Browsing Category

BLOG

Geel is nie net ‘n kleur nie

10th May 2021

Ek het begin klavier speel toe ek vier jaar oud was en het dus al ‘n hele klompie pryse, vermeldings en graderings agter my naam op die musiekfront. In verskillende instrumente – as ek bietjie mag spog. En dit het gebeur met relatief min inspanning. As jy so bietjie talent het en net-net harder oefen as die ou langs jou is sukses en pryse verseker. Ek het egter nog nooit ooit ooit ooit enige toekennings of erkennings gekry vir sport nie. Nada niks.

Behalwe dalk daai keer toe ek per abuis ‘n brons medalje gewen het in 80m hekkies…

Dis nie dat ek nie probeer het nie. My ouers was albei onderwysers. Ek het dus redelik baie tyd saam met hulle by buitemuurse aktiwiteite spandeer. Veral saam met my pa.

Mansonderwysers se hooftaak in daardie jare was om sport af te rig, en my pa het dit baie ernstig opgeneem. Hy het elke sport denkbaar afgerig. Met entoesiasme en toewyding. En as ‘n resultaat was ek vriendelik verplig om aan elke sportsoort wat hy afgerig het deel te neem. (Behalwe met rugby en krieket. Daar het ek slegs grondjies gaan gooi vir pale toe skop en telling gehou van die paviljoen af.) Ek het naderhand ophou tel hoeveel keer ek langs sportvelde opgegooi het van onfiksgeit. Weet jy hoe vêr moet mens hardloop vir landloop oefeninge?

Die liewe Vader het my nou maar een maal nie geseën met sporttalent nie en ek kan met oorgawe oorvertel dat ek bogemiddeld sleg in al die verskillende sporte was en vandag steeds is. Ek was wel egter in my laerskooldae getrou by elke oefening van elke sport wat my pa afgerig het, so ek was natuurlik outomaties die reserwe vir al die verskillende spanne en sporte. Daar is nooit werklik op my reserwe-knoppie gedruk nie – tot een jaar. Iewers in die laat tagtigs.

Secunda het ‘n splinternuwe sport stadion gebou. Met tartan en alles. Om bietjie daarmee te spog het hulle ingestem om die Interlaer daardie jaar by die stadion aan te bied.

Nou kyk, Interlaer was daai jare ‘n baie fancy affêre. Elke Hoëveld skool het voltallig saamgetrek by die bussevol. As jy nie deelgeneem het nie, het jy in vol skooldrag op die paviljoen gesit en aanmoedig en sing. Jy het slegs geroer as jy ‘n worsbroodjie wou gaan koop. Of dalk ‘n klompie ysies. (Jy kon iets soos ses ysies vir een rand kry!)

As jy deelgeneem het, was jy netjies in jou sportklere saam op die paviljoen. Dan as hulle jou kom roep oor die megafoon het jy flink na jou pos toe gedraf, deelgeneem en jou daarna weer gaan sitmaak tussen die ander maats van jou skool. Ons het gejamblikke-visblikke en gemango-mango dat die Secunda kranse antwoord gee. En elke hardloop item is aangemoedig met ‘n “hou bene hou, hou bene hou…”

Die spesifieke jaar, iewers in die laat tagtigs sit ek dus ewe paraat op die paviljoen. In my sportklere, want ek is reserwe vir die atletiekspan. Nie vir enige spesifieke item nie- sommer vir alles. Van hoogspring tot vêrspring tot 1200m. In vyf, ses of sewe jaar van reserwe wees is my dienste nog nooit ingeroep nie, maar die minste wat ek kan doen is om gereed te lyk.

En toe tref die noodlot. Nie vir my nie, maar vir Sirkien Nieuwoudt. Ons ster-kortafstand atleet. Tydens een van haar miljoene items skeur sy ‘n hamstring. Of een of ander ander belangrike spier. Of dalk was dit net gekneus. Hoe dit ook al sy, sy is uit vir die 80m hekkies en ek moet instaan as reserwe.

Ek het in my lewe nog nie een tree op tartan gehardloop nie, maar almal wat die dag al deelgeneem het sê ek kan nie kaalvoet hardloop nie. En soos ‘n goeie kleindorpse meisie betaam het ek nie eers oorweeg om daardie dag tekkies aan te trek nie. Nee, sê Martin Delport, ons langafstand-ster. Jy het nie tekkies nodig nie- draai net jou voetballe toe met pleister. So gesê so gelaat staan.

Met my voete leweloos vasgedraai in pleister maak ek my weg 80m lyn toe. Die laaste bietjie boereworsrol tamatiesous druppels nog nie eers droog op my ken nie.

En net toe gaan die sluise van die hemel oop soos dit net kan gebeur in die Hoëveld! Ons almal storm paviljoen toe vir skuiling.

Nou kyk deesdae is daar menere en juffrouens met donderweer metertjies wat besluit of die atletiekdag aangaan of verby is. Daai dae het jy egter bloot die storm uitgewag. Daar was nie geld en tyd om meer as een Interlaer te hou nie. So, toe die reën in ‘n ligte kieza begin val, kondig die megafoon-meneer aan dat die hekkiesatlete maar kan nader staan. Teen die tyd is my pleisters al sopnat, maar daar is nie nou tyd vir nuwes nie. Ten minste blyk dit toe later dat nat pleister lekker grip op tartan.

Die hele Laerskool Pionier sien uit na die item, want dis een wat Sirkien loshande gaan wen. En daar is niks wat ‘n skoolskare so opjack soos ‘n definitiewe medalje nie. Op julle merke gereed gaan. Met die reën wat nog liggies neersak. Die Pioniere besef gou dat die geel hempie met die tamatiesousvlekke nie Sirkien is nie, want ek is so vêr agter die bondel dat mens my amper mis. Ek moet letterlik in my voetspore stop om oor elke hekkie te klim. (Voor daardie dag het ek nog nooit oor ‘n hekkie probeer spring nie. Veral nie al hardlopende nie.)

En toe gebeur ‘n bizarre ding. Die meisies voor my begin neerslaan soos nat lomp perde. Niemand was gereed vir die nat tartan nie – dis seepglad. As jy op gras val staan jy dalk op, maar met tartan is dit so bietjie seerder, so die vallendes bly lê. Naderhand is daar net nog twee atlete voor my oor wat hardloop. Nou ook bietjie stadiger en versigtiger. En Pionier begin te skree. “Hou bene hou! Hou bene hou!” want sien- ek hoef net klaar te maak om daai medalje te kry. In die stadigste tyd ooit aangeteken maak ek die 80m hekkies nat, trots en in derde plek klaar. Die aanmoedigers bars uit hulle nate.

Toe die medaljes later oorhandig word hoor ek so in my euforie: “Gee my ‘n Y.”  En die skare skree Y. “Gee my ‘n O” en die skare skree O. “Gee my ‘n L” en die skare skree L. En so hou dit aan tot my naam klaar gespel is en die brons medalje om my nek hang. ‘n Oomblik vasgebrand in my brein.

En tot en met laas Donderdagaand was daai brons medalje my enigste trotse sport oomblik. Laas Donderdag gebeur die ongewone egter.

Ek verdien my geelbelt in Jiu-Jitsu.

Nou vir baie van julle klink dit dalk nie na veel nie. En dis jou voorreg. Maar laat ek jou vertel- dit is die eerste keer in my lewe dat ek regtig hard moes werk en probeer (geestelik en fisies!) om reg te kom met iets so vêr uit my verwysingsraamwerk.

En dit vat so bietjie ballas van ‘n middeljarige tannie soos ek. Al moet ek dit nou self sê. En ek is seker ek is nie die beste geelbelt wat gradeer het in my klas nie. Inteendeel is ek redelik seker ek is die minste beste. Maar soos my man altyd sê as die Stormers wen ten spyte van ‘n slegte game– ‘n wen is ‘n wen. Maak nie saak hoe ek daai lys gemaak het nie- gemaak het ek hom gemaak. Met pyne en bloukolle en seer skouers en artritis vingers en twyfel in my hart het ek daai lys van geelbelde gemaak. Baie Deep Heat en stink Dr Lee salf later. En ek dink ek was laas in die laat tagtigs so trots op myself.

Want in die geval is geel meer as net ‘n kleur van ‘n belt. Dit verteenwoordig iets magies. Dit dien as ‘n bewys dat ek brawer is as wat ek gedink het. Ek het nie net fisies ‘n paar spoggerige bewegings geleer en soort van onder die knie gekry nie- ek het gegroei en ‘n vlakkie of wat geklim as mens. Jiu-Jitsu was tot 6 maande gelede nie eers ‘n woord in my woordeskat nie, en nou is dit amper deel van my soos asem haal. En ek hoop ek kan dit doen tot ek eendag omval van oudgeit.

My korttermyn plan met Jiu-Jitsu is net om lewendig te bly. My middeltermyn plan is om dit sonder ernstige beserings reg te kry. My langtermynplan (vir nou) is om by my bloubelt uit te kom. Vir dit gaan ek dalk nog so bietjie meer self-aanmoediging kort want dis nog ‘n hele paar belde weg en kan dalk ‘n paar jare vat. Vir nou is my enigste woorde van aanmoediging aan myself egter: “Hou bene hou! Hou bene hou!”

Daai hekkies storie laat my weer dink aan een van my gunsteling aanhaling wat baie relevant is vir my Jiu-Jitsu wedloop.

“It’s not who’s good, but who’s left” ~ Chris Haueter.

Vir nou is geel genoeg. Want dis hoe ons middeljariges rol. Klein versigtige treetjies.

*Volledige vrywaring: Die brons medalje storie kan dalk effe aangedik wees en ek mag dalk die jaar, party atlete se name en ‘n paar ander feite verkeerd onthou. Maar dis hoofsaaklik gegrond op die waarheid. Njannies ek belowe.

 

Wie’s baas en wie’s die brein?

31st March 2021

Dit is werklik fantasties om ek te wees. Daar is nie iets of iemand op hierdie aarde wat my so amuseer soos wat ek myself amuseer nie. Daar is ook nie iets soos ‘n gewone dag as jy in my kop bly nie. Elke dag is gevul met duisende oomblikke en elkeen van daai oomblikke het die potensiaal om te ontaard in iets wonderliks in. Vandag is ‘n skitterende voorbeeld. Sonder dat ek gesoek het daarvoor, het die lewe my ‘n besonderse les geleer. Oor myself. En oor menswees.  En dit het nie ‘n groot gebeurlikheid gevat nie. Dit was sommer ietsie kleins.

Inkopies is nie regtig my ding nie, en inkopiesentrums nog minder. (Bwahaha- hoor ek #PappaStruis lag!) Nee, maar regtig. Tog is dit soms noodsaaklik, so vanoggend bevind ek myself dus in die gange van ‘n bekende-naam inkopiesentrum hier in Gauteng.

Terwyl ek redelik doelbewus drentel na waar ek wil wees, voel ek ‘n tik op my skouer. Dis ‘n netjiese man wat my vra vir ‘n paar rand. Hy wil darem net ‘n brood of so kan koop.

Slegste weergawe van die storie is dat hy my aandag wil aftrek en my beursie wil gaps sonder dat ek agterkom. Beste weergawe van die storie is dat hy regtig honger is en hoop dat ek vir hom ‘n paar sente het. Ek is so bietjie op my hoede, maar ek voel egter nie regtig in gevaar nie. Vandat Covid sy kop uitgesteek het is ek ook nie meer in die gewoonte om kontant in my beursie rond te dra nie, so ek wys die man se gawe aanbod om my van my kontant te verlos hoflik van die hand.

Die man is gelukkig toe ook nie te opdringerig nie en met sy volgende teiken klaar in sy visier maak hy hom redelik vinnig uit die voete. Dis eers toe hy weg is dat ek besef wat gebeur het. Sonder enige rede het ek my voete so geskuif dat my basis op sy sterkste is. Ek het my lyf so gedraai dat ek die man reguit in die oë kyk. En onbewustelik het ek my sleutel wat in my hand was so gedraai dat dit outomaties kan dien as ‘n wapen sou die geleentheid hom voordoen. Instinktief het my brein alles wat ek dit die laaste maande gevoer het in Krav Maga klas, uiteindelik net onthou, verstaan en gedoen. Daar staan ek. In my gereedheid-staanposisie met ‘n ‘wapen’ in my hand, soos ‘n goeie kryger meisie betaam. Bietjie verspot toe ek daaraan dink. Ek glimlag egter, want selfs deur die belaglikheid daarvan, is ek so bietjie trots op myself.

Of ek myself sinvol sou kon verdedig sou die man ‘n boef wees kan ek nie met sekerheid sê nie, maar ten minste weet ek nou my brein is nie heeltemal so breindood soos wat ek gedink het dit is nie. (My laaste Krav Maga klas was vir my besonders teleurstellend- dit het by tye vir my gevoel asof ek die eenvoudigste goed net nooit ooit onder die knie gaan kry nie.)

Terug oppad huis toe, nog steeds baie ingenome met myself, begin ek te dink oor die fenomeen wat pas hier afgespeel het.  Ek besef skielik weer; ons breine is wonderlike goed. En ons het die mag om ons breine te vertel wie en wat ons wil wees. Dis bietjie soos ‘n rekenaar. Dit wat jy insit, is wat jy uitkry.

‘n Vriendin van my vertel noudiedag, dat sy en ‘n ander vriendin sit en spekuleer het oor hoekom ek altyd so gelukkig is. Hulle kon dit egter net nie verklaar nie. (Ek vra liewer nie hoe hulle op daai gesprek gekom het nie!) My geheim is eintlik eenvoudig. As ek elke dag vir myself vertel hoe gelukkig ek is, dan glo my brein dit naderhand. En as my brein dit eers glo is my kop deur, want dan word ek presies dit wat ek glo. (Ek praat uit ‘n plek van voorreg. Daar is natuurlik omstandighede waaruit nie die positiefste brein homself kan bedink nie!)

Kry ek donker dae en tye waar dit nie altyd heeltemal so goed werk nie. Natuurlik. Almal doen. Maar dan probeer ek bloot harder. (Verstaan egter ook dat ek nie lig maak van depressie nie. Depressie is ‘n siekte en jy kan dit nie bloot met ‘n goeie houding afskud nie. As jy werklik aan depressie lei, kry professionele hulp. Dit is al wat help!)

Ek bel noudiedag sommer so in die middel van die dag my man en vra: ‘Is dit astrant as mens trots op jouself is? Trots op die mens wie jy is?’

‘Nee’ sê hy ‘jy kan maar trots wees want jy is awesome.’

Hy moet dit sê, want hy’s my man en hoe meer hy dit vir my sê hoe meer byvoordele is daar natuurlik vir hom.

‘Maar net vir interessantheid, hoekom is jy spesifiek vandag awesome?’ waag hy om te vra.

Vyf jaar terug het #PappaStruis my gevra om die Kaap agter te laat en gevra of ek hom ‘n jaar sal gee in Gauteng. Ek is ‘n goeierige vrou, so ek het ja gesê. Ek sou hom ‘n jaar gee, maar hy beter nie van my verwag om daarvan te hou nie. Die jaar het egter vyf geword. En tot en met Desember 2020 het ek elke oomblik daarvan gehaat. Want dis wat ek elke dag vir my kop vertel het. Ek haat Gauteng. Iewers tydens Covid-Kersfees het ek egter ‘n waarmaak oomblik gehad. Ek het besef dat ek iets gaan moet doen aan myself, want die vyf jaar gaan waarskynlik tien word. Dalk selfs vir ewig. Dis maar hoe die lewe loop.

Ek het toe begin dink oor my lewe. Al my voorregte. My fantastiese (gesonde!) gesin. Hoe gelukkig ek is. Ek het ook skielik besef dat vandat ek in Gauteng bly, ek as mens soveel gegroei het. My lewe in die Kaap het hoofsaaklik bestaan uit werk, kinderoppasser wat my kinders in die middae rondkarwei en tutors om aan al die ander behoeftes te voorsien. Ek het niks gekort nie, maar as ek nou daaraan terugdink het ek dalk net nie geweet wat ek kort nie. Dit was ‘n goeie lewe, maar een waar ons soms ons koppe in gate gedruk het om die regte lewe uit te skakel.

My lewe vandag is een waar my seuns nou tuisskool kindertjies is, met geen katastrofiese gevolge nie. Inteendeel. Hulle blom. En ek is mal oor die feit dat ons daarvan hou om al die ekstra tyd bymekaar te spandeer. Ek werk vir twee verskillende liefdadighede. Een ad hoc en een semi-permanent. Selfs sonder betaling is dit die lekkerste en bevredigendste werk wat ek nog ooit gedoen het. Ek beoefen vir die eerste keer in baie jare ‘n sport wat my bemagtig en gesond hou. ‘n Sport waarvan ek besonder baie hou. Die gevolg is dat ek gesonder eet, ophou drink het, en aansienlik fikser is. Die dopamien wat saam met die oefen kom is natuurlik ‘n vet bonus. Ek spandeer skielik tyd aan myself. Ek is aansienlik minder gestres, lewe doelbewus stadiger en is skielik meer bewus van die wêreld om my.

(Ek WEET en BESEF ek is besonder bevoorreg om die keuse te kan hê om al hierdie goed te kan doen en wees. Daar is so baie mense wat bloot net water trap en hoop hulle maak dit lewendig uit. Baie mense met geen opsies nie. Ek is elke dag dankbaar vir my voorregte. Bitter bitter dankbaar.)

Ek kyk vandag na myself en hou aansienlik meer van die Gauteng weergawe van myself as van die Kaap weergawe van myself.

My antwoord vir my man was egter baie korter want hy’s so bietjie aandagafleibaar en kan en wil nie altyd na my lang verduidelikings luister nie. “Ek dink vir die eerste keer vandag Gauteng is dalk okay. Dit het selfs dalk so bietjie onder my vel ingekruip. Ek wil nie vir ewig hier bly nie, maar ek sal as ek moet en dit sal nie afskuwelik wees nie. Ek is trots op myself want ek het dit gedoen. My brein oortuig dat Gauteng okay is.”

My brein is baie dinge. Bietjie verroes. Soms stadig om te snap. Soms neig dit om verlore te raak in die regterlob. Soms is al die torre nie op hulle fietsies daarbinne nie. Maar ten minste is my brein nooit verveeld nie. En soos ‘n goeie getroue brein betaam, stel die ou ding my net nooit teleur nie. Inteendeel. Soms verbaas my brein my uit my sokkies uit. En dan is ek so bietjie trots op myself en my brein.

#Oopkoppemelaaites

13th March 2021

Klompie jare gelede bly ons in Bloubergstrand. Ek en #PappaStruis sit smiddae net so voor die son begin sak op ons voordeurtrap en drink bier en kyk en lag hardop vir die mal drawwers wat in hulle hordes die parkeerarea van Blouberg se strand vol draf.

Die mal ding was nie noodwendig die draf nie. Die mal ding was, maak nie saak die weer nie, draf het hulle gedraf. Sommige mammas het met hulle nuutgebore babas in stootwaentjies gedraf. ‘n Reëndag het slegs beteken dat daar ‘n plastiekbedekking oor die stootwaentjie getrek word vir die drawwery. En met reëndag bedoel ek emmers water wat neerstort uit die Kaapse hemele saam met stormwinde wat tornado’s sal skaam maak. Tot bitter onlangs kon ek nooit die fenomeen begryp nie. Maar toe kry ek per abuis #Oopkoppemelaaites en my lewe verander handomkeer.

Ek het reeds in ‘n vorige skrywe vertel hoe ek met ‘n bietjie hulp van die heelal Krav Maga ontdek het. ‘n Latere skryfstukkie vertel hoe ek toe vir een of ander rede ook Jiu-Jitsu begin aanpak het. Letterlik elke persoon wat my ken wonder hoe op aarde dit gebeur het dat ek myself na iets so ‘gewelddadig’ gewend het. Ek is immers meer ‘n ou vir vrede liefde en welbehae?  Ek verwys dus graag na my selfgemaakte woord van vroeër. #Oopkoppemelaaites het gebeur. En toe ek weer kyk doen en Ninjaklas in die reën.

Tot #MossadMan se bittere verdriet vermeerder ek ook my Ninjaklasse na drie per week toe. (Daar is ses of sewe klasse ‘n week en elke keer as #MossadMan videos van die ander drie of vier klasse wat ek nie bywoon nie op Instagram pos, is ek so intens jaloers dat ek nie daar is om te leer wat hulle leer nie, dat ek wil mal word!)

(Jammer ek doen nie voetnotas nie. Wie wil nou afgaan na die voet en dan weer opkom na die lyf om te soek na waar jy laas gelees het. Dus skribbel ek sommer lyfnotas. #MossadMan. Kort storie lank. Ons sit in Lizzie se kombuis. Jak vertel haar ek doen Krav Maga. Sy sê al wat sy aan kan dink as sy Krav Maga hoor is Mossad. Wat natuurlik die ouens is wat Krav Maga so bietjie van ‘n sterstatus gegee het. Ek en my vriende en familie verwys dus van toe af graag met baie deernis na die brawe man wat my ‘n vreemde gevegskuns probeer leer as #MossadMan. Met sy regte lewe baie Afrikaanse boerenaam glo ek egter regtig nie dat daar ‘n kans in hierdie wêreld is dat #MossadMan enigsins betrokke is by Mossad nie. Sy grootste talent, het ek ook uitgevind, is nie sy vaardigheid met verskillende gevegskunste nie, maar eerder sy geduld met mense soos ek.)

#MossadMan noem my entoesiasties. Ons almal wat al ooit vir iemand anders iets probeer leer het, weet egter entoesiasties is net kodewoord vir ‘ag shame darem probeer jy.’

 Ek beplan egter om baie entoesiasties daai entoesiasme-plakker op my voorkop te verloor. Ek is eerste om te erken dat dit baie stadig gaan. Veral as jy soos ek aan #waardehelismylinkerarmelaaites lei. Maar daar is ‘n storie van stadig maar seker en skilpad en een of ander beker. Ek is daai een. As my brein en my lyf net eers kliek. Dan né. Dan.

Almal in my Ninjaklas doen dit, glo ek, natuurlik vir verskillende redes. My Jiu-Jitsu klas bestaan tans uit die twee #PeanutNinjas. Ek dink hulle is albei nie net sportief en geniet die oefening nie, maar is ook daar om hulleself te bemagtig. In ‘n plek soos Gauteng is geen jong meisietjie meer veilig om die strate alleen te verken nie. En glo my- hulle is al redelik bo-gemiddeld bemagtig.

Dan is daar drie jong knape. Ek dink hulle is dalk nog te jonk om te weet hoekom hulle daar is. Dalk MMA drome? Dalk sommer net omdat alle manne hou van die idee om ‘n geveg te wen sou die geleentheid hom voordoen.

Dan het ons #BonnyEnClyde. In hulle filmweergawe wat ek graag in my kop speel, kan ek glo dat hulle op roadtrips kan gaan en amok saai in elke bar van hier tot in de Aar. In die regte lewe is hulle waarskynlik net ‘n baie sweet paartjie wat wil leer hoe om hulleself te kan verdedig teen al die skelms in Gauteng.

Op ons Krav Maga en Jiu-Jitsu WhatsApp groepies (ek weet!) is daar gereeld videos wat die rondte doen van MMA gevegte en gewone landsburgers wat hulle man kan staan teen boelies omdat hulle weet hoe.

My gunsteling videos is egter die videos van die Jiu-Jitsu meesters wat beeldskoon en sonder enige inspanning hulle lywe en die lywe van hulle opponent gebruik om posisies en magsposisies te manipuleer. Soos ‘n intense en passievolle dans. (YouTube is soos ‘n goeie minnaar. Vinnig om aan te pas by die nuwe ek. In die ou dae was sy voorstelle koorwerke en gratis musiekblyspele. Deesdae stel hy graag eerder ‘n variasie van gevegskunste voor. Enige iets van straatgevegte tot Capoeira).

Maar terug by Jiu-Jitsu. Die skoonheid van die skoppe en gooie en blokke en vaspenne en ontsnappings uit bogenoemde situasies maak my kinderlik opgewonde. Ek wil elke liewe beweging leer. En daar is baie! (En almal het een of ander Japanese naam wat ek vir die lewe van my nie kan onthou nie. Gits- sommige dae kan ek skaars my naam onthou!)

Dit vat meesters letterlik dekades om die bewegings te verfyn en te bemeester. Ek reken as alles goed gaan, het ek darem nog ‘n paar dekades oor. So dalk kom ek iewers in die volgende twintig jaar waar ek darem genoeg weet om bevredigend die kuns te beoefen.

Krav Maga is natuurlik ook steeds vir my baie bemagtigend. Daarom dat ek ook daarmee aanhou saam met die Jiu-Jitsu. Die feit dat dit my sterker en straatslimmer maak is nie verlore op my nie. #MossadMan verduidelik gereeld dat ons die verskil moet ken tussen ‘n dronk oom wat jy net wil beheer en nie noodwendig wil seermaak nie en ‘n huisrower wat jou lewe in gevaar stel en teen wie jy jouself op so manier wil verdedig dat jy kans het om weg te kom. En ek gaan nie jok nie. Ek wens soms ek het ‘n dronk oom gehad wat ek op sy alie kan neersit, net om sy gesig te kan sien nadat ‘n meisie hom ore aangesit het! Maar helaas gedra al my ooms hulle goed!

#Oopkoppemelaaites het my egter laat besef dat ek besonder baie van die dissipline van Jiu-Jitsu hou. As mens so bietjie van ‘n strooibrein-kunstenaar soos ek is, is dissipline nie hoog op jou lys nie. Mens lei maar so half jou lewe soos die inspirasie en kreatiwiteit jou lei.

Die #PeanutNinjas wat my week vir week opfoeter het my egter laat besef dat ek sal moet fikser word en my koördinasieprobleem sal moet begin aanspreek in my eie tyd. En as jy regtig ‘n probleem wil oplos, is dissipline soms net so goeie manier om dit te doen as kreatiwiteit. Deesdae is nuwelinge #BonnieEnClyde se #Bonnie egter my gevegsmaat en ek vind dat my lyf baie minder mishandeling beleef. (Sy noem my egter tannie- wat my so bietjie breek.) Sy is ongelukkig ook ‘n vinnige leerder en ek vermoed dat sy my een van die dae waarskynlik gaan begin verniel. So ek bly by my plan!

Ek het altyd gesê as jy my sien hardloop, moet jy weet die zombies is uiteindelik op ons. Maar deesdae is ek fluks op my stapmeul. Ek doen my veertig minute ‘n dag. Elke dag! (Die nuwe dissipline het my Apple Music Toep egter verwar in ‘n toestand van wanhoop in.)

Ek het gevind dat ek myself slegs met baie aggressiewe musiek kan motiveer tot oefening. So daar is baie Eminem en hard rock en Filippynse gevegsmusiek op die nuwe speellys. Die taalgebruik en lirieke is twyfelagtig, maar die doel heilig die middel. Apple wil graag my gewone Folk, Singer Songwriter gunstelinge voorstel op my voorstelle, maar nou is daar ook rap en rock allerhande ander vreemde Filippynse transmusiek wat hy moet oorweeg! Die arme ding!) In alle eerlikheid moet ek ook erken- ek laaik die nuwe musiekvoorstelle baie meer as wat ek ooit hardop sal erken!

Ek spandeer ook deesdae 10 minute ‘n dag aan my bokssak (jip ek het ‘n bokssak!) en oefen flink my gewigte om my skouers sterker te maak vir nog so 10 minute (ek sukkel egter nog so bietjie om te weet waar my skouers is elke keer as ek ‘n Boheemse ninjarol moet doen).

Kersie op die koek oefen ek fluks aan my ninjarolle, valle en opstane. Ek vermoed die bure dink dalk daar is bietjie fout met my want ek het ook onlangs Capoeira ontdek. Met my Bluetooth oorfone op, stomping-pyp in die hand om ‘n wapen te simuleer en baie entoesiasme werk ek ook daagliks in my agtertuin aan my koördinasieprobleem met die hulp van Capoeira. Ek is nie baie goed daarmee nie, so ek vermoed ek lyk so bietjie soos daai Silent Sunrise weirdos. Hierdie vat so uur of dalk bietjie meer uit my dag uit en klink dalk vir al die #oefenapies daar buite na min in vergelyking met die tyd wat hulle aan hulle sporte spandeer. Maar glo my. In die weird, wonderful world of Yollie, this sh*t is real. As real as it gets!

Twee jaar terug was daar geen kans dat ek ooit iets soos Jiu-Jitsu of Krav Maga eers sou probeer het nie. Dalk het my middeljarekrisis dit veroorsaak. Dalk het die jaar van Covid my laat besef dat die lewe kort en vlietend is. Wat dit ook al was. #Oopkoppemelaaites het my lewe verander. Ek voel beter as ooit. (Dankie dopamien!) Ek is kreatiewer as ooit. Daar is daagliks ‘n algemene gevoel van opgewondenheid wat nie wil wyk nie. Ek eet onbewustelik gesonder. Drink minder. (Die minder drink het dalk meer te doen met problematiese hormone en artritis. Die Invloed wat ‘n glas wyn op hittegloede en gewrigte het kom in vlakke van hel!)

My les dus. As jy jou lewe lank al na dieselfde goed toe hardloop vir ontvlugting soos ek- stop en haal asem. Probeer iets nuuts. Iets wat jy nooit gedink het jy ooit gaan doen nie. Iets wat jou brein rek. Iets buite jou verwysingsraamwerk. Dalk verander dit jou lewe. Dalk vind jy uiteindelik iets wat jy in die reën sal doen. Dit hoef nie noodwendig Ninjaklasse te wees nie. Maar verkieslik moet dit iets wees wat jou hart vinniger laat klop. Jou die gevoel gee van iets tussen hoogtevrees, verhoogvrees en voorgevoel. Iets waaroor jy so bietjie obsessief oor kan word. Want die lewe is waaragtig te kort vir gemiddeld voel.

Vriende wat soos huis voel

17th February 2021

Die naweek wat verby is vlieg ek saam met my #Grootprins af Kaap toe vir twee van sy maats se sestiende verjaarsdae. Dit klink dalk soos uitermatige bederf, maar soms as ouer moet ‘n ou ja sê vir jou kinders. Maak nie saak wat die vraag is nie. Deel van my ja was om vir #Grootprins ‘n lewensles op die hart te probeer druk oor vriendskap. Hy en sy kamerade het my egter ‘n ding of twee geleer oor wat vriendskap werklik is. As ouer was dit vir my die mooiste ding om te aanskou in ‘n lang-lang tyd.

#Grootprins se vriendekring vanuit die Kaap bestaan uit ‘n baie interessante viermanskap. Otter, Otter se broer (deel van ‘n drieling!) Norman, Joshie (wat lankal seker nie meer ‘n ie moet bykry nie, maar in my hart gaan dit seker maar vir altyd bly) en #Grootprins.

Die vier van hulle kom al saam van graad een af. Ek sit en bekyk hulle so van die kantlyn af. Hoe goed hulle mekaar ken en verstaan. Hulle deernis vir mekaar. Hulle liefde vir mekaar. Ek kyk bietjie tranerig na #Grootprins en besef; hierdie drie makkers is sy huis. Die plek waar hy rus vir sy voete vind. Waar hy sy laste kan aflaai. Waar hy tuis is en sal sal wees tot die dood hulle eendag skei. En hoe kosbaar is dit nie?

Elke mens behoort dit te hê. Dawid en Jonathan het dit gehad. Cheech en Chong het dit gehad. Thelma en Louise het dit gehad. Daai vriendskap wat die toets van tyd deurstaan, maak nie saak wat oor mens se pad kom nie.

Die lewe los ons met baie kennisse. Mens kan hulle dalk selfs vriende noem. As jy soos ek in drie skole en twee universiteite was, in tientalle kore gesing het en in omtrent sewe dorpe gebly het is dit onafwendbaar. Mense wie se Facebook posts jy like en op wie se Instagram fotos jy kommentaar lewer.

Maar vriende wat huis is? Hulle kan ek op een hand tel. Daai vriende wat jou op jou beste en op jou slegste onvoorwaardelik liefhet. Daai wie jy eerste bel met goeie nuus. Daai wat jy eerste vertrou met slegte nuus. En of hulle nou in Nederland, Oos London, Thabazimbi, Melkbos, Potch of Pretoria bly, hulle is altyd huis. Altyd die plek waar jou hart haarself kan wees. Jy voel of jy hulle al langer as tyd ken. En jy weet as die gode dit so bestem dat julle sal saam oud word met fantastiese stories daarmee saam. Jy sal vir hulle enige iets doen en jy weet hulle sal dieselfde vir jou doen. Selfs al sien julle mekaar net een maal elke twee jaar. Selfs al gesels julle net vier keer ‘n jaar oor die foon. Selfs al WhatsApp julle soms net vir mekaar ‘n enkel kruisie om te sê ek mis jou. En dink aan jou. Ek ag hierdie voorreg om dit te mag hê as een van die grootstes van my lewe.

En welwetende dat #Grootprins absoluut nie sy ma se lame skryfstukkies lees nie gaan ek dit in elke geval hardop sê.

Otter, Norman, Joshie en #Grootprins. Julle weet dit dalk nog nie, maar wat julle het is magies en sterker as enige krag op hierdie aarde. Eendag gaan julle (ons is hoopvol!) lewensmaats kry en die dinamika van julle vriendskap sal dan, soos die lewe maar loop, bietjie verander en aanpas. Maar mag julle nooit ooit ophou om vir mekaar huis te wees nie. Dis my lewenswens vir julle. En net soos wat ‘n ma soms moet ja sê, moet ‘n ma ook soms haar wense hardop uitspreek oor haar kroos. Amen.

 

 

 

 

Sewe dinge wat my eerste Jiu-Jitsu klas my geleer het.

5th February 2021

Iewers in my eindelose wysheid, besluit ek dat 2021 die jaar gaan wees vir buite-die-boksie dinge. Jiu-Jitsu klink na pret reg? En dit sluit lekker aan by my Krav Maga klasse wat ek laasjaar begin het. So gedink so gemaak. Nie net is ek nou uit my boksie uit nie – ek dink ek het dalk my boksie verloor iewers om nooit weer te vind nie. Laat ek jou vertel wat ek alles geleer het by my eerste Jiu-Jitsu klas.

My lyf is ten minste 20 jaar ouer as my kop. Dit wat ek dink ek kan doen en dit wat ek inderdaad kan doen is ligjare verwyder van mekaar. Volgens my man is ek egter die hardkoppigste mens wat hy ken. My kop gaan dus hierdie rondte wen. Dit gaan nie lekker wees vir my lyf nie, maar rooiwyn is ook nie lekker nie en tog wurg ons almal dit in.

Mens gaan nie so maklik dood nie. Helfte deur die klas het ek my instrukteur gevra of mens kan doodgaan van Jiu-Jitsu doen, want ek het naby aan dood gevoel. Hy het redelik oortuigend nee gesê. Ek ken die man egter nog nie so goed om hom sommer net blindelings te glo nie- so ek is nog nie seker nie- maar ek het gisteraand oorleef, so dalk is hy reg.

My ego is sterker as die res van my lyf. Wanneer ‘n meisietjie helfte jou size en ouderdom jou soos ‘n sak aartappels  oor haar skouer gooi en redelik hard op die grond neersit, wil-wil jou ego so bietjie kneus. My ego het egter geen kneuse gevat nie. Die res van my het egter heelparty kneuse opgedoen. Op ‘n stadium het meisietjie my gevra of sy my seergemaak het, want sy het iets hoor kraak. Waarop ek geantwoord het dat ou bene maar so kraak van tyd tot tyd en dat sy dit maar net kan ignoreer. Ek was egter nie seker of ek seergekry het nie, want teen toe was alle gevoel in my lyf al verlore.

Die menslike lyf het 600 spiere. Ek weet want ek het getel hoeveel spiere tans seer is aan my lyf. Dis 600. Ek het pyne waar ek nie eers geweet het ek het plekke nie.

Die beste medisyne is ‘n lekker lag of huil. Toe ek gisteraand op die bank lê en my wonde lek, besef ek skielik dat ek ‘n sport beoefen waar daar van jou verwag word om met ‘n ninja-sprong op te spring van die grond af nadat die meisietjie helfte jou size en ouderdom jou hardhandig daar geplaas het. Dit is absoluut absurd. Die woord ninja-sprong het my skielik onbedaarlik laat uitbars van die lag. Die lag het naderhand vervorm in huil. Een van daai huile waar jy wil ophou maar nie kan nie en nie regtig seker is of jy lag of huil nie. 10 minute later het ek egter baie beter gevoel. Soms is die ontlading nodig.

Jiu-Jitsu doen is so bietjie soos om in ‘n sterk rivier te swem. As jy teen die stroom aanfoeter is dit moeite en moeilik. As jy saam met die stroom beweeg is dit steeds moeite, maar makliker. Ek weet dit nou, en sodra my brein inskop gaan ek dit begin toepas. My brein sukkel egter om in te skop. Ek het meer as een maal gisteraand links gedink en dan halsstarrig regs gegaan. Ek en my brein sal diep hieroor moet bepeins as ons die dood wil aanhou vermy. (Ironies genoeg beteken die woord Jiu-Jutsu ‘gentle art.’ Jy moet egter saam met die rivier gaan om dit te verstaan. Ek is nog nie daar nie.)

Daar is diep fout met my as mens. Ek beplan om so spoedig ek weer die gebruik van al my ledemate,  spiere en bene terug het dadelik terug te gaan vir meer. Selfs al is my lyf nog nie daar nie, is my kop op ‘n fantastiese plek. Een waar ek skielik anders na die wêreld kyk. Asof ek wakker geword het uit ‘n diep slaap. Soms na 44 jaar 1 maand en 3 dae leer jy waaragtig nog nuwe dinge oor jouself. Who knew?

Die bemagtiging wat vloei uit bloed

20th November 2020

Dit gebeur nie aldag dat ek bebloed by die huis aankom nie, maar die spesifieke Donderdag gebeur dit wel. Die #Pappabeer kyk my op en af en kry een van dáái kyke in die oë.

“Wat kyk jy?” vra ek. Welwetende hoekom hy my so bekyk. Ek bedoel – ek is vol bloed en ek weet dit.

“Nee niks. Dis net nogal hot as jou vrou vir twee ure wegraak om te gaan fight en dan terugkom huis toe vol sweet en bloed.”

Ek weet nie so lekker van die hot nie, maar laat ek jou vertel, daar is iets aan ’n gevegswond wat mens aan die woord ‘emansipeer’ laat dink. ’n Vrywording. ’n Bemagtiging. Maar nou doen ek wat alle slinkse skrywers doen. Ek laat dit dalk so bietjie meer kleurvol klink as wat dit regtig is.

Dalk moet ek by die begin begin…

So, baie baie báie donkiejare terug (en die is nie skrywersoordrywing nie) word ek deel van ’n toneelgroep iewers hier aan die goeie kant van Johannesburg. Die vrou wat die toneelgroep bestuur is omtrent net ’n vuurhoutjie hoog, maar haar storie is een wat my vir ewig bybly. Sy is een Saterdag iewers in die onheilige ure tussen aand en oggend gekaap en aangerand. Nadat die verpestelinge haar met ’n mes gesteek het en haar redelik woes verniel het, kom sy steeds weg en lewe om die storie te vertel.

Haar geheim?  Krav Maga.

As mens die woord sien wil mens dit in Afrikaans lees. Maar moenie. Die eerste a is kort soos in kar. Die g is soos die ingelse hom roep –gh. En die laaste a is ’n lange. Soos in kaas bra. Krav Maghaa

Sedertdien is ek baie gefassineerd met die kuns van Krav Maga. Maar net genoeg dat ek dit nooit regtig self wou waag nie.

En toe kom Covid. En my menopause. (Dis natuurlik ’n storie op sy eie!)

My oefening van keuse was nog altyd swem, maar die swembaddens bly toe. Want Covid.

My #Grootprins het heel fluks gimnasium toe gegaan in die verlede, maar gimnasiums bly toe. Want Covid.

Ons kry dus geen oefening nie en die vrotheid pak op ons aan soos muf op ’n strandhuis kussing.

Iets moet gedoen word.

My groot ou staatmaker vriend – die Heelal- (en Google algoritmes) lei my toe heel onverwags na Krav Maga. Die res is geskiedenis.

Ek, #Grootprins en #Kleinprins durf die nuwe avontuur so saam-saam aan. En wat ’n fantastiese avontuur is dit nie. Vir my, in elk geval.

Dis ’n absolute fassinerende kuns. Elke beweging maak net vir my 100% sin, desnieteenstaande my gebrek aan koordinasie. Amper so bietjie soos ’n dans.

En in teenstelling met my openingsparagraaf is dit glad nie bloeddorstig gewelddadig nie.

Dis ’n kuns van momentum gebruik, en terselfdertyd jou eie momentum te aard sodat dit nie teen jou gebruik kan word nie. Dis die kuns om te weet wanneer en waar om aan te val. Wanneer om net weg te kom en wanneer om terug te veg. En hoe om terug te veg sonder om sterk te hoef te wees. ’n Vinnige slim besluit kan jou lewe red. (*Ek praat uit ‘n plek van absolute onkunde en uit eie ondervinding soos ek dit ervaar het tot op hede – so ek mag dalk hierdie paragraaf aanpas of verander soos die maande aanskuif en ek meer leer. Dit wat ek tans probeer bemeester, en ek gebruik die term bemeester los soos ‘n tekkieveter,  is Kapap Krav Maga. Ek vermoed dis ‘n mengsel van Krav Maga en Kapap. Tyd sal leer. Ek probeer leer soos ek groei.)

Kom ons erken dit nou maar. Ek gaan nooit ’n meester in gevegskuns word nie. Dit sit nou maar eenmaal nie in my broek nie.

Maar van die eerste les af is daar ’n bemagtiging. Iets wat in my siel gebeur het. Daai alewige vrees wat ons vrouens saamdra word elke week minder.

In die laaste klas het ek geleer hoe om ’n pistool teen my kop na ’n pistool in my hand te verander. Ek weet reg? (Dis by verre die coolste ding wat ek nog ooit gedoen het – die bloed op die hemp was ’n kneuswond wat uit die beweging gespruit het. Naaste afvee plek was my hemp. Soos ek sê – aandik maak alles so bietjie sappiger.)

Ek kan voel hoe my selfvertroue meer word. En dis nie net bravade nie – en moet ook nooit wees nie. Want ’n ou moet ook weet wanneer om nie terug te veg nie. Ek is pynlik bewus dat ek nie skielik Karate Attie is nie en dat ek my beperkinge moet ken.

Maar die gedagte dat ek beter en sterker word is iets wat ek nie kan beskryf nie. Dis of ’n binnekrag in my skielik die lig gesien het. Ek vra myself af: hoekom word die tipe selfbeskerming en bemagtiging nie vir alle dogters op skool geleer nie? Hoe anders sal die wêreld nie dan kan wees nie?

En dan is daar natuurlik my nuwe vriendin Menopause. Geduld en nerwe wat skielik dun is.

Die oplossing om die nuwe dun nerwe en kort geduld te beheer is eenvoudiger as wat ek gedink het. Dit wil blyk dat wanneer jy vir ’n uur ’n week al die slaan en skop wat in jou is kan uitveg op ‘n gesonde manier, jy aansienlik beter voel. Aansienlik! Dit voel vir my so bietjie soos 2 vlieë met een klap. Behalwe daar is omtrent drie of vier vlieë.

Vat byvoorbeeld die bonus voordeel – dat die #Pappabeer op 43 jaar en 10 maande nog dink jy’s hot

 

Krav Maga is ‘n militêre selfverdedigings- en gevegstelsel wat ontwikkel is vir die Israeliese weermag en Israeliese veiligheidsmagte, afgelei van ‘n kombinasie van tegnieke afkomstig van aikido, boks, stoei, judo en karate. Krav Maga is bekend vir sy fokus op werklike situasies en sy uiterste doeltreffendheid. ~https://en.wikipedia.org/wiki/Krav_Maga

Foto bron: Photo by Etienne Girardet on Unsplash

Kapap Krav Maga Centurion – https://goldeneagledefense.co.za/

As jy goud wen in koornerdhemel…

14th July 2018

En daar kry Amici GOUD op die Wêreldkoorspele 2018! Of soos ons liefderyk daarna verwys- die olimpiese spele van koor. (Ek noem dit ook koornerdhemel…) Nou om die impak van die prestasie te verstaan, moet jy eers ‘n tree terug  gee en Amici verstaan.

Amici het 22 jaar terug begin as #HeleneYollieRudolfRustyWion wat hoofsaaklik vir Helene se ouma by haar ouetehuis gaan sing het. En ons hoofprogramwennommer was hoofsaaklik Looking from a window above in vyf stemme. (Ons het daai parararams na nuwe hoogtes toe geneem.) Die lotjie van ons was almal studente daardie tyd, behalwe Wion. As ek reg onthou was hy nog ‘n skolie. Iewers in standerd nege, matriek rond?

So hou Helene oor die laaste twintig jaar die skapies bymekaar, en eindelik eindig Amici darem op ‘n plek waar hulle vir die laaste paar jaar elke Desember met twee of drie oefeninge agter die blad ‘n besonderse bogemiddelde kerskonsert kan aanbied, met enigeiets tussen 15 en 30 lede.  Afhangende van wie swanger is, eksamens skryf of ander belangriker dinge het om te doen. (Daar is dokters, aptekers, onderwysers, ingenieurs, boekhouers, grafiese ontwerpers…en ek)

Wat ook belangrik is om te noem, is dat jy nie ‘n oudisie hoef te slaag om in Amici te sing nie. As jy van sing hou, is jy in!  Of as Helene jou iewers hoor sing en sy jou rekruteer. En dis haar spesiale super talent- om mense te oortuig om goed te doen wat hulle nie regtig noodwendig geweet het hulle wil doen nie. Amici se leuse: Winging it since 1996! Dit alleen spreek boekdele oor die (kom ons noem dit) vaardigheidsvlak van Amici.

En toe kondig Helene laas jaar aan dat sy Amici gaan inskryf vir die Wêreldkoorspele. Nou sy vertel altyd en sê dat haar pa graag spot en sê dat haar entoesiasme haar vaardigheid soms oorskry. En ons spot altyd terug en sê…haha, dis snaaks. Want dit is in werklikheid die reine waarheid. (Dit was in elk geval tot vanoggend! #howthingshavechanged) Die vrou is ‘n beendokter for crying out loud. Gewone standaard koorleiers het grade in musiek. En kan koormusiek lees sonder om eers die spasie-lyntjienootrympies op te sê. (Okay soprane julle noot is ‘n… elke, goeie boer drink fanta…F…o nee wag ek dink daar is ‘n kruis….!!) Maar haar hart wys net een rigting. Wêreldkoorspele toe. Basta met hoe die res van die wêreld werk! En so oortuig sy meesterlik ses en dertig van ons om dit saam met haar te doen.

‘n Klompie van ons daag op vir die eerste oefening. Drie (erige) maande voor die groot optreedag. Die uitvoerende raad van Amici het alle verwagtinge oortref. Ons musiek lê gereed in hopies en wag. (Ek vermoed een of ander skool of besigheid se afrolkostes was deur die dak daardie maand.) Ek bekyk die liedere so en wonder stilletjies of Helene dalk ‘n breintumor het. Geen kans dat die groepie hier om my dié liedere op wêreldstandaard gaan sing in drie maande nie! Ons wroeg deur die oefeninge. Elke Maandagaand tussen 18h30 en 20h30 sit ons soos weeskinders en wag vir die wonderwerk oomblik om te kom. Maar dis moeilik, want in drie volle maande kry ons dit nie reg om die volle ses en dertig Amici’s in een gebou te versamel nie.

Oefeninge verloop soos volg. Ons almal kom laat. Behalwe Magriet en Catrien. Hulle is altyd daar en vroeg. Dan is dit eers ‘n gedrukkery en gesoenery. Magriet bring eenkeer Melkkos. Audrey ‘n koek met ‘n Amici logo op. Catrien soetgoed en soutgoed. So daar  moet geëet ook nog word in die twee waardevolle ure. En na eet is daar eers nog drukke en soene. En geselsies. Want ons hou van mekaar. En ons is opgecharge soos duracell hasies. Dan warm ons op. Maar dis moeilik, want so stiptelik as wat Magriet is, so moeilik is dit om haar te kry om vir vyf minute nie te klets nie. Magriet het ‘n stem soos ‘n engel, is dierbaar soos Maria, maar goeiste sy praat baie soos ‘n grammofoonplaat wat nuut opgewen is. (Eintlik nou dat ek daaraan dink het sy waarskynlik nie opwarming nodig vir haar engelstembande nie. They are always fired up and ready to go….ook om in te val as enige solo stukke per abuis wegraak, of nie opdaag nie, of nie hulle woorde ken nie. #queenofallunderstudies)

En dan is daar die koorrokke. Hulle word weekliks weer en weer en weer en weer gemeet. Terwyl ons opwarm, terwyl ons oefen, terwyl ons eet, terwyl ons druk en soen en gesels. En elke week is dit of te lank of te kort. Adrienne gee egter nie moed op nie. If all else fails gaan ons ten minste fantasties lyk op D-dag!

Dan begin ons deur die stukke gaan. Rudolf hou beat met die djembe, maar hy kan netsowel nie, want Amici het ‘n ritme van hulle eie. Dis ‘n wonderlike ritme. Een van liefde en entoesiasme en oorgawe- dis net nie noodwendig almal gelyk op dieselfde tyd nie. Helene skuif my in drie verskillende liedere na drie verskillende stempartye toe. Ek is eintlik ‘n hoë alt, maar in Amici is ek enigeiets van ‘n lae tenoor tot ‘n hoë sopraan- afhangende van hoeveel mense opdaag vir oefening en hoe senuweeagtig Helene daai spesifieke aand oor ‘n stemparty voel.

Die aand wat ons die Afrikaanse medley die eerste keer oefen, oorweeg ek om tou op te gooi. Wat het die vrou wat die ding geskryf het gedink? Dis ‘n Babelse verwarring. Ek dink nie die beste koor in die wêreld kan die stuk baasraak nie. Die tenore vat vals na nuwe hoogtes toe met die sologedeeltes. Die geskryfde ritmes kon netsowel in Chinees geskryf gewees het. Ons ignoreer dit soos ‘n rooilig in Solomon Mlangu Drive. (Ek is heel toevallig tenoor in die lied!) Maar wag. Daar is meer. ‘n Week voor ons eerste optrede besluit Helene dat die stuk ook bewegings kort. Die basse en tenore moet die tyd hou op die off-beats. Dirk neem die vorm van ‘n SAL boeing aan. Dis pragtig om te sien- ek sweer, maar teen die res van die koor is ek bang die gehoor roep dalk vir ‘n dokter om die ou met die arm spasma uit sy pyn te help. En Anton. Pragtige jong man met ‘n pragtige stem, maar so min ritme het ek nog nooit gesien nie. Daar is geen kans dat hy op die off-beat kan klap en sing tegelyk nie. GEEN. KANS. NIE. Hy staan uit soos ‘n Pepstores sweetpak in ‘n Nike winkel.

Dan is daar ons Latynse lied. Helene spring soos ‘n mak sprinkaan op en af om ons te kry om hard en sag te sing. Maar ons bly beslis op ‘n stewige mezzo-forte. Geen ff’s en pp’s vir Amici nie. Helene kry ook twee weke voor eerste optrede nuwe gehoor apparate. “O, so dis hoe julle klink!”  Ek hoop in my hart sy maak ‘n grap. Ek moet egter sê- na die nuwe ore was sy baie meer persistant oor die hard en sag. In so mate dat dit so week voor die optrede begin klink het soos ‘n regte egte koorstuk. Klein vlammetjies van hoop begin brand. Die enigste ander uitdaging met die lied is om almal te kry om hulle hande langs hulle sye te kry. Met Ineke was dit spesiaal moeilik. Sy het ‘n breiprojek aan die gang gehad. “Arms-langs-die-sye” het in haar kop ingegaan as “lus, draad, glip…en…herhaal….vir ewig….”

Soms wil my kop ontplof oor die min erns, maar dan kyk ek na Chantel. Hoe haar litte nie kan stilwees van opgewondenheid nie. En ek kom agter dat Magriet nie oor ditjies en datjies klets nie, maar oor musiek en hoe opgewonde dit haar maak. Dirk lyk dalk soos ‘n vliegtuig, maar sy passie is aansteeklik en kort voor lank, hoef hy nie af te skaal nie, want die om hom lyk nou al amper net soos hy- ‘n vloot boeings van Basse. Ek sien Yani se kinders wat lê en saamluister terwyl ons oefen. En ek onthou hoekom ons almal daar is. Want dit is vir ons lekker.

Helene red keer op keer wonderbaarlik die gemorse wat aanhou gebeur. Dalk is daar meer vaardigheid as wat ons (of haar pa) besef? Hilde help met haar rotsvaste lae-alt die tenore met hulle vals stukke. Rudolf skuif oor na die basse met die medley om hulle te help met hulle ritme. En so stuk vir stuk kom alles bymekaar. Ons klink al meer soos ‘n koor en minder soos die sanggroepie wat ons eintlik is. Nou kort ons net ‘n oefenlopie om te wys waartoe ons regtig in staat is.

Ons reel ‘n optrede saam met ‘n paar ander kore wat ook deelneem aan die Wêreldkoorspele en kry selfs ‘n paneel fopbeoordelaars om ons te krit. Ons is egter steeds nie voltallig nie. (Rusty hang in België uit, maar hy’t belowe hy’s betyds terug vir die kompetisie.) Ons lyk soos ‘n miljoen dollar in Adrienne se rokke en ons daag ewe paraat by die kapel op vir ons optrede. Een van die kore wat reg voor ons optree is wêreldklas. (Hulle is ook laas week aangewys as die beste in hulle kategorie in die wêreld- so dis nie oordryf nie). Om na hulle te moet optree vat ‘n man op ‘n perd. Maar ons bly hoopvol.

Ons hoop val egter plat soos ‘n opgestopte bra in die reën. Ons het die manier hoe ons staan op laaste verander en ons kan mekaar skielik nie hoor nie. Die kapel het nie ‘n klavier nie, so ons gebruik my keyboard, wat ook hopeloos te sag is. Met die Afrikaanse medley verloor ons mekaar heeltemal en soos ons mekaar verloor vergeet ons sommer ook ons bewegings en ek vermoed ons lyk waarskynlik soos skape wat kraal toe gejaag word. Met ons Engelse lied kan ons nie die klavier hoor nie en elke stemparty struikel dus toe maar voort in sy eie sleutel.  Brennie ons solis (en ook ons secret weapon), wat op ‘n gemiddelde dag vir Cher soos ‘n amateur laat klink, val ‘n miniatuur kwarttoon laer as die koor in. As sy alleen gesing het was daar geen probleem nie, maar met ‘n koor agter jou is dit egter effens problematies. Sy besef dit en begin in rooi vlamme uitslaan. Iewers langs die pad verloor ek my altpartywysie en sing maar net so goed ek kan op enige noot wat min of meer reg klink.

Ons fopbeoordelaars gee bladsye vol “opbouende kritiek”. Ons begin bekommerd raak. Selfs Helene wat al messe uit half bewustelose mense se koppe moes haal en heupbene met haar kaal hande kan breek raak effe gespanne. Sy bel my in ‘n klein paniekuitbarsting. “Jy gaan saam met Brennie haar solo moet sing. Net om haar bietjie meer selfvertroue te gee…” Ek weet vir ‘n feit dat Brennie geen selfvetroue hulp nodig het nie. Dalk net ‘n harder klavier- at most. Het ek egter genoem dat GEEN mens vir Helene kan nee sê nie. Ek stem halfhartig in. Weet Helene dat die lied in ‘n Afrikataal is wat ek geen woord van verstaan nie? Dis ‘n week voor kompetisie- daar is geen kans in die heelal dat ek al daai woorde ooit sal kan onthou nie. (Ek onderhandel myself gelukkig toe later daarin om net die eerste reel saam met Brennie te sing…vir selfvetrouedoeleindes en als….) Eintlik moet ek eerlik noem dat dit my selfbeeld glad nie goed doen om langs Brennie te sing nie- die girl se stem is, soos my ma sê, van ‘n ander planeet af ongelooflik!)

Die week na die toetsoptrede is almal bietjie meer gefokus. Selfs Magriet is met stilte geslaan tydens oefening. Ons luister na die fopkritiek en probeer beter maak wat ons kan. En toe ons weer kyk is dit kompetisiedag. (Daar was darem nog een kerkoptrede tussen die toetslopie en die kompetisie wat effens beter gevaar het). Steeds het ons al ses en dertig nog nooit almal saam gesing nie. Rusty is missing in action– vermoedelik iewers aan die vassit op ‘n lughawe.

Kompetisiedag warm ons 7uur die oggend op in ‘n skoolsaal. Toe ek by die trappe opklim is die basse en tenore besig om nog bewegings te oefen. Daai off-beat wil net nie vat kry nie. Daar is geen kans dat hulle dit gaan nail voor die kompetisie nie. “Just wing it boys” dink ek by myself. Dis twee ure voor kompetisie. Helené lyk effe bleek om die kuwe.

By die Musaion staan ons vir ‘n foto. Rusty het opgedaag. Ons is vir die eerste keer die jaar voltallig. My senuwees is klaar. Toe ons opstap op die verhoog bid ek saggies. Die Latynse lied is eerste. Vir die eerste keer in drie maande vat al die basse dieselfde beginnoot. Ons sing soos nog nooit vantevore nie. Nootvas. Ritmevas. Iets bo-natuurliks is aan die gebeur en dit is absoluut magies. Na ons eerste lied bars die skare in ‘n juigende handeklap uit. (Baie van hulle is rent-a-crowd, maar steeds!). Ons Engelse lied klink soos iets uit die hemel. Die Afrikaanse Medley is asemrowend. Wat ‘n fantastiese lied. Het ek ooit getwyfel in die skrywer se gesonde verstand? Selfs die off-beat klop klopdisselboom. (Later op die skelm video wat Judith geneem het sien ek selfs Anton het daai off-beat toe reggekry!) Na die medley ontplof die skare weer. Ons kry selfs ‘n glimlag by een van die beoordelaars. Nog net die Afrikalied. Brennie sing die saal stil. In die helfte van die lied begin my trane loop. Ek dink nie ek was al ooit so oorweldig op ‘n verhoog nie en ek doen verhoog al LANK! Toe ons klaar is staan ek en wag om af te gaan en ek dink. “Ons is lankal nie meer net amici (vriende) nie. Ons is familia (familie).” Want dis wat familie doen. Maak nie saak wat die omstandighede of probleme is nie- in die einde, wanneer dit die meeste saak maak, trek familie laer en kom bymekaar om wonderwerke te maak gebeur.

So hier is Amici nou.  Goud in die sak. En boonop vierdebeste Vocal Ensemble in die wêreld in ons afdeling. (I never doubted us for a moment!) En natuurlik tonne goue memories to go with it. Wat ‘n wonderlike voorreg was dit nie!

Kommin skoene is soms okay

18th May 2018

Soms is dit die klein dingetjies in die lewe wat ‘n ou (of meisie in my geval) ure se pret verskaf. Vat nou maar vanoggend.

Maar eers moet ek natuurlik die bobbejaan agter die berg gaan haal om by my punt uit te kom. So paar weke gelede besluit ons, na ‘n klompie stampe op my ou getroue Ford Ranger, dat dit dalk tyd is vir ietsie kleiners om mee te ry vir die mammamens. Pretoria parkerings is aansienlik kleiner as Kaap parkerings en daar is ook klaarblyklik baie meer paaltjies en hekke wat ‘n ou nie raaksien so met ‘n canopy saam nie. Ek hou maar nog altyd van ‘n kar sonder ballet frokkies en teen alle raad en daad besluit ek om die Ford in te ruil op ‘n Suzuki Jimny. Luukshede in die model sluit hoofsaaklik lugsakke, ‘n radio en elektriese vensters in. Die bagasieruim is ook net-net te klein vir ‘n gewone grootte tas, maar die tas pas baie gemaklik op die agtersitplek. Wel net-net gemaklik!

“Nee my vrou, dis dan net ‘n halwe kar!” laat die liefde van my lewe hoor. “Mamma, die ding het nie eers controls op die stuurwiel nie…” sê Grootprins. “Jy moet maar ‘n kierie ook saamkoop,” sê Peet die ou by wie ek die Jimny koop, “die automatic het net drie ratte- hy’s stadig soos ‘n skilpad.” Kleinprins noem hom my halwe broodjie en my pa noem hom my ambulans. (Lang storie vir ‘n ander dag.) Maar soos gewoonlik steur ek my nie veel aan die witgeraas rondom my kop nie. Dit is die cuteste tjor waarmee ek nog ooit gery het. Dis soos om sonskyn te ry. 80km per uur en al.

Terug by vanoggend. Daar moet inkopies gedoen word en die Jimny word opgevlam vir die tog winkels toe. Ek het ‘n effense verkoue en sukkel om asem te haal so in die toe kar. Kyk, in Pretoria ry ‘n ou mos maar met toe ruite om seker te maak die spreekwoordelike boef op elke hoek vang jou nie. Okay, dis nie regtig spreekwoordelik nie, maar dit kan netsowel wees. Ek hou my egter braaf en ry met wawyd oop ruite na al my stoppe toe. Waaragtig sonder enige voorvalle. (Behalwe as jy die feit dat ek my onoopgemaakte Fanta zero vir ‘n bedelaar gegee het omdat hy baie dors gelyk het en my ook vertel het dat hy baie dors is, as ‘n voorval beskou.) Soos reeds genoem is daar nie baie klokke en fluite (#seewhatididthere) verbonde aan die Suzuki Jimny nie, maar die belangrikste een het hy darem wel. Bluetooth sodat ek Itunes kan luister.

Soos ek ‘n paar weke gelede belowe het, na die fiasko oor Dirkie van Jaarsveld, Afrikaanse sangheld ekstrodenêr, is my Itunes speellys tans op goeie ou Afrikaans ingestel. Net so skuins voor ek my estate oor die rant sien, begin niemand anders nie, as Jack Parrow die kar te vul met Jy dink jy’s cooler as ekke…

Nou kyk, daar is niks wat die petrol in jou bloed uitbring soos Jack Parrow nie. Ek trek die radio se ore tot op vol volume. En so ry ek en Jack Parrow, met my oop vensters en die wind in my hare, teen 60km per uur my estate tegemoed. Ek voel hoe my kommin skoene juk van lekkerkry. Ek ken (uiteraard!) nie die woorde nie, so ek maak dit maar uit volle bors op soos ek aangaan. Dis so lekker dat toe dit eindig ek sommer weer repeat druk en dit nog ‘n slag luister.

By die estate se hek moet ek eers my vingerafdruk gee vir die hek om oop te gaan. Diep binne voel ek soos ‘n gangster wat geprocess word by die polisiekantoor toe ek my vingers op die masjien sit om my uit te ken. ‘n Gangster met Jack Parrow as wingman. Langs my stop ‘n fênsie estate tannie in haar ewe fênsie lang slap Mercedes. Haar venster gaan oop nes Jack Parrow op vol volume vertel van die tattoo van ‘n slang op jou tette…Ek oorweeg om sagter te sit, maar sekerlik luister selfs fênsie estate tannies soms Jack Parrow reg? Ek giggel en glimlag vir die fênsie tannie met die baie haarsprei en lipstick. Sy gee my egter net ‘n estate tannie kyk en rol haar ruit so vinnig weer op as wat sy hom afgerol het. Die sekuriteitswag dink darem ek is legit (dis hoe ons gangsters die lingo gooi…) en dans selfs ‘n stukkie saam toe ek wuiwend wegry.

Nou is dit eers lekker, want binne in die estate mag ek net 25 km per uur ry. Ek hang my arm uit by die oop venster, voel hoe die son op my wintervelletjie brand en sing sommer nog lekkerder saam. Die Jimny se radio het nie regtig bass nie, maar selfs met die bietjie wat daar is kan ek voel hoe Jack Parrow onder my sitplek op en af spring. Dis darem nou al die tweede slag dat ek dit luister so ek ken die woorde al baie beter. Jy is Tim Vorster, ek is Chris Edwards…

Toe die laaste klanke van Parrow wegsterf begin Coenie se Karoonag speel. Ek maak die Jimny se ruite weer toe. (Dis maklik want dis elektries en alles.) Party musiek is nou eenmaal net nie lekker met oop vensters nie. Ek trek my kommin skoene uit en gooi dit in my miniatuur bagasieruim. Vir ‘n anderdag. Maar Jack…jy en ek…ek en jy…ons sal altyd daai Vrydagoggend in die Jimny, met die wind in ons hare hê!  Daai tannie by die hek is Ice tea my bra, ek en jy en my Jimny- ons is witblits! Oor en uit!