Ons almal het haar. Daai ma by die skool wat jy wens jy kon wees. Myne noem ek die Volvo mamma. Voor ek met my storie begin, kom ek vertel eers van die Volvo mamma. Sy ry om mee te begin, ‘n Volvo. ‘n Charcoal Volvo. ‘n Silwerskoon charcoal Volvo. Sy ry binne die 60km/h spoedgrens met haar silwerskoon charcoal Volvo, want sy is altyd betyds- met 2 minute om te spaar! Wanneer sy haar lang lenige bene sjarmant by die Volvo se deur uitbeweeg, is dit (perfek geskeerde) soepel bruin bene wat die teerpad met grasie tref.
Sy het ‘n pinstripe romp, net onder die knie, ‘n spierwit bloes (sonder kolle) en swart stillettos aan (asof haar lenige 1,8m nie genoeg straf vir ons 5 voeters is nie). Sy maak die agterdeur vir haar kinders oop, want sy het natuurlik onthou om die kiddies lock aan te sit. Sy maak haar kinders se veiligheidsgordels los en hulle klim stroopsoet uit en staan langs die kar en wag. Hulle skoolklere is skoon, netjies en die regte soort vir die regte seisoen. Daar is nie tandepaste merke op hulle wange nie (en ek is seker hulle borsel ELKE oggend hulle tande). Hulle hare is mooi vasgebind en skoon. Hulle STAP na hulle klas toe, want die klok het nog nie gelui nie.
Sy stap saam en groet almal vriendelik met haar bree glimlag wat net presies genoeg lipstiffie ophet om haar grimeerd, maar natuurlik te laat lyk. Sy lyk natuurlik soos ‘n ex mej. Wêreld. Maar nouja. Nadat sy haar kinders by hulle klas afgesien het met ‘n glimlag, stap sy terug na haar Volvo toe. Klim rustig in en ry weg teen 60km/h want sy is nie laat nie.
Maar genoeg van Volvo mamma. Kom ons gesels oor my. Ek kom teen 80km/h (dalk nader aan 90…) aangejaag by die skool, want ek is laat. My 1300 Bantam bakkie is alles behalwe charcoal en alles behalwe skoon. Ek bid ons tot by die skool, want ek het alweer vergeet om petrol in te gooi (en ek het in alle geval nie tyd gehad nie!)
My kinders peul by die deur uit nog voor ek heeltemal gestop het.(kiddies lock?) Saam met hulle peul daar ook ‘n hoop Megablocks, 2 Ninja Turtle mannetjies, ‘n tjips papiertjie en ‘n leë kosblik wat al vir ‘n week in die bakkie lê uit. Ek gryp dit en gooi dit agter op die bakkie. My jongste hardloop – nog in sy pajamas wat eintlik laas seisoen al te klein was – agter die lee tjips papiertjie aan, want anders gaan Zibi hom kom haal en in die poefdam gooi (ja dis die tipe leuens wat ek vir my kinders moet vertel).
Oudste se wit hemp is gevlek, want hy het vanoggend aarbeie geëet en op sy hemp gemors. Daar was nie tyd om ‘n ander skoon een te soek nie. Hy het sy skoolsweetpak baadjie aan (wat teen die Somersdrag klere reëls is), want ons kon nie sy trui kry nie. Daar is tandepaste merke op sy wang. (Gelukkig net die oggende wat hy onthou om tande te borsel). Sy hare is vuil, want ek het vergeet om sjampoe te koop wat nie brand nie, en toe weier hy om sy hare te was. En ek pick maar soggens my fights– kan nie almal wen nie.
Oudste krap in sy tas en vra waar is sy Wiskunde boek. Sy Wiskunde boek is natuurlik op die tafel by die huis- waar dan nou anders? Hy begin kerm. Kerm-kerm sleep ek hom en sy boetie met die weeshuis pajamas agter my aan na ouboeta se klas toe. Ons is laat. Die klok het al gelui voor ons gestop het. Die Volvo mamma kom verby en glimlag haar miljoen dollar glimlag. Ek voel half selfbewus met my sweetpakbroek en plakkies. Ek glimlag maar terug en dink aan ‘n woord wat begin met b.
Oudste se klas het al begin werk. Ek stop die verrigtinge en verduidelik dat oudste wel huiswerk gedoen het, maar dat sy boek vergete gebly het. Juffrou verstaan soos altyd. Ek hardloop terug na my Bantam toe. Dit kan nie ‘n mooi gesig wees nie, want ek het ‘n weeskind op die heup en ek het nie tyd gehad om ‘n bra aan te trek nie. Maar ek is laat en ek moet nog stop vir petrol…(of dalk kan ek dit nog bietjie stretch…?)
Ek gooi jongste in die bakkie en hy skree, want hy wil nie sy veiligheidsgordel aansit nie. Ek knoop hom so half vas en maak maar of ek sy skeeuery nie hoor nie. Volvo mamma gesels op haar carkit en gooi weer ‘n miljoen dollar glimlag in my rigting. Ek trek weg met skreeuende bande en ‘n ratkas wat krap en sien iets fladder in my truspieël. Die kosblik het afgewaai. Ek slaan brieke aan en spring uit. Volvo mamma wil uittrek uit haar parkeerplek, maar wag geduldig totdat ek klaar die kosblik gevang het. Sy kry nie road rage nie. Ek besef ek het my beursie by die huis vergeet! Ek bid vir Liewe Jesus dat Hy my asb. op die laaste petroldampe net tot by die huis sal kry…
Wil ek Volvo mamma wees? Vir Seker!
Wil ek regtig Volvo mamma wees? Absoluut.
Wil ek regtig egtig Volvo mamma wees? Okay nee nie regtig nie.
Ek hou so half van my verwaaidgeit. En ek sal dit nie eers deur ‘n uur van daai stillettos maak nie…Nou die dag sê ek vir my seuntjie hy moenie so kwaai wees met sy boetie nie. Sy THING is juis dat hy ‘n lieftallige teddiebeer is. Wat is joú thing mamma? vra jongste. Oudste antwoord: Haar thing is dat sy maar so half deur die dinges is dufus. (klink baie na iets wat sy pappa hom dalk voorgesê het).
Nou daar het jy dit. En wie is ek nou om my thing sommer net so te staan en wil verander- My naam is Yolande. Ek ry nie ‘n Volvo nie en ek is maar so half deur die dinges. En die ergste daarvan is- ek laaik dit half eintlik!