Groet sonder woorde

Ek is maar ‘n sentimentele meisie. Mense wat oor my pad kom los maklik stukke van hulleself in my siel agter. Party weet presies wat hulle daar los. Ander is heel onbewus. Een so arme stomme onbewuste, is Jannie du Toit. Net die ander aand gaan kyk ek na sy Brel vetoning in die Atterbury teater. Ek gaan ondersteun eintlik sy pianis, maar hy…hy los my (nie die eerste keer in my lewe nie) met verwondering. Dit is absoluut ongelooflik hoe hy homself vervorm van lied na lied. Hoe hy gemaklik spring tussen vier tale. Hoe hy elke woord sy eie maak. Hoe hy ‘n verhoog klein kan laat lyk met hoe briljant hy die spasie gebruik. Hoe hy stories kan vertel met sy hande en hoe hy sy passie kan laat afskilfer na die skare toe. Ek is nie vriende met Jannie nie. Ek ken die man skaars. Ek het hoogstens al ‘n paar ure in sy geselskap deurgebring. Hy praat graag oor taal. En woorde. En my Pretoriô aksent. Dis wat ek van hom kan onthou. Mens is baie keer diep teleurgesteld as jy akteurs, sangers of skrywers ontmoet en dan agterkom hulle is maar net mense met foute. Jannie was nie vir my een van daardie teleurstellings nie. Op en af van die verhoog af is hy ewe passievol oor sy talente en liefdes. Vandag nog gebruik ek hom as my kompas van hoeveel mens van jouself moet gee op ‘n verhoog. Hoe passievol jy behoort te wees as die droom in jou geplant is. Hoe jy mense om jou beter kan maak met die vuur wat in jou brand. Ek het natuurlik ‘n Jannie storie. Maar dit het nie by Jannie begin nie.

Donkiejare terug, meer as wat ek wil onthou (Grootprins het reeds alweer met my verjaarsdag die jaar gevra of ek nou middeljarig is) is ek ‘n jong menslike hulpbronne konsultant by ‘n werwingsmaatskappy in George. My foon lui en die ontvangsdame sê dat Christa Steyn vir my op die lyn is. In my wêreld bel bekende sanghelde van jou kleintyd jou nie regtig nie, so ek dink nie vir ‘n oomblik dat dit Christa Steyn die bonatuurlike pianis en liedjieskrywer is nie. Wat ek die helderste onthou is haar diep sagte stem aan die ander kant van die lyn. Sy het my musiek in ‘n haarsalon in Potch gehoor, uitgevra en besef dat ek ‘n Crescendo finalis was. Dis nou heel toevallig dat sy as gaskunstenaar by die volgende ATKV Crescendo finale rondte moet optree. Maar sy sing mos nie eintlik nie. En sy hou van my stem. Kan ek haar lied vir haar kom sing. (!)

Ek gaan nie jok nie. Ek het myself so bietjie natgepiepie op daai oomblik. ‘n Week later begelei Christa Steyn (!!) my op ‘n verhoog waar ek een van haar liedere sing. (Ek wil vir jou- dit was so mooi, dat toe ons dit die eerste keer oefen ek inderdaad begin huil het.) Wat ‘n wonderlike ervaring. Maar dit is nog nie die einde nie. ‘n Week later bel sy weer. PG du Plessis het ‘n stuk geskryf oor wyle Koos Du Plessis se lewe en musiek. NAGKANTOOR. Hulle kort ‘n jong onbekende sanger om saam te sing, stel ek belang. Ek sal daaroor dink sê ek. (Yeah right!) Ek sê ja nog voor sy klaar gepraat het. En so kruis my pad- net vir ‘n kort wyle, met Jannie du Toit se pad. En of dit nie genoeg is nie, kry ek die geleentheid om ‘n duet saam met hom te sing.

Die lied natuurlik, is weer ‘n storie op sy eie. Die laagste noot in die stuk wat ek moet sing saam met Jannie, is bloot net te laag vir my. Oefening na oefening kry ek die noot net nie gevat nie. Na Christa ure gesukkel het om my by die noot uit te kry sê sy die dag van die opname vir my ek kan maar ontspan- sy het die lied hoër gemaak en ek sal maklik bykom. Wat natuurlik ook gebeur. Ek vat daai lae noot soos ‘n jarelange pro! Na die opname deel sy my egter mee dat sy vermoed die grense wat ek vir myself stel is net in my kop. (Een van my grootste lewenslesse as musikant wat ek nog geleer het.) So jammer, maar sy het gejok. Die lied was inderwaarheid in sy oorspronklike toonhoogte. En well done met daai lae noot. Christa was inderdaad reg. Die grense is net in ‘n ou se kop. As ‘n resultaat van daardie waardevolle les kan ek vandag al veel laer sing as daardie dag se laagste noot. Die lied se naam was Groet sonder woorde.

“Die harmoniewerk op die album (Nagkantoor) is meestal uistekend, byvoorbeeld op Swerwers en Kinders van die wind, waarvan die melodie ook in die openingsnit benut word. Ander sterk snitte is Mol-berge (Jannie), Najaarsdroom (Yolandé), As jy my kan volg (Matthys) en Groet sonder woorde (Jannie en Yolandé).” ~Die Republikein – 27 Mei 2004

Ek het vandag ‘n nuwe opname gemaak van Groet sonder Woorde. Nie so spesiaal soos die duet saam met Jannie nie, maar spesiaal omdat dit my ewig herinner aan ‘n tyd waar groot  Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse!) musikale reuse my vuur aangeblaas het en onbaatsugtig stukke van hulleself in my gelos het, my  gementor het – sonder dat hulle dit eers geweet het.

 

 

Lees nog skryfstukkies uit my pen
Kyk nog YouTube Videos van Yolande Strauss

 

Discover more from Yolande Strauss

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading