Yolande Strauss

Singer , Songwriter, Blogger & Creative

"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas


Die geduld van Job

Ek sê altyd vir myself om nooit die kort ry te vertrou nie. Tog breek ek keer op keer my eie reël. Vermoedelik omdat ek ‘n ewige optimis is. So gebeur dit toe dus weer net die ander dag. Ek koop ‘n paar goetertjies by ‘n bekendenaam supermark en soos ek aangestap kom sien ek ‘n betaalpuntmeisie wat besig is om die laaste van ‘n ou tannie se kruideniersware deur haar skandeerder te sleep. Ek vergeet onmiddellik van my kort-ry-reël en begin ook toe sommer solank van my inkopies uit te pak op die beweegband. Nou as ek terugkyk was dit duidelik ‘n fout. Die tannie was nog lank nie reg om haar genotvolle inkopietog vaarwel te roep nie.

Asof sy nie al ten minste vyf of meer minute tot haar beskikking gehad het nie, wag sy totdat betaalpuntmeisie die prys hardop vir haar uitroep voordat sy na haar beursie begin soek.

Haar fieterjasiesak is bykans so groot soos Vader Kersfees se persentsak, so dit vat ‘n minuut of twee. Daarna begin die soektog na die lojaliteitskaart. Haar vingers is uiteraard al omtrent 80 jare, skat ek, deel van hierdie aarde so dit sukkel maar om in die klein gleufies van die beursie in te pas. Uiteindelik by die heel laaste kaartgleuf, van omtrent tien, kry die tannie uiteindelik die kaart waarna sy soek uit sy knus spasietjie uitgeboender.

Toe sy nie die kaart dadelik vir die betaalpuntmeisie gee nie moes ek weet- hier kom ‘n ding.

“I have points. Can I pay with points?” vra die tannie in ‘n diep Afrikaanse aksent.

“Yes ouma, did you convert your points to cash?”

“What do you mean convert?” vra die tannie, nou met ‘n frons en reg om te veg as hulle durf nee sê. Sy werk darem al maande aan hierdie punte. Dis in elk geval die storie wat in my kop aangaan.

“You have to go to the machine and convert your points to cash in order to use it ouma. Over there…” betaalpunt meisie point met naels so lank soos die pad hemel toe na die masjien by die deur. Ek wonder hoe slaan sy daai touchscreen met sulke lang naels.

Die tannie skud haar kop. “No. Can you not change it for me?”

Nee, sê die meisie. Dit moet by die masjien gedoen word.

“Can I do it now?” vra die tannie.

“Maybe next time ouma, we have customers waiting.” Die betaalpuntmeisie kyk met smekende oë na my.

Nee wat, sê ek toe maar en voel soos Job. “I have time. No problem.” Ek jok natuurlik. Wie in hierdie wêreld het tyd?

Betaalpuntmeisie lig swaar uit haar wieletjiestoel en wys vir die tannie om haar te volg. Ek oorweeg om my goedjies dalk maar weer terug te pak in my trollie en ‘n ander ry te gaan aandurf, maar praat myself daar uit voor ek my skuif kan kry. Hoe meer haas hoe minder spoed, sê ek hardop vir myself.

Die tannie, wat duidelik haar leë trollie gebruik om regop te bly, hinkepink stoot-stoot agter die betaalpuntmeisie aan na die wonder-masjien toe. Lang praatjies later is die tannie en die meisie terug met ‘n papiertjie vol punte wat geld geword het. Maar die einde is natuurlik nog steeds nie in sig nie.

“Ouma, there is R9 left on your cashback. I can’t give you change. Do you want to add something small.” Betaalpuntmeisie mik-mik met haar oë na die lekkergoedrak net so skuins agter haar om die tannie te probeer aanmoedig.

“Can I get a magazine?” vra die tannie so in die algemeen vir my en betaalpuntmeisie. Sommer so saam-saam. Betaalpuntmeisie skud haar kop. Nie om nee te sê nie. Meer ‘n wat-de-donder tipe skud. Iets tussen ongeloof en moedeloosheid.

“Gaan vir goud tannie,” sê ek toe maar want betaalpuntmeisie dink duidelik dat die onus by my rus. Ek het hierdie stryd verloor en ek weet dit. En daar gaan die tannie en haar leë trollie. Rol-rol tydskrifrak toe. Sy tref ten minste vier mense op pad soontoe. Sy is duidelik nou haastig- dink ek. En ek gebruik die woord haastig los soos ‘n straathoekmeisie.  Nadat sy so drie boeke bevoel, bevat en beblaai het kies sy uiteindelik die een wat ek geweet het sy gaan vat. Rol-rol kom sy en haar trollie by my verby en vat my handsak en deel van my baadjie saam met haar. Reg om die boek by haar inkopies te voeg.

Soos geluk dit wil hê kos die boek natuurlik R40. Tannie gaan dus R31 moet inbetaal. Ek begin hardop giggel want ek weet wat kom. Betaalpuntmeisie wys grootoog na die skermpie wat die bedrag wys wat die tannie sal moet inbetaal. Dit vat die tannie ‘n paar sekondes voor sy besef dat sy haar beursie gaan moet uithaal.

Natuurlik is dit nie sommer net van beursie uithaal nie. Dit blyk die tannie het niks minder nie as drie beursies in haar kersfeessak nie. Een vir kaarte. Een vir note. Een vir munte. Dis duidelik nuwe beursies want sy is nie seker wat sy waar bêre nie. Nadat sy die eerste beursie deursoek het vir note of munte- geen mens weet nie- en geen kry nie, wend sy haar na die tweede beursie. Daar is een noot in. En soos geluk dit wil hê is dit ‘n tien rand. Tannie gaan dus iewers een-en-twintig rand moet uitgrawe. ‘n Minuut later besef ek waar dit vandaan gaan kom. Haar muntbeursie. Die muntbeursie bestaan egter om een of ander duistere rede net uit twee-rande. Sy tel hulle tydsaam een vir een af. Dit vat ‘n tydjie want sy tel drie keer om seker te maak dat die tien twee-rande in haar hand by twintig uitkom.

En toe kom haar arc de triomf-oomblik. Waar op aarde gaan sy ‘n een rand kry? Sy zip haar muntbeursie tydsaam toe, sit hom terug in haar kersfeessak en begin krap. Iewers sal daar wel ‘n een rand wees. Daarvan is sy seker. En toe begin sy daai handsak uitpak. Dis pille en brille en drie beursies en sneesdoekies genoeg om die hele wêreld se Covid te kan dra…

Ek kan nie. Ek maak my beursie wat reeds in my hand is oop (ek wou darem al ten minste vyftien minute terug al betaal het) en asof in ‘n wonderwerk, het ek net een munt daarin, en dis ‘n een rand. In my kop sing engele kore op ‘n Bmaj7 die mooiste aaaaahhhhh ooit.

“Hierso tannie. Vat sommer die een rand by my.”

Die tannie is absoluut uit die veld geslaan deur my ongelooflike vrygewigheid. “Haai jong is jy seker? Ek is seker ek het definitief hier iewers ‘n een rand.”

“Nee regtig tannie. Ek dring aan.”

“Ek het nou niks eers hier om vir jou dankie te sê nie…” die heuning loop nou omtrent by haar lippe af. Mens sal sweer ek het vir haar ‘n vliegtuigkaartjie Engeland toe gekoop. En soos ek toe voel sou ek dit doen as dit haar vinniger uit die winkel sou kry. Maar dan ook nou weer. Die arme Ingelse…

“Ek het kougom hier iewers in my handsak…” sy begin krap. “Eet jy kougom?”

Die betaalpuntmeisie is nou duidelik oortuig dat die tannie dalk nie van die wêreld is nie. Ek is ook nie meer seker nie. Sy begin solank die tannie se sakkies in die trollie pak terwyl die tannie iets doen tussen al haar snuisterye terug pak en steeds kougom soek.

“Nee wat dankie tannie. Ek is nie regtig ‘n kougom meisie nie…”

Ek is mal oor kougom. Net nie vandag nie.

Ek en betaalpuntmeisie staar agter die tannie en haar trollie wat haar regop hou aan tot sy (amper, so amper!) by die deur uit is. Heeltyd reg dat sy dalk gaan terugdraai omdat sy iets vergeet het. En met my hand op die Bybel, jy gaan my nie glo nie- net voor die tannie verdwyn maak sy skielik ‘n u-draai terug.

Ek vou my arms want ek weet dié gaan nie gou gaan nie. “I forget. Can I draw money from your tills?” vra die tannie sommer so in die loop- een elmboog op die trollie en ander hand reeds besig om die kaartbeursie te soek.

“No ouma. But there is an atm just outside the door.” Sê betaalpuntmeisie steeds ongelooflik beleefd vir ‘n meisie wat haar tipe beproewinge vandag moes deurstaan.

“Are you sure?” vra die tannie. They always let me draw at Checkers.”

Ek maak my reg dat tannie dalk gaan vra vir die bestuurder, maar sy kry net ‘n frons en mompel binnensmonds: “ I think you just don’t want to help me…” Sy u-draai met ‘n astrante regop ruggie en daar gaat sy. Trollie en al. Toe sy by die deur uit is bars ek en betaalpuntmeisie gelyktydig uit van die lag.

“Awu…old people…” sê betaalpuntmeisie.

“We are also going to get old sister. But you were very patient. Well done.”

“Awu…” sê die betaalpuntmeisie sommer weer terwyl sy behendig, lang naels en al my goetertjies begin oplui…

“Can I pay with points…” maak ek ‘n flou grappie.

“Nee sies!” sê betaalpuntmeisie en ons lag weer lekker tot my oë traan.

Image: Freepic.com

Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.

Discover more from Yolande Strauss

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading