Yolande Strauss

Singer , Songwriter, Blogger & Creative

"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas


'n Woord is net 'n woord is net 'n woord

‘n Tydjie terug, so net na ‘n nuwe vlaag pandemie sy lê gekry het, gaan jag ons saam met een van die #PappaBeer se ou vriende en dié se gesin. (Ons het gereken ‘n goeie streep buitelug is seker beter as ‘n vuisvol binnekieme.)

Buiten ons, nooi hulle ook nog twee groepe ander vriende afkomstig van hulle tuisdorp af saam. Die hele spul genooide gaste is almal so klompie jare jonger as ons, so hulle baie kinders wat op die jagplaas rondhol soos ‘n pak meerkatte, is meestal so tussen een en ses jaar oud. Dis hoofsaaklik ‘n klomp laities (daar was darem so een rosie), so hulle is nogal besig so by tye. En as jy dink net dogtertjies weet van klikstories aandra, dink weer. Een van die kliksessies gaan soos volg.

“Tannie, tannie, #BoetieJagplaas het bliksem gesê!” kom skree #KlikKnapie.

“Nee man!” praat #TannieJagplaas in haar streng stem. “Ons klik nie. En bliksem is in elk geval net ‘n woord. Kom ons almal sê dit gelyk. Een, twee, drie…BLIK-SEM…” En soos een man sê die hele pak knapies “…BLIK-SEM…” Klaargepraat.

Die woord bliksem het skielik sy magiese krag verloor.  En asof niks gebeur het nie is elke knaap weer in ‘n rigting in. Een gaan speel in die vuur, die ander een gaan jag skerpioene en een gaan proe of sy pappa se brandewyn nog nie van borrels ontneem is nie. Ek weet nie waar die ander honderde kinders is nie, maar hulle is iewers, want ek hoor hulle.

Ek spot natuurlik sommer net. Die klomp latte klink dalk stout, maar dis eintlik net omdat daar so vreeslik baie van hulle is. Eintlik as mens verby die getalle kan kyk is hulle meestal heel opgevoed en gemanierd. Hulle is net so BAIE. So verskriklik baie. Of klink hulle dalk net so baie?

Ek en #TannieJagplaas voel duidelik baie dieselfde oor vloekwoorde. Ek leer my #prinsies nog altyd dat ‘n lelike word slegs vloek is as die intensie ook vloek is. Anders is dit maar net ‘n woord. En ‘n woord het net krag as ons daardie woord krag gee.

En dit laat my toe nou dink aan die woord COVID. Dit is uiteindelik ook maar net ‘n woord né?  En as ons dit nie krag gee nie, is dit presies wat dit vir altyd gaan bly. Net ‘n simpel woord.

‘n Ou universiteitsvriendin van my wat nou oor die water bly, stuur gereeld vir my grappies aan so oor WhatsApp. Dis maar hoe ons so op verskillende kontinente met mekaar kommunikeer. Hoe ons vir mekaar sê dit gaan nog goed. Ons lewe nog almal.

‘n Hele paar van haar grappies die laaste paar jaar is natuurlik COVID-relevante grappies. Baie reken dat dit onvanpas of ongevoelig is om grappies te maak oor iets wat soveel miljoene se lewens gekos het, maar ek is nie skaam om te erken nie. Ek lag vir al haar grappies. Sy is immers baie goed met grappies. Twintig jaar terug was sy ook baie goed met brandewyn drink en om my dan saam met haar in die verderf in te sleep, vol brandewyn myself. Ek dink die COVID grappies wat ons deesdae soveel ure se genot verskaf, is eintlik baie trappies op van waar ons twintig jaar terug was. (Dankie tyd! Weet altyd- maak nie saak wie wat sê nie, tyd is inderdaad jou vriend en grysheid bring wysheid!)

My punt is eintlik. Sy weet soos ek, dat COVID net ‘n woord is. Dit het net krag as ons dit krag gee. Kan ons artikels vir mekaar stuur wat vertel van die verwoesting wat die pandemie saai? Ons kan seker ja. Kan ons met mekaar deel hoe ons saans wakker lê as vriende of familie veg om die virus onder beheer in hulle liggame te kry? Natuurlik kan ons. Maar wat gaan ons mekaar dan nou eintlik vertel wat die ander nie reeds weet nie. Hoekom sal ons die simpel woorde mag gee? Vrees en angstigheid aanblaas en aanhits.

Ek kies dan eerder om die eenvoudige woord so bietjie verspot te maak.  Natuurlik is COVID nie ‘n ding wat mens ligtelik moet opneem nie, ek weet eerstehands hoe dit mens se lewe omvêr kan gooi, maar hemel mense, dis ook nie nodig dat dit woord van die jaar word nie. Ons almal ken dit nou. Dit het ons lippe die laaste twee jaar meer as enige ander woord verlaat. Wanneer laas was jy deel van ‘n geselskap waar die woord COVID nie die absolute middelpunt van die gesprek was nie? Ek wag.

Dis absurd.

Kies om die woord nie mag te gee nie. Maak ‘n punt daarvan om dit nie in gesprekke op te bring nie. Praat weer oor jou kinders of jou katte. Oor liefde. Oor goeie boeke en simpel Netflix reekse. Oor jou vakansie. (Al was dit nie oorsee nie- Witbankdam is ook ‘n plek!) Praat oor die weer en oor die nuwe plaaslike mark wat jy onlangs ontdek het. Praat oor potholes en  Jacob Zuma wat die tronk so waar as vet gaan vryspring as jy dan moet (#[voeg gunsteling vloekwoord in]), maar vir die lewe van my, kom ons hou net asseblief op om oor COVID te praat.

Kom ons vat net die onverdiende magika wat aan die woord kleef weg.

Almal gelyk. CO-VID!

Sien. Dis net ‘n woord.

Klaargepraat.

Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.

Discover more from Yolande Strauss

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading