Hulle was oppad Stilbaai toe vir die langnaweek. Anette sê al vir jare hulle is te oud om so vêr te ry. Vandag amper ‘n jaar terug. Kan dit al so lank wees?

Anna trek haar kieste in soos sy altyd maak as sy haar vir Piet vererg.

“Dis nie in my persoonlikheid om terug te staan nie. Jy van alle mense behoort dit teen die tyd te weet, Piet. Hoe gaan Anette haar seuns grootkry? Sy kan nie eers ‘n eier bak nie. En watse tipe vrou laat haar man kook en was en stryk? Iemand moet ‘n oog hou. Hand bysit waar dit nodig is.”

“Tye het verander, Anna,” sê Piet droog. “Anette is ‘n werkende vrou, en kom laatmiddag eers by die huis aan. Ek dink dis net reg dat Dawid sy deel bring. Die seuns ook, hulle is immers al in die laerskool.”

Anna weet nie hoe om terug te staan nie. En sy kan die verkoop van die meubels nie oorsien nie. “Sy raak ontslae van erfstukke, Piet! Ons het duur betaal daarvoor. En Dawid het laasnag weer pizza gaan koop. Dis gemorskos…”

Piet dink terug aan toe hy en Anna pas getroud was. Daar was aande wat hy ook skelm by die straatkafee kitskos gaan koop het. Die kos by die huis was effe te eksperimenteel na sy smaak. Maar hy’t dit nog al die jare van Anna weerhou. ‘n Klein wit jokkie.

Voor die ongeluk kon Anna enige dis in ‘n kookboek baasraak.

“Jy is ‘n goeie vrou, en jy was ‘n goeie ma vir Anette,” sê hy dan. “Jy het haar goed grootgemaak. Jy’t jou deel gedoen.”

“Ag, Piet…”

Sy plaas haar hand op sy been. Piet kon haar nog altyd met so bietjie heuning om die mond van iets oortuig.

“Maar wat van die kiaat boekrak? Nóg ‘n erfstuk, van my ma se kant van die familie,” sê Anna. “Sy hou niks!”

Piet kan sien dat Anna nie sal verstaan nie. As hy net die verduiwelse pyp kon aansteek. Die hemel weet hy is baie lief vir die vrou wat hier langs hom sit. Maar as sy eers so op een wysie begin sing, kry dit nie end nie.

“My grootoupa het daai boekrak met sy eie hande gebou, Piet. Al die boeke wat al deur daardie boekrak is, onthou jy nog vir Trompie en Saartjie? Dit het alles op daardie rakke gestaan. Niks van hierdie tegnologiese twak nie! Dit is herinneringe.”

“Dis net ‘n boekrak, Anna.”

Dalk moes hy liefs die onderwerp verander het, besef Piet.

“Dis nie net ‘n boekrak nie, Piet. Dis ons lewe. Ons besittings. Alles wat ons bymekaar gemaak het, en Anette raak daarvan ontslae asof ons nooit bestaan het nie!”

Anna se stem raak huilerig.

“Anna. Hoor mooi. Dit ís net ‘n boekrak. Ek het gesien hoe Anette huil…na die ongeluk. Sy haal elke aand jou trouring uit die kluis uit en dan huil sy Anna. Sy huil oor jou. En my en oor daardie ongeluk.”

“Maar ons het als aan haar oorgelaat…”

“Ons is in haar, Anna. Deel van wie sy is. Ons is nie in ’n boekrak of ‘n eetkamertafel nie. Dis alles net goeters.”

Anna se mond val verbaas oop. In vyftig jaar het Piet nog nooit so mooi met haar gepraat nie. So reguit, met wysheid in elkeen van sy min woorde nie.

Sy staan swaar op. Sy is nog steeds ‘n mooi vrou, selfs met die plooie en ekstra gewig wat aan haar lyf hang. Sy vee ‘n denkbeeldige kreukel uit haar romp en kyk vir ‘n laaste keer na die apiesdoringboom.

Sy buk stadig, en vryf geduldig die hond.

“Nou toe dan, Piet,” sê sy die volgende oomblik. Sy ignoreer die traan wat teen haar wang afrol. “Ek wíl die laaste bietjie tyd saam met jou geniet. Hier staan ek voor jou. Ek gee oor. Dis net meubels. Anette sal regkom. Soos jy sê; ons deel is gedoen. Daar kom seker ‘n tyd om die aflosstokkie oor te gee.”

Piet weet dat die tyd aangebreek het. Hy druk sy pyp in sy sak en staan met ‘n kreun op. Dan vat hy Anna se hand en soen dit.

“Ek reken ons is reg” prewel hy en slaan sy oë op na bo.

Die trappe voor hom is verlig en heelbo waar dit eindig hang ‘n verblindende wit lig – soos die son. Sy voete word lig en die klim is nie te steil of te moeilik nie.

Anna kon nie laat gaan nie en hy kon nie sonder Anna nie. Anna is nou gereed. Eindelik. Die frons op haar voorkop is weg. Sy hou glimlaggend haar arm na hom toe uit, sodat hulle kan inhak. Nes die dag in daardie mooi wit kerk toe sy vir hom die jawoord gegee het. En hy belowe het dat hy vir altyd langs haar sal staan. Kom siekte, armoede of erger. Nou kan hulle finaal met die nuwe avontuur begin.

Anette voel vir die eerste keer in ‘n jaar asof sy lig sien. Na haar ouers se dood in die motorongeluk oppad Stilbaai toe, was dit asof daar ‘n juk op haar skouers was. Maar vanoggend, amper ‘n jaar later is daardie juk net weg. Sy kan dit nie verklaar nie. Sy dink die hond voel ook aan dat sy beter voel. Vir die eerste keer in ‘n jaar kom lê hy by haar voete in plaas van alleen op die stoep. En vanoggend vir die eerste keer verbeel sy haar nie goed nie. Sy het al begin dink dit spook dalk hier….

 

Lees nog kortverhale.
Kyk YouTube Videos van Yolande Strauss

Hoop

29th January 2018

‘n YOLANDE STRAUSS kortverhaal -Hoop

Sarel staar na die laaste stukkies blare wat aan die ry Bougenvillas se verdorde takkies
klou. Marié het dit self geplant. Sy het gereken dat as sy dan hier op die vlaktes moet
bly, dat sy dit netsowel kon mooi maak. Hy het die plaas veertien jaar terug geërf.
Marie was swanger met Hoop. Tien jaar gewag. Eindelik opgegee.

En toe kom Hoop.

Marié wou eers niks van die plaas weet nie. Hulle lewe was in die dorp. Kon Sarel nie
maar soos altyd net elke dag plaas toe ry en sy boere boer nie? Maar die plaas was
deel van wie hy was. Dit was deel van die man op wie Marié verlief was. Sy het
geweet dat as hy nie op die plaas kon bly nie, sy hom sou verloor.

Maar die noodlot het hom ‘n streep getrek. Skaars ‘n jaar na Hoop se geboorte is Marié gediagnoseer
met kanker. Ses maande daarna was sy weg. Sy het hom en Hoop hier op die plaas
agtergelos. En Hoop was al wat hom al hierdie jare staande gehou het. Tot vandag.
Vandag weet hy nie of hy kans sien vir wat op hom wag nie. Die laaste lewe is nou uit
Marié se Bougenvillas uit. As die laaste blare geval het, kap hy dit uit. Hy kan nie
elke dag nog aan sy dooie vrou ook nog herinner word nie.

Die reën is nou al weg vir meer as twee jaar. Hy het ophou tel. Aan die begin kon hy
regkom met sy boorgat en sy halfvol damme. Hier en daar het ‘n buurman uitgehelp
met voer vir die beeste. Maar die bure se hulp het al minder geword soos hulle eie
beeste begin maer word het. Die stukke grond met rooigrond wat al meer word kan hy
nog vat. Die gras was stuk-stuk verdwyn. Maar die kyk in sy beeste se oë. Die bene
wat al amper hulle dowwe velle begin stukkend steek. Dit is bloot te veel vir hom.

Tsepang was vroeër hier. Tsepang boer al vir veertien jaar aan Sarel se sy. As seuns
het hulle saam kleilat gespeel in die naaste kamp se dam. Saam pakslae gekry as hulle
die hekke oopvergeet het. Saam gesien hoe die plaas kwyn onder die droogte. As
Sarel geweet het Hoop sit in die gang en afluister sou hy sy woorde beter gekies het.

“Ons gaan die beeste moet skiet Tsepang. Hulle lei. Selfs die bietjie modderwater in
die damme is op. Ek weet nie wat anders om te doen nie. Van die osse staan nie eers
meer op nie.”

Tsepang het verstaan. Hy sou sorg dat die beeste teen skemer moreaand almal in een
kamp is. Sarel sal by Heinrich nog patrone moet gaan leen. Daar is nie genoeg in die

kluis nie. Hy sal dat die jonger plaaswerkers solank die grafte begin grawe. Alle hoop
is daarmee heen.

Hoop het vervaard met haar tingerige dertienjarige lyf ingestorm gekom en hom met
haar vuiste begin aanval.

“Jy kan nie ons beeste skiet nie pa. Ons sal ‘n plan maak. Ons kan ‘n plan maak!
Hulle is ons familie pa!”

Hy het nie eers geraas nie, want in Hoop se kop was dit alles die waarheid. Hy het
haar laat klaar slaan en haar vasgehou tot haar trane klaar gehuil was. Sy het later die
pad gevat in die veld in. Hy het haar laat begaan. Sy ken die plaas so goed soos hy.
Hy het nog altyd geweet dat hy nie ‘n seun nodig gehad het om die plaas eendag te erf
nie.

Hoop kan ‘n trekker so goed as enige van sy werkers ry. Het met haar dun
armpies al bale help aflaai van die trok af. Sy ry saans saam as hy die drade gaan
ondersoek en is die enigste een op die plaas wat weet hoe om daai wispelturige
draadhek in die bo-kamp oop en toe te kry sonder beserings. Maar as die beeste eers
weg is sal daar nie veel wat oorbly vir Hoop om te erf nie. Heinrich het hom ‘n
posisie by die kooperasie aangebied. Hy en Hoop sal moet dorp toe trek.

****

D-dag. Waar sy krag vandaan gaan kom weet geen mens nie. Hy dink bitter dat hy
kon sê die son trek water, maar hier is waaragtig nie een druppel vir die son om te trek
nie. Hoop het na ontbyt verdwyn en nog nie weer haar verskyning gemaak nie. Ook
maar beter so. Geen dogter van haar ouderdom behoort te sien wat vandag op hierdie
plaas gaan gebeur nie. Die dreuning op die dak ruk hom vir ‘n oomblik uit sy eie
gedagtes uit. Dit klink soos…reën?

Dis tog nie moontlik nie. Hy weet want hy hou
elke dag elke liewe weerstasie se voorspellings soos ‘n valk dop. Maar water op ‘n
sinkdak is nie iets wat ‘n ou jou sommer net verbeel nie. Oppad voordeur toe vang sy
oog die oop venster. Water kom in emmers vol van bo af. Die wind het opgesteek en
van die water waai by die oop venster in.

Eers raak hy woedend en toe tref ‘n angs hom. Hoop staan vierkantig in haar spore op
die dak met ‘n tuinslang. Sy spuit dit met groot hale van links na regs oor die dak en

erf. Die meisiekind staan hulle laaste bietjie water en uitspuit asof daar kiloliters te
spaar is!

“Hoop, draai toe daai kraan. As jy vandag daar afneuk vergewe ek jou nooit. Hoor jy
my!”

Maar Hoop staan vas asof haar lewe daarvan afhang. Sy lyk amper half verspot met
haar vellies en kortbroek terwyl sy soos ‘n wafferse brandweerman die tuinslang heen
en weer waai.

Sarel stap doelgerig op die tenk af en draai met moeite die kraan weer toe. Hoop klim
egter nie af nie. Sy oë soek na ‘n manier om op die dak te kom.

“Hoe’t jy daarbo gekom?” vra hy kwaaier as wat sy intensie is.

“Teen die tenk opgeklim.” Die meisiekind gaan hom nog grys hare gee.

Sy ou lyf ken nie meer van klim nie en dit vat ‘n paar probeerslae om op die dak te
kom. Die sweet loop teen sy nek af en sy asem is kort en brand in sy keel.

“Wat is jy besig om te doen Hoop? Jy weet tog van die water…jy verstaan tog…”

“Hoe het pa gevoel to pa die reën op die dak hoor?”

Hoop is duidelik onbewus van hoe Sarel sy woede tans moet inhou. Hy kyk haar vir
‘n paar oomblikke in die oë. Hy besef skielik dat hierdie nie net sy las is nie. Hy sien
die donkerte wat dreig om oor te vat agter haar blou oë. Sy hart versag.

“Ek weet nie. Ek dink ek het vir ‘n oomblik…hoop gehad.”

“Gister toe pa met Tsepang gepraat het. Pa het moed opgegee. Hoop verloor. Ek wou
pa net laat voel hoe hoop voel. Ek dink pa het dalk vergeet.”

Die meisiekind verstom hom. Nes haar ma destyds.

‘n Koel briesie waai Hoop se lang hare oor haar wang. Van die dak af sien ‘n mens
die hele plaas. Sarel en Hoop staar nou albei na die stof wat in die vêrte aankom. ‘n
Stuk of vyftien vragmotors kom oor die bult aangery. En agter hulle sien Sarel swaar,
donker wolke. En donderweer. Is hy besig om sy varkies te verloor. Die hitte van die
dak maak hom sweerlik drogbeelde sien.

“Ek het op die internet gesien van mense wat voer verniet bring vir boere soos ons pa.
Ek het hulle gebel gister. Hulle vertel van ons plaas. Van die beeste wat geskiet moet
word. Hulle bring kos vir die beeste pa.”

“Sien jy die wolke Hoop. Daai is reënwolke as ek al ooit reënwolke gesien het! Die
weer het niks voorspel nie. Sê my jy sien ook daai wolke Hoop.”

“Na ek die voer-mense gebel het, het ek gebid pa. Ek het ma gevra om te help.”

Sarel kan ruik hoe die stofreuk nou in sy neus opslaan. Die water is selfs nader as wat
hy besef het. Die eerste druppels val nog voor Hoop en Sarel se voete grond vat. Die
reën bly vir twee weke. Die plaaspad is verspoel en die drade het amper almal
omgeval. Maar Sarel kla nie. Die beeste begin weer opstaan. Hulle bene nog
wankelrig soos kalfies s’n, maar hulle staan. In die koerante en oor radiostasies gons
dit oor die vreemde weerverskynsel. Niemand kan verklaar waar die skielike reën in
die area vandaan gekom het nie.

Hoop sit op die stoep in die reën. Sy glimlag toe Sarel haar onder die dak inroep.

“Jy soek vir longontsteking meisiekind” raas hy halfhartig.

“Dink pa ma se Bougenvillas sal weer groei?” Hoop kom maak haar tuis onder sy
arm. Sy ruik na modder en plaas en water.

“Ek weet nie. Maar ek het ‘n waardevolle les geleer die laaste twee weke. Daar is
altyd Hoop. En ek dink dis genoeg.”

Lees nog kortverhale.
Kyk nog YouTube Videos van Yolande Strauss

Groet sonder woorde

26th January 2018

Ek is maar ‘n sentimentele meisie. Mense wat oor my pad kom los maklik stukke van hulleself in my siel agter. Party weet presies wat hulle daar los. Ander is heel onbewus. Een so arme stomme onbewuste, is Jannie du Toit. Net die ander aand gaan kyk ek na sy Brel vetoning in die Atterbury teater. Ek gaan ondersteun eintlik sy pianis, maar hy…hy los my (nie die eerste keer in my lewe nie) met verwondering. Dit is absoluut ongelooflik hoe hy homself vervorm van lied na lied. Hoe hy gemaklik spring tussen vier tale. Hoe hy elke woord sy eie maak. Hoe hy ‘n verhoog klein kan laat lyk met hoe briljant hy die spasie gebruik. Hoe hy stories kan vertel met sy hande en hoe hy sy passie kan laat afskilfer na die skare toe. Ek is nie vriende met Jannie nie. Ek ken die man skaars. Ek het hoogstens al ‘n paar ure in sy geselskap deurgebring. Hy praat graag oor taal. En woorde. En my Pretoriô aksent. Dis wat ek van hom kan onthou. Mens is baie keer diep teleurgesteld as jy akteurs, sangers of skrywers ontmoet en dan agterkom hulle is maar net mense met foute. Jannie was nie vir my een van daardie teleurstellings nie. Op en af van die verhoog af is hy ewe passievol oor sy talente en liefdes. Vandag nog gebruik ek hom as my kompas van hoeveel mens van jouself moet gee op ‘n verhoog. Hoe passievol jy behoort te wees as die droom in jou geplant is. Hoe jy mense om jou beter kan maak met die vuur wat in jou brand. Ek het natuurlik ‘n Jannie storie. Maar dit het nie by Jannie begin nie.

Donkiejare terug, meer as wat ek wil onthou (Grootprins het reeds alweer met my verjaarsdag die jaar gevra of ek nou middeljarig is) is ek ‘n jong menslike hulpbronne konsultant by ‘n werwingsmaatskappy in George. My foon lui en die ontvangsdame sê dat Christa Steyn vir my op die lyn is. In my wêreld bel bekende sanghelde van jou kleintyd jou nie regtig nie, so ek dink nie vir ‘n oomblik dat dit Christa Steyn die bonatuurlike pianis en liedjieskrywer is nie. Wat ek die helderste onthou is haar diep sagte stem aan die ander kant van die lyn. Sy het my musiek in ‘n haarsalon in Potch gehoor, uitgevra en besef dat ek ‘n Crescendo finalis was. Dis nou heel toevallig dat sy as gaskunstenaar by die volgende ATKV Crescendo finale rondte moet optree. Maar sy sing mos nie eintlik nie. En sy hou van my stem. Kan ek haar lied vir haar kom sing. (!)

Ek gaan nie jok nie. Ek het myself so bietjie natgepiepie op daai oomblik. ‘n Week later begelei Christa Steyn (!!) my op ‘n verhoog waar ek een van haar liedere sing. (Ek wil vir jou- dit was so mooi, dat toe ons dit die eerste keer oefen ek inderdaad begin huil het.) Wat ‘n wonderlike ervaring. Maar dit is nog nie die einde nie. ‘n Week later bel sy weer. PG du Plessis het ‘n stuk geskryf oor wyle Koos Du Plessis se lewe en musiek. NAGKANTOOR. Hulle kort ‘n jong onbekende sanger om saam te sing, stel ek belang. Ek sal daaroor dink sê ek. (Yeah right!) Ek sê ja nog voor sy klaar gepraat het. En so kruis my pad- net vir ‘n kort wyle, met Jannie du Toit se pad. En of dit nie genoeg is nie, kry ek die geleentheid om ‘n duet saam met hom te sing.

Die lied natuurlik, is weer ‘n storie op sy eie. Die laagste noot in die stuk wat ek moet sing saam met Jannie, is bloot net te laag vir my. Oefening na oefening kry ek die noot net nie gevat nie. Na Christa ure gesukkel het om my by die noot uit te kry sê sy die dag van die opname vir my ek kan maar ontspan- sy het die lied hoër gemaak en ek sal maklik bykom. Wat natuurlik ook gebeur. Ek vat daai lae noot soos ‘n jarelange pro! Na die opname deel sy my egter mee dat sy vermoed die grense wat ek vir myself stel is net in my kop. (Een van my grootste lewenslesse as musikant wat ek nog geleer het.) So jammer, maar sy het gejok. Die lied was inderwaarheid in sy oorspronklike toonhoogte. En well done met daai lae noot. Christa was inderdaad reg. Die grense is net in ‘n ou se kop. As ‘n resultaat van daardie waardevolle les kan ek vandag al veel laer sing as daardie dag se laagste noot. Die lied se naam was Groet sonder woorde.

“Die harmoniewerk op die album (Nagkantoor) is meestal uistekend, byvoorbeeld op Swerwers en Kinders van die wind, waarvan die melodie ook in die openingsnit benut word. Ander sterk snitte is Mol-berge (Jannie), Najaarsdroom (Yolandé), As jy my kan volg (Matthys) en Groet sonder woorde (Jannie en Yolandé).” ~Die Republikein – 27 Mei 2004

Ek het vandag ‘n nuwe opname gemaak van Groet sonder Woorde. Nie so spesiaal soos die duet saam met Jannie nie, maar spesiaal omdat dit my ewig herinner aan ‘n tyd waar groot  Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse!) musikale reuse my vuur aangeblaas het en onbaatsugtig stukke van hulleself in my gelos het, my  gementor het – sonder dat hulle dit eers geweet het.

 

 

Lees nog skryfstukkies uit my pen
Kyk nog YouTube Videos van Yolande Strauss

 

As Mamma oorlslaan Swenglish toe…

8th August 2017

Ons almal het daai een vriendin (of dalk vriend- laat ons nou die veralgemeen nie né). Hulle weird jou so bietjie uit want jy sweer hulle het ‘n kamera iewers in jou huis versteek. Daai een wat jou uit die bloute epos, bel, whatapp of sms as jy in die donker dal van doodskaduwees iewers in ‘n gat wegkruip vir die wêreld. (Al wat kort is die hadida wat sy angs oor die vallei roep en jy is ‘n gonner.) En sy weet dit net sonder dat jy of iemand anders haar gesê of selfs kón gesê het. En sy weet dit ELKE keer. Al vir meer as twintig jaar. En dan vra sy heel onskuldig: “so hoe gaan dit?” Pft! Want sy is #freakylikethat. Wel ek het so een. En toe trou daai een. In Holland van alle plekke.

My Bruidegom wil saam, maar het ‘n regte werk. Nie soos ek wat net speel-speel werk(e) het nie. Na lang beraadslaging besluit ons dat Bruidegom en die Prinse moet bly. Grootprins is egter nie ‘n ou wat hom sommer so by die huis laat los nie. Hy kom met groot stories oor hoe ‘n besoek aan ‘n vreemde land sy algemene kennis oor die wêreld sal uitbrei en op die lang duur absoluut voordelig sal wees om hom ‘n beter mens te maak. Met die argument in gedagte belowe ek met gekruisde vingers en so half halfhartig dat hy maar kan saamgaan.

Toe dit kaartjiekooptyd word besluit ek en Bruidegom egter dat dit aansienlik beter sal wees vir ons beursies as dalk net ek gaan en vliegkaartjies en ‘n visum word flink bewerk. Ons sal later in sameswering ‘n leuen bedink om Grootprins te verwittig van sy lot. Maar niks is ook heilig in ‘n huis met dun mure nie en toe Grootprins uitvind is die gort natuurlik gaar. Hy is klaarblyklik nie okay met ‘n mamma wat vals beloftes maak nie.

Ek sien hoe my ma-van-die-jaar prys voor my oë versplinter! Dus moet daar nou nog ‘n ekstra kaartjie en visum bewerkstellig word. Een reusagtige probleem is egter dat ek en Grootprins nou twee verskillende verwysingsnommers het vir die vlug en nie saam kan inskakel in ons vlugte nie.

Maar dank die gode vir fone. Stel jou voor ek moes iemand telegrafeer of per seëlpos in die hande probeer kry. Ek bel toe maar die besprekingsagent. Hou ‘n uur aan (na ‘n ander land!) en spandeer meer op die oproep as aan die kaartjies. Foonagent mannetjie verseker my dat ek en Grootprins langs mekaar sal sit op al ons vlugte. Net om seker te maak stuur ek nog ‘n epossie so week vooraf en ‘n ander Eposagent dametjie verseker my weer dat alles onder beheer is en dat dit niks is om oor bekommerd te wees nie. Ek en Grootprins kan hand-aan-hand Kumbaya sit en sing in al ons vlugte.

Ek is tevrede. Grootprins is tevrede. Daar is vrede. Ons pak ons rugsakkies. Vlieg heerlik Holland toe. Slaap op mekaar se skouers in die vliegtuig. Klim verwonderd in Schippol af. Lag en omhels ou vriende. Woon die beste drietalige troue ooit by. Verstaan amper niks wat enige iemand sê nie. Vreet kaas. Koop klompe en ontkoop dit weer toe ons sien wat dit kos. Probeer ‘n fiets huur maar kan nie want ek het my paspoort in die woonstel vergeet. Sien elke museum wat bestaan.

Grootprins is ingelig en reg om ‘n sinvolle bydrae tot die samelewing te lewer met sy nuwe wêreldkennis. Ons omhels weer ons vriende, die keer koebaai en druk ons verwysingsnommer in die lughawe se slim masjien in om ons instapkaartjies te druk. En net daar verloor ons wolkie sy goue rant. (Ons wolke het goue rante want Kleinprins hou nie van silwer nie.)

Ons vlieg saam van Holland na Parys. Maar van daar af sit ons ligjare vêr van mekaar af. Grootprins se ogies swel vol trane. “Mamma jy het belowe ons sit bymekaar.” Een traan spat letterlik van sy wang af net om die oomblik meer dramaties te maak. Ek begin grondwaardinne opsoek. Die vrolike Hollandse waardinne is pragtig en vriendelik. Maar hulle sal ongelukkig nie kan help nie. Dit moet in Parys opgelos word. Ons het net ‘n halfuur in Parys en dis twaalf uur in die aand!

Ek bel my hulplyn. Bruidegom moet dit probeer oplos. Want dis wat hy doen. Hy los my probleme op! Maar nie die keer nie.

“Jammer vrou. Jy gaan maar net moet sterkstaan as jy in Parys kom. Ek kan niks van hier af doen nie.”

“Ja wel ek sal maar probeer” mompel ek.

“Jy gaan meer as moet probeer vrou. Ek ken jou. Jy’s ‘n pushover. Maar dit gaan Grootprins se hele trip bederf as jy dit nie uitsorteer nie” sê man streng.

Ek probeer nog ‘n laaste keer een van die Hollandse meisies oorreed om my te probeer help. Maar niks. Ek en Grootprins klim op en koester ons laaste oomblikke saam op ons vlug. Die trane se strate nog nie droog op sy wange nie. Ek begin myself opwerk. En jy kan nie glo hoe ‘n mamma wie se kindertjies tenagekom word haarself kan opwerk in ‘n uur nie. Teen die tyd dat ek afklim in Parys is ek reg vir oorlog. Ek is woedend. Egter nie heeltemal seker vir wie nie.

Ek loop my egter vas in ‘n Franse tante wat nie nonsens van kabouters soos ek vat nie. Wat my natuurlik toe nou sommer nog meer die josie in maak.

“Julle moes saam geboek het om mee te begin” blaf die tante met ‘n diep franse aksent wat ek net-net verstaan. Dis hier dat ek toe oorslaan in Swenglish. (In my vorige blog het ek gepraat van Vloekaans- die is sy engelse sussie.) Ek onthou sinne soos: “Ek het twee keer bevestig.” “Die is ‘n helptafel, hoekom op aarde sal hulle iemand soos jy hier sit?” ” Ek gaan vir seker nie vir een van die passasiers vra om te skuif nie- dis julle fout….”

Toe sy egter sê ek moet om hemelsnaam ASSEBLIEF bedaar sy kan sien ek is duidelik moeg en uitgestres, verloor ek al my albasters op die plek. Wat daarna gebeur het is bietjie van ‘n lugleegte in my geheue. Die uiteinde was egter dat sy ewe gedwee saamgestap het aan boord en een of ander oom van sy sitplek af beveel het. Sy nuwe stoel  die een wat eens vir Grootprins bedoel was. Ek wat halfhartig “merci” brom. Pushover se alie!

Grootprins het die hele petalje maar net met groot oë dopgehou, maar dankbaar onder my vlerk ingeskuif toe ons opstyg.

In Johannesburg aangekom vra Bruidegom: “So het jy toe darem langs mamma gesit op die vliegtuig?”

“Ja. Pappa dit was awesome. Jy moes mamma hoor daar in Parys. Dis net peep peep peep peeeeeeep peep. Daai arme Franse tannie!” borrel hy oor.

“Ek is trots op jou vrou” sê bruidegom.

“Ek ook” dink ek en belowe myself om nooit weer oor te slaan na Swenglish toe solank ek lewe nie. Maar ai daai verdomde Franse maak ‘n ou darem net baie kwaad…

*Ek hoop egter Grootprins vergeet dat sy mamma Swenglish magtig is en onthou liewer al die beter woorde wat ek al in my lewe kwytgeraak het. En ek hoop hy onthou al die woorde van my hart…en ook die van sy hart….want dis mooies. 🙂

Kleurvol

28th July 2017

My ou vriend Spaan en ek sit die anderdag in Brooklyn Mall (jip, ek moes I Love Melkies met sy see uisig verruil vir ‘n koffieshop in Pretoriô wat uitkyk op metromanne en mall sekuriteit…die koffie en geselskap was darem gelukkig bo-standaard…)

Ons gesels oor die liefde, die lewe en nog wat. Hy is lus om sy lewe te boekstaaf. Sommer so vir homself. Met fotos en stories en gedigte oor alles wat hy al gedoen, gesien en deurgemaak het. En dit laat ons dink…

Ek wonder soms of party mense se lewens net regtig vaal en verbeeldingloos is en of meeste mense net bloot mís dat daar soveel wonderlike dinge om hulle aangaan. Dat hulle dag tot dag bestaan werklik kleurvol is, maar hulle bloot verkies om die lewe in swart en wit te sien…met skakerings van grys (en daarmee bedoel ek nie die vyftig skakering tipe nie) net om die finale doodskoot te gee.

As aspirant skrywer en liedjieskrywer wonder ek of ek nie maar dalk net elke stukkie lewe beleef met die oog op ‘n nuwe liedjie of skryfstukkie nie…my lewe is dalk in werklikheid ook maar grys, maar met bietjie duimsuig en opblaas maak ek dit effe meer…kleurvol….

My lewe is besaai met soveel fantastiese gebeure en mense en dinge. Ek het soveel goete wat my lewe verryk en op die oog af nogals spesiaal maak. En meeste daarvan gebeur heel per ongeluk en ewekansig.

Vat nou maar vir Jannie en Jakkie. Klompie jare terug ontmoet ek ‘n jong Vloekaanse knaap (die wat Jannie ken sal my opgemaakte woord verstaan) wat ‘n website vir sy vliegskool by my wil koop. Hy en sy hele intimiderende gevolg sit en bekyk my hoopvol in sy sitkamer en die gesprekke oor vliegtuie en enjins is om die minste te sê nogals uitdagend.

In die einste sitkamer, die dag van die ontmoeting, sien ek ‘n kitaar teen sy muur. “Speel jy?” vra ek om die ys te breek. Jannie se oë kry ‘n anders glans en sy Vloekaans verdubbel toe hy eers begin vertel van sy liefde vir musiek. Toe hy eers aan die gang kom kry ‘n Wes-Transvaalse donderstorm die jong man nie stil nie. En daar begin dit alles. ‘n Klompie maande later verkoop hy die vliegskool en maak hy ‘n opname studio oop. Ek WEET reg?

And the rest is history, soos hulle sê. Dit raak natuurlik my uithangplek van keuse. In die einste studio hang daar wonderlike mense uit. Waarvan ‘n hele klomp my lewe op ‘n gereelde basis verrassend kleurvol maak en vreemd genoeg ook heerlike geleenthede oor my pad bring. Een van die mense is Jakkie.

Lang storie kort raak ek en Jakkie jongeling goeie vriende so met tyd en hang hy gereeld in my huis uit. (Meerindeels natuurlik om my toerusting te gebruik om opnames van sy fenominale liedjies te maak…)

Een so liedjie is KLEURVOL. Die lied is oorspronklik net vir hom geskryf, maar met my knaende getemery om deel te wees van sy talent verander ons dit in ‘n duet vir hom en my. (Sien video aan einde van die skryfstukkie).

Ek ontwikkel intussen (met die dat ek skielik so omring is deur ‘n klomp arty fartys) ‘n stewige belangstelling in, onder andere, videografie. So een oggend terwyl ek en Jakkie so sit en chai tee drink is dit ‘n onafwendbare gesprek wat plaasvind. “Kom ons maak ‘n video van jou song!” sê ek vol bravade. “Great idee. Wat van more?” antwoord Jakkie. Met generasie z is niks oormore of volgende week nie. Móre! Ek verlang onwillkeurig terug na toe ek nog vroeg in my twintigs was en alles carpe diem was!  Ek wil nie oud klink, praat van deeglike beplanning en ander oumensgoed en sy drome breek nie so more is dit toe nou!

Ek moet natuurlik in die video wees so ons kort ‘n kameraman. Ons drentel af na Jannie se ateljee.  Hy is van nature ‘n ou wat nie wil uitmis nie so dit kos geen oorredingsvermoë om hom aan boord te kry nie. Hy sal die kamera bring, twee mikrofone en wat ookal nog nodig is vir hierdie super professionele video skietery. Al wat ek moet bring is die mp3 luidspreker sodat ons die lied kan hoor terwyl ons die video maak. Ons is opgewonde!

Een sonnige Wintersoggend sak ons drietjies dus af Eerste Steen toe om ‘n video te maak. Die twee aantreklike jong mans en die tannie moes maak vir ‘n heel oulike prentjie! Jannie se kattebak is gepak met al sy toebehore en daar gaan ons. Eerste probleem is dat ek (getrou aan vorm) die mp3 luidspreker vergeet het. #youhadonejob

Jakkie- nie net talentvol nie maar ook slim en diplomaties, troos en stel voor ons probeer maar so van sy 1980 selfoon af luister na die lied. Jannie se nekare bult, maar hy kom van Upington se wêreld af waar jongelinge nog oumense met respek behandel so hy sê maar niks. (Hy kry altyd so verwarde uitdrukking op sy gesig as mense om hom deur die dinges is…dis ‘n poging om sy irritasie te versteek, maar nie baie suksesvol vir ou honde soos ek nie.)

Die tweede probleem is dat Kaapstad ons toe ook verras (bwahaha) met ‘n wind wat net Kapenaars sal verstaan. Jannie lyk diep bekommerd oor die super duur mikrofone wat windverwaaid staan en sand vreet. Ek is vergeetagtig en by tye verstrooid in rekordgetalle, maar een goeie (debatteerbaar as jy my beterhalf vra) ding wat ek is, is hardkoppig en my deursettingsvermoë is noemenswaardig van aard om die minste te sê, so ons ploeg voort. (Dit help ook dat my ouderdom hulle outrank!)

Ons hoor natuurlik geen woord op die 1980 selfoon so deur die wind nie en wing dit dus maar soos ons aangaan. Jakkie hou geïrriteerd (dog diplomaties soos ek reeds gesê het) tyd in die lug sodat ek en hy ten minste lyk of ons dieselfde liedjie sing. (#funwashadbyall. That’s my story and I’m sticking to it!) Jannie kameraman soos ‘n pro en 2 ure later sit ek voor my kompertjie en sit KLEURVOL aanmekaar. ‘n Lied wat ook later lei na ‘n klompie huiskonserte saam met einste Jakkie en Jannie.

Wat begin het as ‘n website verkoop eindig in ‘n wonderlike avontuur in die wind en sand. Met nog vele musiek, koffie, chai tee en liedjies in die jare daarna wat volg. Daai kitaar teen die muur het my lewe ongetwyfeld verander- as ek hom misgekyk het was my storie dalk heel anders…