Browsing Category

BLOG

Van Nuweland tot Ongevalle

30th September 2014

Saterdag het begin soos enige ander dag in die Strauss huis. Lennon het popcorn vir ontbyt gehad.

Na die ontbyt vir kampioene, besluit ons om ‘n grassnyer en bietjie kruideniersware te gaan koop. Ek stel voor ons kry eerder ‘n ponie vir die gras, maar my man byt nie. Ek het probeer…

Ons raak egter sidetracked en eindig op in Kaapstad middestad by ‘n vreemde klein winkeltjie wat spesialiseer in onesies. Jip, daai onvleiende eenstukkies wat nou vir een of ander rede hoooog bo my begrip hooooog mode is. Paps soek ‘n Springbok onesie vir die game later. Dis nie aldag dat mens op Nuweland ‘n toets gaan kyk nie. En mens kan nie afsteek by jou Ausie vriend se Kangaroo onesie nie. (Ek WEET!!!) Alle geval…een uur later is ons daaruit met nie een nie, maar drie onesies. ‘n Groot springbok onesie vir Paps, ‘n klein springbokkie onesie vir Kleinprins en ‘n medium Tigger onesie vir Grootprins. (Tigger ja-wie wil nou stupid Springbok pajamas koop?) Paps lyk vir my baie na ‘n swanger mamma springbokkie, maar ek sê maar eerder niks… Continue Reading…

Daai tyd van die maand

16th September 2014

NIE VIR SENSITIEWE LESERS….

So gaan ek toe nou vir die klein prosedure so week of wat terug. 5h45 (MAANDAG OGGEND!!) laai ek my man en kroos in die kar en in die nag donkerte vat ons die pad Blaauberg Netcare toe. My oudste noem heel onskuldig: “Mamma, jammer om jou te sê, maar niks goeds gebeur ooit in hospitale nie.” So met die donkerte en dié verdoemende woorde laai manlief my by die voordeur af-  en toe is ek op my eie. 6h15 Lê ek half ongemaklik op ‘n hospitaalbed, terwyl ‘n gawe suster my uitvra oor vreemde familiesiektes. Ek antwoord maar nee op al die vrae, maar eerlikwaar weet ek nie eers wat die helfte van hulle is nie! Continue Reading…

Die groot K skrik

11th August 2014

Kyk ek het nou al oor die jare agtergekom, ek is nie soos meeste vrouens nie- ek dink so bietjie anders, voel so bietjie anders en doen dinge so bietjie anders as die meeste vroue wat ek ken- MAAR een ding weet ek deel alle vrouens- maak nie saak hoe aweregs jy is nie. ALLE vrouens sien op na daai veelbehate ginekoloog besoek!

Maar kom ek begin my storie by die begin. Met die dat ek so half aweregs is (my man noem die Kruger-van Niekerk hardkoppigheid) sien dokters my nie eintlik nie. Ek verstaan nooit hoekom mens vir jou GP R600 moet gee net sodat jy haar kan vertel dat jy verkoue het nie…

ALLE geval- so 2 maande terug sê ek vir my man: Ek kan nie my vinger daarop lê nie, maar ek voel net nie great nie. (Dit- en daar was ‘n karbonkel so groot soos ‘n Bloubul ego op my linkerwang). Wel ek weet dis nie verkoue nie, so ek raap en skraap toe maar die R600 bymekaar en maak die afspraak. My dokter is nie juis seker wat om vir my te sê nie- met die dat ek nie regtig die simptome kan uitdruk nie. Die enigste simptoom (behalwe die karbonkel so groot soos ‘n Bloubul ego op my linkerwang) is immers: Ek voel net nie myself nie. So gee sy maar toe antibiotika vir die karbonkel (ons almal weet nou al hoe groot en presies waar hy was!) Meer om my te paai vat sy toe ook genoeg bloed om my duiselig te laat vir ‘n na-middag. Continue Reading…

Die dag toe ek my kinders wou weeshuis toe vat…

23rd May 2014

Okay- ek jok so effe in die opskrif- daar was nie EEN spesifieke dag nie. Met my Grootprins gebeur dit so een maal elke twee maande dat ek hom daar wil gaan aflaai. Met Kleinprins- meer in die omgewing van drie keer per dag!

Vir die wat gedink het kinders kry en grootmaak is kinderspeletjies, maklik en magies- dink gerus weer! Dit begin alles sodra die troumars sy laaste orreklanke laat afsterf het in die vêrte!

“Kinders by dosyne!” sing die trougaste.

“Ons wil darem nog jonk genoeg wees om ons kleinkinders te geniet…” sê die toekomstige ouma.

“Julle sal moet begin werk aan ‘n maatjie vir Gertjie…” sê die niggie (wat jy na jou troue nog nooit weer gesien het nie…)

“Julle weet nie wat julle mis nie- ‘n mens se lewe is leeg sonder kinders…” sê die vreemde vrou wat soos ‘n uitgewasde handdoek lyk. (Moet deel wees van die nuwe skoonfamilie.) Continue Reading…

Om te kyk, of nie te kyk nie….

7th November 2013

Die anderdag, op ‘n per ongelukte Kaapstad somersdag, sit ons gesinnetjie en eet roomys in die middestad. Ons het skaars gesit of daar waai ‘n swerm lawaaierige jong knape die winkeltjie binne. Dis net aftershave, help-my-fris hempies, Bieber kuiwe en uitsteek onderbroeke waar jy kyk. Ek vergaap my letterlik en dink stil-stil: “dank vader ons boyfriends op daai ouderdom moes brushcuts hê vir drilperiode!”

“Kyk jy lekker my vrou?” kom my man se geamuseerde opmerking my ore binne.

“Is jy simpel man. Hulle kon my kinders gewees het!” blaps ek uit.

“Dis oukei my vrou. Daai spiere is seker handsome as dit jou tipe ding is…”

En net daar besef ek hoe verskillend ons Evas van die Adamsgeslag is. Soos ek sê- die seunskinders kon my seuns gewees het…(as ek op 18 begin het, wat ek Dank Vader nie gedoen het nie!). Vir my om “daai” kyke te kyk moet hulle darem so 28 plus wees… Continue Reading…

Die Volvo Mamma

18th October 2013

Ons almal het haar. Daai ma by die skool wat jy wens jy kon wees. Myne noem ek die Volvo mamma. Voor ek met my storie begin, kom ek vertel eers van die Volvo mamma. Sy ry om mee te begin, ‘n Volvo. ‘n Charcoal Volvo. ‘n Silwerskoon charcoal Volvo. Sy ry binne die 60km/h spoedgrens met haar silwerskoon charcoal Volvo, want sy is altyd betyds- met 2 minute om te spaar! Wanneer sy haar lang lenige bene sjarmant by die Volvo se deur uitbeweeg, is dit (perfek geskeerde) soepel bruin bene wat die teerpad met grasie tref. Continue Reading…