Archives

Die groot K skrik

11th August 2014

Kyk ek het nou al oor die jare agtergekom, ek is nie soos meeste vrouens nie- ek dink so bietjie anders, voel so bietjie anders en doen dinge so bietjie anders as die meeste vroue wat ek ken- MAAR een ding weet ek deel alle vrouens- maak nie saak hoe aweregs jy is nie. ALLE vrouens sien op na daai veelbehate ginekoloog besoek!

Maar kom ek begin my storie by die begin. Met die dat ek so half aweregs is (my man noem die Kruger-van Niekerk hardkoppigheid) sien dokters my nie eintlik nie. Ek verstaan nooit hoekom mens vir jou GP R600 moet gee net sodat jy haar kan vertel dat jy verkoue het nie…

ALLE geval- so 2 maande terug sê ek vir my man: Ek kan nie my vinger daarop lê nie, maar ek voel net nie great nie. (Dit- en daar was ‘n karbonkel so groot soos ‘n Bloubul ego op my linkerwang). Wel ek weet dis nie verkoue nie, so ek raap en skraap toe maar die R600 bymekaar en maak die afspraak. My dokter is nie juis seker wat om vir my te sê nie- met die dat ek nie regtig die simptome kan uitdruk nie. Die enigste simptoom (behalwe die karbonkel so groot soos ‘n Bloubul ego op my linkerwang) is immers: Ek voel net nie myself nie. So gee sy maar toe antibiotika vir die karbonkel (ons almal weet nou al hoe groot en presies waar hy was!) Meer om my te paai vat sy toe ook genoeg bloed om my duiselig te laat vir ‘n na-middag. Continue Reading…

Die dag toe ek my kinders wou weeshuis toe vat…

23rd May 2014

Okay- ek jok so effe in die opskrif- daar was nie EEN spesifieke dag nie. Met my Grootprins gebeur dit so een maal elke twee maande dat ek hom daar wil gaan aflaai. Met Kleinprins- meer in die omgewing van drie keer per dag!

Vir die wat gedink het kinders kry en grootmaak is kinderspeletjies, maklik en magies- dink gerus weer! Dit begin alles sodra die troumars sy laaste orreklanke laat afsterf het in die vêrte!

“Kinders by dosyne!” sing die trougaste.

“Ons wil darem nog jonk genoeg wees om ons kleinkinders te geniet…” sê die toekomstige ouma.

“Julle sal moet begin werk aan ‘n maatjie vir Gertjie…” sê die niggie (wat jy na jou troue nog nooit weer gesien het nie…)

“Julle weet nie wat julle mis nie- ‘n mens se lewe is leeg sonder kinders…” sê die vreemde vrou wat soos ‘n uitgewasde handdoek lyk. (Moet deel wees van die nuwe skoonfamilie.) Continue Reading…

Om te kyk, of nie te kyk nie….

7th November 2013

Die anderdag, op ‘n per ongelukte Kaapstad somersdag, sit ons gesinnetjie en eet roomys in die middestad. Ons het skaars gesit of daar waai ‘n swerm lawaaierige jong knape die winkeltjie binne. Dis net aftershave, help-my-fris hempies, Bieber kuiwe en uitsteek onderbroeke waar jy kyk. Ek vergaap my letterlik en dink stil-stil: “dank vader ons boyfriends op daai ouderdom moes brushcuts hê vir drilperiode!”

“Kyk jy lekker my vrou?” kom my man se geamuseerde opmerking my ore binne.

“Is jy simpel man. Hulle kon my kinders gewees het!” blaps ek uit.

“Dis oukei my vrou. Daai spiere is seker handsome as dit jou tipe ding is…”

En net daar besef ek hoe verskillend ons Evas van die Adamsgeslag is. Soos ek sê- die seunskinders kon my seuns gewees het…(as ek op 18 begin het, wat ek Dank Vader nie gedoen het nie!). Vir my om “daai” kyke te kyk moet hulle darem so 28 plus wees… Continue Reading…

Die Volvo Mamma

18th October 2013

Ons almal het haar. Daai ma by die skool wat jy wens jy kon wees. Myne noem ek die Volvo mamma. Voor ek met my storie begin, kom ek vertel eers van die Volvo mamma. Sy ry om mee te begin, ‘n Volvo. ‘n Charcoal Volvo. ‘n Silwerskoon charcoal Volvo. Sy ry binne die 60km/h spoedgrens met haar silwerskoon charcoal Volvo, want sy is altyd betyds- met 2 minute om te spaar! Wanneer sy haar lang lenige bene sjarmant by die Volvo se deur uitbeweeg, is dit (perfek geskeerde) soepel bruin bene wat die teerpad met grasie tref. Continue Reading…

Oor Brad Pitt en ander dagdrome…

12th April 2013

Sien noudiedag so uit die hoek van my oog dat een van die Oceans films op MNet wys…ai maar Brad Pitt is darem maar njammies. Dink jou nou in as my en sy paaie moes kruis…? Egter een probleem…ek is getroud. Gmf. Ek is baie dinge, maar ‘n cheat is nie een daarvan nie. Kom ek droom my man is dood en ek is ‘n weduwee. Mmm, nee dit sal nie deug nie, ek wil nie vir my kinders ooit hoef te vertel hulle pappa is dood nie. Kom ek droom liewer ons is geskei. Ja dis beter. My man het my gelos vir ‘n mooier jonger model. Nee wag wag wag. Sy kan nie jonger as ek wees nie. Jong meisies het nie moeder instinkte nie. En sê nou sy verlei later een van my seuns.  Dink aan al die rekeninge vir sielkundiges en lewensafrigters en…nee man Yolandé. Fokus. Brad Pitt. Continue Reading…

“Living with boys”

22nd October 2012

Daar is al movies hieroor gemaak, boeke geskryf. Vrouens deel dit met mekaar in die geheim- maar om dit in die werklikheid te beleef is ‘n heel ander storie!. Vat dit van ‘n vrou wat saam met drie homo sapiens van die manlike geslag ‘n huis moet deel. En ek is nie ‘n fief nie- alles behalwe! Inteendeel. Ek is ‘n tomboy, ‘n “one of the boys”, ‘n meisie wat weet hoe om haar eie lightbulbs te ruil…en steeds. Lewe nadat die manlike geslag jou spasie binnegedring het is net nooit weer dieselfde nie. Hier is ‘n paar dinge wat universeel is tot mans- altans tot my drie: Continue Reading…

Daai versie iewers in die Bybel

21st September 2012

Vandag was een van daai dae. Jy weet een van daai waar jy so teen vroeg oggend al besef jy moes dalk liewer in die bed gebly het. Die krag was af toe jy opstaan, want jy’t vergeet om te koop, dus was die badwater koud en kon jy nie jou hare droogblaas nie! Maar jy wroeg maar deur die dag en hou daai horlosie fyn dop terwyl jou rekenaar skielik swart word en ‘n onaardse lawaai begin maak. Dit nadat jy hom gerestart het, want die printer het hom laat vries. Die printer is nou ook staan, met ‘n papier wat half in half uit vassit! Selfoon is natuurlik af, want met die die dat die krag af was het hy nooit gelaai nie…maar nou ja. Die lig aan die einde van die tonnel is…huistoegaantyd en daai versie iewers in die Bybel van God wat nooit jou las swaarder sal maak as wat jy kan dra nie…

Net gou die kinders optel by ouma. ” Hallo my kind. Ag voor jy loop kom help my net gou-gou met iets op my rekenaar toe. ” Dis toe nie gou-gou nie, want met die dat sy eers self probeer het, het ma so half die rekenaar net voor breek se draai gaan draai. Ek wil eintlik noem dat ek heeldag voor my eie (stukkende) rekenaar sit en eintlik glad nie nou lus nie, maar sy het my immers gebaar, ek is lief vir haar en ek sluk dus maar my woorde, want ek onthou daai versie iewers in die Bybel van eer jou vader en jou moeder…

Soos wat ek nader aan my hek kom, sien ek al die silhoeëtte van Elizabeth wat staan en wag. Ek stop maar want dit sal sekerlik ongeskik wees om verby te ry en te maak of ek haar nie sien nie, maar ek weet al: “Ag Yolandé, ek het nou my taxi gemis, kan Yolandé my nie maar gou Thembalethu toe vat nie?”  Weereens is die gou alles behalwe gou. En die kinders kerm, want eintlik was hulle nou reg om huis toe te gaan, nie reg vir ‘n trippie Thembalethu toe nie. Ek wil eintlik sê dat sy regtig moet ophou om haar taxigeld te gebruik vir ander goed as die taxi en dat sy my sommer al die oggend moet sê as sy beplan om haar taxi per ongeluk te mis, maar ek sê: “Ag shame man, klim in dan vat ek jou gou…” want ek onthou daai versie iewers in die Bybel van hoe jy jou naaste moet liefhê soos jouself…

Uiteindelik so skraps voor skemer, stop ek by die huis en is net reg om op die bank neer te val. Maar my oudste se geween red my gelukkig van daai gedagte. “Uhuh mamma. Jy het gesê ons kan playstation speel as ons by die huis kom!” (‘n omkoop belofte sodat die gekerm in die kar net kon ophou!!) Weer is dit nie net van aansit en speel nie. Met die dat die krag af was, het ek geen idee hoe om al die thingymegafters wat aan die tv sisteem gekoppel is te laat werk nie. Nadat ek elke knoppie aan en af gesit het, elke draad in en uit getrek het, die kas ‘n keer of wat geskop het (ter inligting:dit werk nie! nie eers as jy ‘n lelike woord saam mompel nie!!) is ek reg om te gil: “Ek is moeg en kwaai en geïrriteerd, ek wens die verdekselse playstation wil gesteel raak!” maar ek sê: “Pappa is nou hier dan kan hy help en dan speel ons almal lekker”, want ek onthou my pa sê altyd iets van ‘n versie iewers in die Bybel van ouers wat nie hulle kinders moet vertoorn nie… (ek is nie seker wat vertoorn beteken nie, maar ek dink as jy op jou kinders gil is dit redelik vertoorngeid)

Gepraat van pappa. So terwyl ek nog die kas se deur probeer reg trek van die skoppery, kom hy by die deur in: “Wat eet ons vanaand?” ek probeer hard aan ‘n versie in die Bybel dink. Daar kom nie een op nie. Ek sê niks en verskoon myself om gou te gaan pieps. In die toilet is daar nie rekenaars, bediendes, kinders, mans of enige ander plae nie. lank nadat my ergste nood verlig is, staan ek nog nie op nie. En terwyl ek daar salig om my troon sit en rus, onthou ek die versie iewers in die Bybel wat vertel van die waters waar rus is…