Daai tyd van die maand

NIE VIR SENSITIEWE LESERS….

So gaan ek toe nou vir die klein prosedure so week of wat terug. 5h45 (MAANDAG OGGEND!!) laai ek my man en kroos in die kar en in die nag donkerte vat ons die pad Blaauberg Netcare toe. My oudste noem heel onskuldig: “Mamma, jammer om jou te sê, maar niks goeds gebeur ooit in hospitale nie.” So met die donkerte en dié verdoemende woorde laai manlief my by die voordeur af-  en toe is ek op my eie. 6h15 Lê ek half ongemaklik op ‘n hospitaalbed, terwyl ‘n gawe suster my uitvra oor vreemde familiesiektes. Ek antwoord maar nee op al die vrae, maar eerlikwaar weet ek nie eers wat die helfte van hulle is nie!

Na al die vrae bring gawe suster ‘n groen jurkie met ‘n groen stuk ding, wat ek toe maar aanneem is ‘n panty. Sy verduidelik mooi dat die jurkie agterstevoor aangetrek moet word, maar sé niks van die papier groen broekie nie. Ek loop toe maar heel braaf na die badkamer en begin verklee, maar toe ek by die groen onderstukkie kom begin dinge lol. Maak nie saak hoe ek die ding aantrek nie, dit lyk of my boude aan die verkeerde kant is…dalk is daar ‘n ander size…ek loer so half by die deur uit en vra vir suster of sy nie dalk vir my ‘n beter size kan gee nie…nee, sê suster, hulle is one size fit all en hulle lyk maar so half vreemd- die dokter gaan hom anyways uitrek, so dis eintlik meer sodat ek nie vreemd voel nie…haha…ek onderneem toe maar om nie vreemd te voel in die papierpanty wat soos ‘n meelsak aan my onderdele hang nie.

Half onkuis en toe-hou-toe-hou rits ek toe maar terug na my bed. En net daar word my seun verkeerd bewys. Soos ‘n queenbee (in fashionable groen) lê ek terug en word BEDIEN. Lê jy gemaklik? Wat bring ons as jy wakker word, koffie, tee, sap? Watse broodjie verkies ek? Met of sonder tamatie? Wit, bruin, plein, getoast? Kan ons nog ‘n kombersie vir jou bring? Hier gaan die bed op en af…en die knoppies mag jy nie aan raak nie! Aan dié roomservice kan ek gewoond raak…

Dis 6h30 en skielik is alle rituele verby. En daar lê ek, groen panty en al. Die tyd in die oggende is ek besig met skool broodjies, smeek ek kinders uit hulle beddens, maak ek koffie…en nou hier lê ek – met absoluut boggerol om te doen!! Eers geniet ek die vrede, maar na omtrent 10 minute is die gevoel oor. Ek vleg my hare in klein vlegseltjes….ek onthou skielik- my ma het altyd gesé ons moet ons  beste panties aantrek voor ons op vakansie ry, net INGEVAL ons in ongeluk kom…Sê maar ek gaan dood onder die mes….aan die panty kan ek nie veel doen nie- groen sal dit wees…maar ek kan nie met die rasta vlegsels doodgaan nie! So ek ontvleg maar toe weer…die tannie in die oorkantste bed kyk my vreemd aan…o gits ek neurie half hardop. Ek roep die suster en vra of hulle iets het wat ek dalk kan lees…my buurvrou bied haar Sarie aan…ek maak maar of ek lees en vang myself elke nou en dan met ‘n nuwe vlegsel of ‘n deuntjie wat hardop by my mond uitkom….

10h30…Uiteindelik kom haal Siphiso my…stoot my tot in die wagkamer van die ouens wat geopereer moet word…My buurvrou daar het heel duidelik ‘n baie lekker pilletjie in. Sy raak liries oor die wapen op die laken….om alles te kroon is daar ‘n noodkeiser wat my voorspring…ek vleg , ontvleg en sing maar om die tyd om te kry…

Siphiso maak weer sy verskyning en stoot my in my opersaiesaal in…operasiesaal se naam is Chenin Blanc…ek vra of hy my nie liewer in Cabernet kan instoot nie…my grappie is verlore op hom…narkotiseer maak grappies…ek lag senuweeagtig saam…10…9…8…ek word wakker en als is verby…ek kry my toasted cheese en tee…

Dokter sê als het goedgegaan…ek gaan nog een slag of so menstrueer…hier is ‘n voorskrif vir R1500 se pille...be on your merry way.

Dis TOE dat die hadida oor die huis roep! So drie dae later word ek wakker…Tannie met die rooi handsak het kom kuier! Mmm…na Kleinprins se geboorte het ek ‘n Mirena ingesit…so ek het give or take omtrent 5 jaar laas maandstonde ervaar. Ek vat toe maar my handsakkie en suiker af Pick en Pay toe. Voor die sanitêre doekie rak val my mond behoorlik oop…Ek het my lewe lank tampons gebruik, so wat ek van sanitêre doekies af weet is ANCIENT!! Daar is seker twintig make en geen mens kan uitfigger watter tipe die regte tipe is nie (daar is selfs met wings…en ek het gedink net Red Bull en my imagenary friend het wings!). Ek maak toe maar soos ‘n tipiese vrou en kies die mooiste pakkie…wat bekostigbaar is… Net om by die huis uit te vind dit is papierdun en absoluut useless…ek voel ‘n ligte irritasie aankom…

Alle geval…ek dink toe dis net fair om my man in te lig. “Lief…my periods is terug…” (alhoewel- ek het dit dalk net in my kop so nice oorgedra).

Hy kry ‘n terrified kyk in sy oë. Half hopeloos begin sy onderlip bewe…My man is nie bang vir baie dinge nie. Maar vir Yolande Strauss met periods is hy skrikwekkend bang. Min dinge vat my van jolige Yollie na demoon in 3 sekonde soos maandstonde. Die probleem is- eers kry ek PMS vir ‘n week…daarna kuier die tannie vir ten minste twee weke…dan vat dit my ‘n week van ysterpille om weer my kragte te herwin…dit los my met omtrent so 3 dae van jolige Yollie voor die bose siklus weer begin…Manlief vra (BAIE VERSIGTIG!) “Is dit nou terug vir altyd?” Verbeel ek my of het hy effe gekoes….?

“Darem nie…dokter het gesê nog net so een keer…”

Manlief….effe  brawer en die kleur kom weer terug in sy gesig…”So alles gaan okei wees?”

Ja my lief…alles gaan oukei wees….