“Living with boys”

Daar is al movies hieroor gemaak, boeke geskryf. Vrouens deel dit met mekaar in die geheim- maar om dit in die werklikheid te beleef is ‘n heel ander storie!. Vat dit van ‘n vrou wat saam met drie homo sapiens van die manlike geslag ‘n huis moet deel. En ek is nie ‘n fief nie- alles behalwe! Inteendeel. Ek is ‘n tomboy, ‘n “one of the boys”, ‘n meisie wat weet hoe om haar eie lightbulbs te ruil…en steeds. Lewe nadat die manlike geslag jou spasie binnegedring het is net nooit weer dieselfde nie. Hier is ‘n paar dinge wat universeel is tot mans- altans tot my drie:

  1. Hulle is almal in grotte gebore. Ja die tipe wat nie deure het nie. Geen deur sal ooit weer toegemaak word met 3 manne in die huis nie. Kasdeure, yskasdeure, kruidenierskasdeure- as die woord “deur” daarin voorkom, sal dit nie toegemaak word nie. Die knoppe op my kop en die kere wat ek half lights-out my weg moes vind na die naaste leunplek is irrelevant. Ek moet seker maar kyk waar ek opstaan- en na 10 jaar moet ek seker nou al weet die oop spasie bo my kop het waarskynlik ‘n kasdeur in!
  2. Asblikke is net daar om die lee gat op die kombuisvloer te vul. Ons ketel staan rég bokant ons asblik. En ek bedoel REG bokant. Nie eers een tree links of een tree regs nie- tog het dit nog NOOIT gebeur dat ‘n gebruikte teesakkie sy weg vind na die asblik toe nie. Nope– dit word net so skuins neffens die asblik op die kas gelos! Lekkergoed papiere het dieselfde probleem. Hulle vind net nie hulle weg asblik toe nie- ‘n baie makliker plek is natuurlik onder die kussing van die sitkamer bank- ek verstaan dit- dit is immers nader as die asblik!
  3. Die reuk van wierook is ook iets van die verlede. Die oomblik as die manne oorneem is die enigste reuk dié van ou kouse en poepe wat nie die buitelug kon vind nie. Nie net jou huis, jou badkamer en jou kantoor nie, maar ook jou kar sal gelukkig genoeg wees om die reuk aan te neem en sy eie te maak. Wierook gee hulle aldrie natuurlik hooikoors…ek sal dit seker mis as hulle nie meer daar is nie…tans..not so much!
  4. Die wasgoedmandjie is baie soos die asblik. Maak net vloerspasie vol. Op aandrang van my liefste beter helfte het ek die wasgoedmandjie reg langs sy kas gesit. Steeds mis hy- dan- hy was nog nooit die sportiewe soort nie…na ‘n gekerm van formaat, maak my seunskinders se vuil wasgoed darem soms die deksel van die mandjie. Dis seker beter as niks. Ek het nog nie moed verloor nie!
  5. Soapies is uit soos sweeties in die weeshuis. Die dae van 7de Laan en Days of Our Lives is slegs ‘n vae herinnering. Die tv kanale in ons huis wissel tussen Ben10, Bakkugan, enige ander  kanaal wat gewere, messe, karre wat robotte word of goed wat opblaas uitsaai…en dan natuurlik rugby, olimpiese spele, grand prix, moto-x…die lys hou aan en aan en aan…
  6. Die badkamer sal nooit weer geurige sepies en kerse hê nie. Die gedeelde badkamer is nou ‘n plek waar mens moet koes vir die army tanks wat klaarblyklik op water kan ry. Die tandeborsels word gebruik as wapens- en ek moet erken, ek is nie eers meer heeltemal seker watter een myne is nie. Ek borsel maar met die een wat op die spesifieke dag die skoonste lyk. My sjampoo en duur roompies word heel gereeld gebruik om secret potions te maak…aardse dinge!
  7. Gepraat van badkamers. Kom ons gesels oor die toiletbak. Don’t even get me started. Die eerste ding wat mammas hulle seuntjies leer is…LIG DIE TOILETBAK OP AS JY PIEPIE! U-uuuh. nie in die die leeftyd nie. Elke oggend gaan sit ek op een of ander unidentified liquid! En my oudste probeer gewoonlik sommer so van die deur af raakpiepie, so soms maak die helfte van die blaassappe nie eers die onopgeligte bak nie- seker altyd iets om voor dankbaar te wees!
  8. Wat in is moet uit- of mams nou in die geselskap is of nie. En al drie my manne het klaarblyklik BAIE wat moet uit. Bo en onder! Burp en poep neem nuwe dimensies aan met drie wat mekaar nog aanmoedig ook!
  9. ‘n Mes is van nou af ‘n tool. Nie ‘n tool waarmee mens kos in jou mond kry nie nee! ‘n Tool wat skroewe losdraai, wurms in die tuin jag, drade strip en die deur oophou as die wind waai! Nou ja…ten minste draai hulle my skroewe los!
  10. Jou seep sal nooit weer dieselfde kleur wees wat dit was toe jy dit uit die pakkie gehaal het nie. Ghries, Petrol en Olie kom NOOIT weer van seep af nie…gewoonlik is die wasbak ook vir ‘n paar uur daai selfde olie kleur- dankie tog vir Handy Andy…hulle weet egter nie waar die Handy Andy gebêre word nie…maar nou ja.

Daar is nog…maar ek begin nou skuldig voel. So ek berus my by die bogenoemde. Vir nou! Ek wil net byvoeg…ek lief hulle…ek belowe!

PS: Hulle kan wel proppe afdraai wat vassit, swaar goeters dra en die tv op verskillende stasies kry sonder dat dit sneeu. En daar is die gemoedsrus dat ‘n boef eers verby al drie manne gaan moet kom voor hy by my uitkom…

 

Discover more from Yolande Strauss

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading