"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas
Dit gebeur nie aldag dat ek bebloed by die huis aankom nie, maar die spesifieke Donderdag gebeur dit wel. Die #Pappabeer kyk my op en af en kry een van dáái kyke in die oë.
“Wat kyk jy?” vra ek. Welwetende hoekom hy my so bekyk. Ek bedoel - ek is vol bloed en ek weet dit.
“Nee niks. Dis net nogal hot as jou vrou vir twee ure wegraak om te gaan fight en dan terugkom huis toe vol sweet en bloed.”
Ek weet nie so lekker van die hot nie, maar laat ek jou vertel, daar is iets aan ’n gevegswond wat mens aan die woord ‘emansipeer’ laat dink. ’n Vrywording. ’n Bemagtiging. Maar nou doen ek wat alle slinkse skrywers doen. Ek laat dit dalk so bietjie meer kleurvol klink as wat dit regtig is.
Dalk moet ek by die begin begin…
So, baie baie báie donkiejare terug (en die is nie skrywersoordrywing nie) word ek deel van ’n toneelgroep iewers hier aan die goeie kant van Johannesburg. Die vrou wat die toneelgroep bestuur is omtrent net ’n vuurhoutjie hoog, maar haar storie is een wat my vir ewig bybly. Sy is een Saterdag iewers in die onheilige ure tussen aand en oggend gekaap en aangerand. Nadat die verpestelinge haar met ’n mes gesteek het en haar redelik woes verniel het, kom sy steeds weg en lewe om die storie te vertel.
Haar geheim? Krav Maga.
As mens die woord sien wil mens dit in Afrikaans lees. Maar moenie. Die eerste a is kort soos in kar. Die g is soos die ingelse hom roep -gh. En die laaste a is ’n lange. Soos in kaas bra. Krav Maghaa…
Sedertdien is ek baie gefassineerd met die kuns van Krav Maga. Maar net genoeg dat ek dit nooit regtig self wou waag nie.
En toe kom Covid. En my menopause. (Dis natuurlik ’n storie op sy eie!)
My oefening van keuse was nog altyd swem, maar die swembaddens bly toe. Want Covid.
My #Grootprins het heel fluks gimnasium toe gegaan in die verlede, maar gimnasiums bly toe. Want Covid.
Ons kry dus geen oefening nie en die vrotheid pak op ons aan soos muf op ’n strandhuis kussing.
Iets moet gedoen word.
My groot ou staatmaker vriend - die Heelal- (en Google algoritmes) lei my toe heel onverwags na Krav Maga. Die res is geskiedenis.
Ek, #Grootprins en #Kleinprins durf die nuwe avontuur so saam-saam aan. En wat ’n fantastiese avontuur is dit nie. Vir my, in elk geval.
Dis ’n absolute fassinerende kuns. Elke beweging maak net vir my 100% sin, desnieteenstaande my gebrek aan koordinasie. Amper so bietjie soos ’n dans.
En in teenstelling met my openingsparagraaf is dit glad nie bloeddorstig gewelddadig nie.
Dis ’n kuns van momentum gebruik, en terselfdertyd jou eie momentum te aard sodat dit nie teen jou gebruik kan word nie. Dis die kuns om te weet wanneer en waar om aan te val. Wanneer om net weg te kom en wanneer om terug te veg. En hoe om terug te veg sonder om sterk te hoef te wees. ’n Vinnige slim besluit kan jou lewe red. (*Ek praat uit 'n plek van absolute onkunde en uit eie ondervinding soos ek dit ervaar het tot op hede - so ek mag dalk hierdie paragraaf aanpas of verander soos die maande aanskuif en ek meer leer. Dit wat ek tans probeer bemeester, en ek gebruik die term bemeester los soos 'n tekkieveter, is Kapap Krav Maga. Ek vermoed dis 'n mengsel van Krav Maga en Kapap. Tyd sal leer. Ek probeer leer soos ek groei.)
Kom ons erken dit nou maar. Ek gaan nooit ’n meester in gevegskuns word nie. Dit sit nou maar eenmaal nie in my broek nie.
Maar van die eerste les af is daar ’n bemagtiging. Iets wat in my siel gebeur het. Daai alewige vrees wat ons vrouens saamdra word elke week minder.
In die laaste klas het ek geleer hoe om ’n pistool teen my kop na ’n pistool in my hand te verander. Ek weet reg? (Dis by verre die coolste ding wat ek nog ooit gedoen het - die bloed op die hemp was ’n kneuswond wat uit die beweging gespruit het. Naaste afvee plek was my hemp. Soos ek sê - aandik maak alles so bietjie sappiger.)
Ek kan voel hoe my selfvertroue meer word. En dis nie net bravade nie – en moet ook nooit wees nie. Want ’n ou moet ook weet wanneer om nie terug te veg nie. Ek is pynlik bewus dat ek nie skielik Karate Attie is nie en dat ek my beperkinge moet ken.
Maar die gedagte dat ek beter en sterker word is iets wat ek nie kan beskryf nie. Dis of ’n binnekrag in my skielik die lig gesien het. Ek vra myself af: hoekom word die tipe selfbeskerming en bemagtiging nie vir alle dogters op skool geleer nie? Hoe anders sal die wêreld nie dan kan wees nie?
En dan is daar natuurlik my nuwe vriendin Menopause. Geduld en nerwe wat skielik dun is.
Die oplossing om die nuwe dun nerwe en kort geduld te beheer is eenvoudiger as wat ek gedink het. Dit wil blyk dat wanneer jy vir ’n uur ’n week al die slaan en skop wat in jou is kan uitveg op 'n gesonde manier, jy aansienlik beter voel. Aansienlik! Dit voel vir my so bietjie soos 2 vlieë met een klap. Behalwe daar is omtrent drie of vier vlieë.
Vat byvoorbeeld die bonus voordeel - dat die #Pappabeer op 43 jaar en 10 maande nog dink jy’s hot…
Krav Maga is 'n militêre selfverdedigings- en gevegstelsel wat ontwikkel is vir die Israeliese weermag en Israeliese veiligheidsmagte, afgelei van 'n kombinasie van tegnieke afkomstig van aikido, boks, stoei, judo en karate. Krav Maga is bekend vir sy fokus op werklike situasies en sy uiterste doeltreffendheid. ~https://en.wikipedia.org/wiki/Krav_Maga
Foto bron: Photo by Etienne Girardet on Unsplash
Kapap Krav Maga Centurion - https://goldeneagledefense.co.za/
Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.