"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas
Penkop en Drawwertjies
Jare terug, laerskool se dae, was ek ‘n baie trotse Voortrekker. Nie seker hoe die Voortrekkers nou se dae werk nie, maar in my dae, as jy in die laer grade was en ‘n Voortrekker was, was jy ‘n Drawwertjie geroep. Vandag voel dit vir my of my lewe op ‘n leuen gebou is, want vark weet, ek is baie dinge, maar ‘n drawwertjie is nie een van daai dinge nie.
My skoonpa is ‘n afgetrede prokureur, en een van sy grootste talente is dat hy in ‘n splitsekonde 5 redes kan noem ten gunste van (of nie ten gunste van) enige onderwerp. Ek voel vanoggend of ek dalk daai talent aangesteek het, want ek kan sonder enige voorbereiding waarskynlik 20 redes noem hoekom ek nie ‘n drawwer is nie.
Maar kom ons begin by die begin. Diegene wat my al lank ken, weet dat sport nog nooit regtig ‘n groot deel van my lewe iets was wat ek op die voorgrond geplaas het nie. Met moeite kon ek dalk ‘n paar maande op ‘n slag belang stel in bietjie joga, of swem…
Toe gebeur COVID en duidelik het iets of gebreek of dalk ge-autocorrect binne my. Want siedaar. Op 44 begin ek Krav Maga beoefen. Of 45 las ek JiuJitsu by. Op 46 verskuif ek my fokus na boks toe en op 47 word ek ‘n gesertifiseerde Personal Fitness Trainer. So wat bly oor om op 48 te doen!? Want die hemele hoor my, vir ‘n Comrades of ‘n Argus sien ek nog nie kans nie. En toe gebeur die snaakste ding. Hoofsaaklik omdat ek duidelik nie ‘n stabiele aardling is nie. Twee van my boksklas afrigters doen ‘n Hyrox. Daai ding waar jy jou gô uithardloop, roei, ski, swaar goed optel stoot en rondtrek en ‘n kleinhuisie vol burpees doen. Ek het daai fotos so bekyk en gedink: “hoekom sal enige mens dit nou wil doen?” En nie lank daarna nie het ek die antwoord ontvang. “Want in jou hart glo jy nie jy kan nie.”
Nou vriende, my grootste flaw in die lewe is dat ek net bloot nie kan aanvaar dat daar dinge is wat ek nie kan doen nie. So sonder om twee keer te dink, betaal ek ‘n fortuin om in te skryf, nog ‘n groter fortuin aan akkommodasie in die Kaap ten tyde van die Hyrox en ‘n selfs nog groter fortuin aan vliegtuigkaartjie om in die Kaap te kan kom. Duidelik is daar geen omdraaikans nie. En duidelik is ek selfs meer onstabiel as wat ek dink.
Die een groot probleem wat ek natuurlik nou het, ‘n maand en ‘n half voor die groot storie, is dat ek glad nie ‘n uithou-atleet is nie. Die groter probleem – daar is ‘n verpligte 8 kilometer hardlopery in die einste storie. En soos per paragraaf een van hierdie skrywery, is ek nie naastenby, enigsins, in enige wêreld of planeet ‘n drawwer nie.
Ek noem die reuse probleem toe aan my boksafrigter en sy, wat nie’ n meisie is wat eintlik my probleme in die wêreld verstaan nie (het ek genoem dat albei my afrigters wat die Hyrox gedoen het 20 jaar jonger is as ek – nee? Dit het my seker ontgaan. #wantoud) sê heel sjarmant. “Moenie worry nie. Ons sal jou draf fix.”
Selfde aand kry ek hope draf-tips. Sy is ‘n natuurlike drawwer. Wat hou van draf! PFT! Duidelik verstaan sy nie ons mense van die nie-drawwer kerk nie. Dis lang afstande (4 kilometer in my oë is lank okay!) twee maal ‘n week en sprints en wie weet wat nog. En dit bo-op die ander oefenery vir die roei, ski en swaar goed optel, trek en stoot. Ek het egter ‘n paar probleme as dit by draf kom.
Lang storie kort, begin ek dus twee weke terug draf. Dag een was ‘n absolute fiasko. Na 800 meter is ek op soos tjops, my skene is aan flarde en ek betwyfel al my lewensbesluite. Ek besluit om te probeer uithou tot op 2 kilometer. Eerste paar kere is meeste van daai 2 kilometers meer van ‘n stappie as ‘n draffie. Maar my hardkoppige Kruger gene skop gelukkig en ek druk deur. Want hoor my lied- daar is niks in hierdie wêreld wat ek nie kan doen nie. (Behalwe Comrades, Argus, uit ‘n vliegtuig spring en plante aan die lewe hou.)
Fastforward na vandag toe. Vandag het ek my eerste 5 kilo’s gedraf, sonder stapstoppe. (Nie vinnig nie, moet ek erken, my pace sal my weirdo drafmaatjies laat giggel, want dis ‘n slakkepas, maar vat my woord- dis ‘n wen vir Yolliejak). En toe sommer net vir shits en giggles doen ek nog 4 kort sprints daarna. Dit was natuurlik vanoggend die strooi wat die donkie laat uitpass het, maar dit daar gelaat! Ek moes dalk maar net die 5 kilometer wen gevat het. Helaas.
Ek het egter so bietjie soos Forest Gump gevoel. My opdrag van my Hyrox-hulp boksafrigter (wat geen ontsag het vir my ouderdom, my baie boobs en my absolute afsku in draf nie – maar sy doen dit uit die liefde van haar hart - #loveyouclaudia), was 30 minute se draf vandag. (En na dit die sprintding) En toe gebeur die snaakste ding. Na 30 minute besef ek my petrol is nog nie op nie en toe hou ek maar aan. En toe ek weer sien is dit 5 kilometer later. Ek is nie dood nie. En dit was amper fun.
Ek weet nie wie van my maters wat hier lees Jimny bestuurders is nie, maar die wat is sal verstaan. Jimny mense acknowledge mekaar. Maak nie saak waar in die stad (of land) mens verby ‘n ander Jimny ry nie, jy flikker jou ligte en knik jou kop, of as jy in gedagte was en te laat is vir flits, waai jy vriendelik. Met drawwers is dit dieselfde, elke ou wat van voor af kom knik, of lig ‘n hand of ‘n wenkbrou. Ek is egter nie seker of die Comrades oefenaars besef al wat ek probeer doen is om deur 8 kilometer Hyrox te kom nie – hoe dit ookal sy, ek voel nou soos een van hulle en waai so vriendelik as wat my kis gees my toelaat terug. En wat hulle nie weet nie kan hulle hartjies nie seer maak nie.
Om af te sluit. Ek is nog nie daar nie, maar ek is op pad. Soos my oud SR voorsitter altyd gesê het – “PUKKE, maak vas julle veiligheidsgordels!”
Hier kom ‘n ding! Here’s looking at you Dirkie. Jou woorde gaan my dertig jaar later deur daai 8 kilometer trek! Voorwaarts, Mars!
Na 5 kilometer
Na sprints (na 5 kilometer) Soms moet mens weet wanneer om op te hou. Al voel jy soos Forest Gump.
Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.