"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas
Ek het begin klavier speel toe ek vier jaar oud was en het dus al ‘n hele klompie pryse, vermeldings en graderings agter my naam op die musiekfront. In verskillende instrumente - as ek bietjie mag spog. En dit het gebeur met relatief min inspanning. As jy so bietjie talent het en net-net harder oefen as die ou langs jou is sukses en pryse verseker. Ek het egter nog nooit ooit ooit ooit enige toekennings of erkennings gekry vir sport nie. Nada niks.
Behalwe dalk daai keer toe ek per abuis ‘n brons medalje gewen het in 80m hekkies…
Dis nie dat ek nie probeer het nie. My ouers was albei onderwysers. Ek het dus redelik baie tyd saam met hulle by buitemuurse aktiwiteite spandeer. Veral saam met my pa.
Mansonderwysers se hooftaak in daardie jare was om sport af te rig, en my pa het dit baie ernstig opgeneem. Hy het elke sport denkbaar afgerig. Met entoesiasme en toewyding. En as ‘n resultaat was ek vriendelik verplig om aan elke sportsoort wat hy afgerig het deel te neem. (Behalwe met rugby en krieket. Daar het ek slegs grondjies gaan gooi vir pale toe skop en telling gehou van die paviljoen af.) Ek het naderhand ophou tel hoeveel keer ek langs sportvelde opgegooi het van onfiksgeit. Weet jy hoe vêr moet mens hardloop vir landloop oefeninge?
Die liewe Vader het my nou maar een maal nie geseën met sporttalent nie en ek kan met oorgawe oorvertel dat ek bogemiddeld sleg in al die verskillende sporte was en vandag steeds is. Ek was wel egter in my laerskooldae getrou by elke oefening van elke sport wat my pa afgerig het, so ek was natuurlik outomaties die reserwe vir al die verskillende spanne en sporte. Daar is nooit werklik op my reserwe-knoppie gedruk nie - tot een jaar. Iewers in die laat tagtigs.
Secunda het ‘n splinternuwe sport stadion gebou. Met tartan en alles. Om bietjie daarmee te spog het hulle ingestem om die Interlaer daardie jaar by die stadion aan te bied.
Nou kyk, Interlaer was daai jare ‘n baie fancy affêre. Elke Hoëveld skool het voltallig saamgetrek by die bussevol. As jy nie deelgeneem het nie, het jy in vol skooldrag op die paviljoen gesit en aanmoedig en sing. Jy het slegs geroer as jy ‘n worsbroodjie wou gaan koop. Of dalk ‘n klompie ysies. (Jy kon iets soos ses ysies vir een rand kry!)
As jy deelgeneem het, was jy netjies in jou sportklere saam op die paviljoen. Dan as hulle jou kom roep oor die megafoon het jy flink na jou pos toe gedraf, deelgeneem en jou daarna weer gaan sitmaak tussen die ander maats van jou skool. Ons het gejamblikke-visblikke en gemango-mango dat die Secunda kranse antwoord gee. En elke hardloop item is aangemoedig met ‘n “hou bene hou, hou bene hou…”
Die spesifieke jaar, iewers in die laat tagtigs sit ek dus ewe paraat op die paviljoen. In my sportklere, want ek is reserwe vir die atletiekspan. Nie vir enige spesifieke item nie- sommer vir alles. Van hoogspring tot vêrspring tot 1200m. In vyf, ses of sewe jaar van reserwe wees is my dienste nog nooit ingeroep nie, maar die minste wat ek kan doen is om gereed te lyk.
En toe tref die noodlot. Nie vir my nie, maar vir Sirkien Nieuwoudt. Ons ster-kortafstand atleet. Tydens een van haar miljoene items skeur sy ‘n hamstring. Of een of ander ander belangrike spier. Of dalk was dit net gekneus. Hoe dit ook al sy, sy is uit vir die 80m hekkies en ek moet instaan as reserwe.
Ek het in my lewe nog nie een tree op tartan gehardloop nie, maar almal wat die dag al deelgeneem het sê ek kan nie kaalvoet hardloop nie. En soos ‘n goeie kleindorpse meisie betaam het ek nie eers oorweeg om daardie dag tekkies aan te trek nie. Nee, sê Martin Delport, ons langafstand-ster. Jy het nie tekkies nodig nie- draai net jou voetballe toe met pleister. So gesê so gelaat staan.
Met my voete leweloos vasgedraai in pleister maak ek my weg 80m lyn toe. Die laaste bietjie boereworsrol tamatiesous druppels nog nie eers droog op my ken nie.
En net toe gaan die sluise van die hemel oop soos dit net kan gebeur in die Hoëveld! Ons almal storm paviljoen toe vir skuiling.
Nou kyk deesdae is daar menere en juffrouens met donderweer metertjies wat besluit of die atletiekdag aangaan of verby is. Daai dae het jy egter bloot die storm uitgewag. Daar was nie geld en tyd om meer as een Interlaer te hou nie. So, toe die reën in ‘n ligte kieza begin val, kondig die megafoon-meneer aan dat die hekkiesatlete maar kan nader staan. Teen die tyd is my pleisters al sopnat, maar daar is nie nou tyd vir nuwes nie. Ten minste blyk dit toe later dat nat pleister lekker grip op tartan.
Die hele Laerskool Pionier sien uit na die item, want dis een wat Sirkien loshande gaan wen. En daar is niks wat ‘n skoolskare so opjack soos ‘n definitiewe medalje nie. Op julle merke gereed gaan. Met die reën wat nog liggies neersak. Die Pioniere besef gou dat die geel hempie met die tamatiesousvlekke nie Sirkien is nie, want ek is so vêr agter die bondel dat mens my amper mis. Ek moet letterlik in my voetspore stop om oor elke hekkie te klim. (Voor daardie dag het ek nog nooit oor ‘n hekkie probeer spring nie. Veral nie al hardlopende nie.)
En toe gebeur ‘n bizarre ding. Die meisies voor my begin neerslaan soos nat lomp perde. Niemand was gereed vir die nat tartan nie - dis seepglad. As jy op gras val staan jy dalk op, maar met tartan is dit so bietjie seerder, so die vallendes bly lê. Naderhand is daar net nog twee atlete voor my oor wat hardloop. Nou ook bietjie stadiger en versigtiger. En Pionier begin te skree. “Hou bene hou! Hou bene hou!” want sien- ek hoef net klaar te maak om daai medalje te kry. In die stadigste tyd ooit aangeteken maak ek die 80m hekkies nat, trots en in derde plek klaar. Die aanmoedigers bars uit hulle nate.
Toe die medaljes later oorhandig word hoor ek so in my euforie: “Gee my ‘n Y.” En die skare skree Y. “Gee my ‘n O” en die skare skree O. “Gee my ‘n L” en die skare skree L. En so hou dit aan tot my naam klaar gespel is en die brons medalje om my nek hang. ‘n Oomblik vasgebrand in my brein.
En tot en met laas Donderdagaand was daai brons medalje my enigste trotse sport oomblik. Laas Donderdag gebeur die ongewone egter.
Ek verdien my geelbelt in Jiu-Jitsu.
Nou vir baie van julle klink dit dalk nie na veel nie. En dis jou voorreg. Maar laat ek jou vertel- dit is die eerste keer in my lewe dat ek regtig hard moes werk en probeer (geestelik en fisies!) om reg te kom met iets so vêr uit my verwysingsraamwerk.
En dit vat so bietjie ballas van ‘n middeljarige tannie soos ek. Al moet ek dit nou self sê. En ek is seker ek is nie die beste geelbelt wat gradeer het in my klas nie. Inteendeel is ek redelik seker ek is die minste beste. Maar soos my man altyd sê as die Stormers wen ten spyte van ‘n slegte game- ‘n wen is ‘n wen. Maak nie saak hoe ek daai lys gemaak het nie- gemaak het ek hom gemaak. Met pyne en bloukolle en seer skouers en artritis vingers en twyfel in my hart het ek daai lys van geelbelde gemaak. Baie Deep Heat en stink Dr Lee salf later. En ek dink ek was laas in die laat tagtigs so trots op myself.
Want in die geval is geel meer as net ‘n kleur van ‘n belt. Dit verteenwoordig iets magies. Dit dien as ‘n bewys dat ek brawer is as wat ek gedink het. Ek het nie net fisies 'n paar spoggerige bewegings geleer en soort van onder die knie gekry nie- ek het gegroei en 'n vlakkie of wat geklim as mens. Jiu-Jitsu was tot 6 maande gelede nie eers ‘n woord in my woordeskat nie, en nou is dit amper deel van my soos asem haal. En ek hoop ek kan dit doen tot ek eendag omval van oudgeit.
My korttermyn plan met Jiu-Jitsu is net om lewendig te bly. My middeltermyn plan is om dit sonder ernstige beserings reg te kry. My langtermynplan (vir nou) is om by my bloubelt uit te kom. Vir dit gaan ek dalk nog so bietjie meer self-aanmoediging kort want dis nog 'n hele paar belde weg en kan dalk 'n paar jare vat. Vir nou is my enigste woorde van aanmoediging aan myself egter: “Hou bene hou! Hou bene hou!”
Daai hekkies storie laat my weer dink aan een van my gunsteling aanhaling wat baie relevant is vir my Jiu-Jitsu wedloop.
“It’s not who’s good, but who’s left” ~ Chris Haueter.
Vir nou is geel genoeg. Want dis hoe ons middeljariges rol. Klein versigtige treetjies.
*Volledige vrywaring: Die brons medalje storie kan dalk effe aangedik wees en ek mag dalk die jaar, party atlete se name en 'n paar ander feite verkeerd onthou. Maar dis hoofsaaklik gegrond op die waarheid. Njannies ek belowe.
Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.