Yolande Strauss

Singer , Songwriter, Blogger & Creative

"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas


Kommin skoene is soms okay

Soms is dit die klein dingetjies in die lewe wat 'n ou (of meisie in my geval) ure se pret verskaf. Vat nou maar vanoggend.

Maar eers moet ek natuurlik die bobbejaan agter die berg gaan haal om by my punt uit te kom. So paar weke gelede besluit ons, na 'n klompie stampe op my ou getroue Ford Ranger, dat dit dalk tyd is vir ietsie kleiners om mee te ry vir die mammamens. Pretoria parkerings is aansienlik kleiner as Kaap parkerings en daar is ook klaarblyklik baie meer paaltjies en hekke wat 'n ou nie raaksien so met 'n canopy saam nie. Ek hou maar nog altyd van 'n kar sonder ballet frokkies en teen alle raad en daad besluit ek om die Ford in te ruil op 'n Suzuki Jimny. Luukshede in die model sluit hoofsaaklik lugsakke, 'n radio en elektriese vensters in. Die bagasieruim is ook net-net te klein vir 'n gewone grootte tas, maar die tas pas baie gemaklik op die agtersitplek. Wel net-net gemaklik!

"Nee my vrou, dis dan net 'n halwe kar!" laat die liefde van my lewe hoor. "Mamma, die ding het nie eers controls op die stuurwiel nie..." sê Grootprins. "Jy moet maar 'n kierie ook saamkoop," sê Peet die ou by wie ek die Jimny koop, "die automatic het net drie ratte- hy's stadig soos 'n skilpad." Kleinprins noem hom my halwe broodjie en my pa noem hom my ambulans. (Lang storie vir 'n ander dag.) Maar soos gewoonlik steur ek my nie veel aan die witgeraas rondom my kop nie. Dit is die cuteste tjor waarmee ek nog ooit gery het. Dis soos om sonskyn te ry. 80km per uur en al.

Terug by vanoggend. Daar moet inkopies gedoen word en die Jimny word opgevlam vir die tog winkels toe. Ek het 'n effense verkoue en sukkel om asem te haal so in die toe kar. Kyk, in Pretoria ry 'n ou mos maar met toe ruite om seker te maak die spreekwoordelike boef op elke hoek vang jou nie. Okay, dis nie regtig spreekwoordelik nie, maar dit kan netsowel wees. Ek hou my egter braaf en ry met wawyd oop ruite na al my stoppe toe. Waaragtig sonder enige voorvalle. (Behalwe as jy die feit dat ek my onoopgemaakte Fanta zero vir 'n bedelaar gegee het omdat hy baie dors gelyk het en my ook vertel het dat hy baie dors is, as 'n voorval beskou.) Soos reeds genoem is daar nie baie klokke en fluite (#seewhatididthere) verbonde aan die Suzuki Jimny nie, maar die belangrikste een het hy darem wel. Bluetooth sodat ek Itunes kan luister.

Soos ek 'n paar weke gelede belowe het, na die fiasko oor Dirkie van Jaarsveld, Afrikaanse sangheld ekstrodenêr, is my Itunes speellys tans op goeie ou Afrikaans ingestel. Net so skuins voor ek my estate oor die rant sien, begin niemand anders nie, as Jack Parrow die kar te vul met Jy dink jy's cooler as ekke...

Nou kyk, daar is niks wat die petrol in jou bloed uitbring soos Jack Parrow nie. Ek trek die radio se ore tot op vol volume. En so ry ek en Jack Parrow, met my oop vensters en die wind in my hare, teen 60km per uur my estate tegemoed. Ek voel hoe my kommin skoene juk van lekkerkry. Ek ken (uiteraard!) nie die woorde nie, so ek maak dit maar uit volle bors op soos ek aangaan. Dis so lekker dat toe dit eindig ek sommer weer repeat druk en dit nog 'n slag luister.

By die estate se hek moet ek eers my vingerafdruk gee vir die hek om oop te gaan. Diep binne voel ek soos 'n gangster wat geprocess word by die polisiekantoor toe ek my vingers op die masjien sit om my uit te ken. 'n Gangster met Jack Parrow as wingman. Langs my stop 'n fênsie estate tannie in haar ewe fênsie lang slap Mercedes. Haar venster gaan oop nes Jack Parrow op vol volume vertel van die tattoo van 'n slang op jou tette...Ek oorweeg om sagter te sit, maar sekerlik luister selfs fênsie estate tannies soms Jack Parrow reg? Ek giggel en glimlag vir die fênsie tannie met die baie haarsprei en lipstick. Sy gee my egter net 'n estate tannie kyk en rol haar ruit so vinnig weer op as wat sy hom afgerol het. Die sekuriteitswag dink darem ek is legit (dis hoe ons gangsters die lingo gooi...) en dans selfs 'n stukkie saam toe ek wuiwend wegry.

Nou is dit eers lekker, want binne in die estate mag ek net 25 km per uur ry. Ek hang my arm uit by die oop venster, voel hoe die son op my wintervelletjie brand en sing sommer nog lekkerder saam. Die Jimny se radio het nie regtig bass nie, maar selfs met die bietjie wat daar is kan ek voel hoe Jack Parrow onder my sitplek op en af spring. Dis darem nou al die tweede slag dat ek dit luister so ek ken die woorde al baie beter. Jy is Tim Vorster, ek is Chris Edwards...

Toe die laaste klanke van Parrow wegsterf begin Coenie se Karoonag speel. Ek maak die Jimny se ruite weer toe. (Dis maklik want dis elektries en alles.) Party musiek is nou eenmaal net nie lekker met oop vensters nie. Ek trek my kommin skoene uit en gooi dit in my miniatuur bagasieruim. Vir 'n anderdag. Maar Jack...jy en ek...ek en jy...ons sal altyd daai Vrydagoggend in die Jimny, met die wind in ons hare hê!  Daai tannie by die hek is Ice tea my bra, ek en jy en my Jimny- ons is witblits! Oor en uit!

Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.

Discover more from Yolande Strauss

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading