So vanoggend het ek my eerste oopwater swemtraining gehad. (Ek het een of ander bee in my bonnet gedagte gekry om my vrees vir haaie te oorkom dmv ‘n lekker lang seeswem…ander storie vir ‘n ander dag…)
Dis belangrik om te besef dat ek in die 1900’s laas enige iets gedoen het wat die fisiese vorm van enige iets wat oefening is resemble.
Reeds na die 4 minute opwarming het ek besef ek gaan dalk ‘n hartaanval kry. En dit was nog nie eers in die water nie!
Teen einde van lap 1 het ek effe duiselig gevoel en na lap 3 was ek propers seesiek. Let wel die oefening was nog nie in die see nie (dankvader want dan was ek vanoggend haaikos) maar in ‘n heerlike (22grade water) swembad.
Hier teen die 4de lap het ek myself soos ‘n beached whale teen die kant uitgetrek en half in ‘n semi koma vir die coach gewuif om asb. my wetsuit se zip af te trek sodat ek kan asem kry…en natuurlik na ek my asem gekry het verduidelik dat dit omtrent my limit vir die dag is.
My groep het nog omtrent ‘n halfuur geoefen terwyl ek van die kantlyn (wasbleek- ek, nie die kantlyn nie) die storie besigtig het en natuurlik my bes probeer het om nie in die openbaar op te gooi nie.
Na oefening het ek ‘n paar flou grappies gemaak om my eer te probeer herstel en toe braaf-braaf en effens skeef-skeef en duiselig na my kar gestrompel, net om daar te besef my arms is so dood dat ek nie die boot kan oopkry nie. Die nat attire moes dus maar langs my op die voorsitplek gaan- selfs die ekstra agterdeur sou te veel gewees het- een deur was my limiet!)
Terwyl ek toe nou in alle geval effens onmobiel is, loer ek toe maar gou op my selfoon of ek dalk enige oproepe gemis het…daar was slegs een sms…”Funerals can be expensive. Get up to R70 000 funeral cover. Call now before it is too late….”
Dit het my laat dink aan ‘n quote uit een of ander movie: “We are going to die. You’re going to die, I’m going to die, we’re all going to die… just not today.”
Nou ja hier is ek lewendig genoeg om die storie oor te vertel…so dit was close…maar NOT TODAY!
Donderdag maak ons weer so!