"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas
Iewers in my eindelose wysheid, besluit ek dat 2021 die jaar gaan wees vir buite-die-boksie dinge. Jiu-Jitsu klink na pret reg? En dit sluit lekker aan by my Krav Maga klasse wat ek laasjaar begin het. So gedink so gemaak. Nie net is ek nou uit my boksie uit nie – ek dink ek het dalk my boksie verloor iewers om nooit weer te vind nie. Laat ek jou vertel wat ek alles geleer het by my eerste Jiu-Jitsu klas.
My lyf is ten minste 20 jaar ouer as my kop. Dit wat ek dink ek kan doen en dit wat ek inderdaad kan doen is ligjare verwyder van mekaar. Volgens my man is ek egter die hardkoppigste mens wat hy ken. My kop gaan dus hierdie rondte wen. Dit gaan nie lekker wees vir my lyf nie, maar rooiwyn is ook nie lekker nie en tog wurg ons almal dit in.
Mens gaan nie so maklik dood nie. Helfte deur die klas het ek my instrukteur gevra of mens kan doodgaan van Jiu-Jitsu doen, want ek het naby aan dood gevoel. Hy het redelik oortuigend nee gesê. Ek ken die man egter nog nie so goed om hom sommer net blindelings te glo nie- so ek is nog nie seker nie- maar ek het gisteraand oorleef, so dalk is hy reg.
My ego is sterker as die res van my lyf. Wanneer ‘n meisietjie helfte jou size en ouderdom jou soos ‘n sak aartappels oor haar skouer gooi en redelik hard op die grond neersit, wil-wil jou ego so bietjie kneus. My ego het egter geen kneuse gevat nie. Die res van my het egter heelparty kneuse opgedoen. Op ‘n stadium het meisietjie my gevra of sy my seergemaak het, want sy het iets hoor kraak. Waarop ek geantwoord het dat ou bene maar so kraak van tyd tot tyd en dat sy dit maar net kan ignoreer. Ek was egter nie seker of ek seergekry het nie, want teen toe was alle gevoel in my lyf al verlore.
Die menslike lyf het 600 spiere. Ek weet want ek het getel hoeveel spiere tans seer is aan my lyf. Dis 600. Ek het pyne waar ek nie eers geweet het ek het plekke nie.
Die beste medisyne is ‘n lekker lag of huil. Toe ek gisteraand op die bank lê en my wonde lek, besef ek skielik dat ek ‘n sport beoefen waar daar van jou verwag word om met ‘n ninja-sprong op te spring van die grond af nadat die meisietjie helfte jou size en ouderdom jou hardhandig daar geplaas het. Dit is absoluut absurd. Die woord ninja-sprong het my skielik onbedaarlik laat uitbars van die lag. Die lag het naderhand vervorm in huil. Een van daai huile waar jy wil ophou maar nie kan nie en nie regtig seker is of jy lag of huil nie. 10 minute later het ek egter baie beter gevoel. Soms is die ontlading nodig.
Jiu-Jitsu doen is so bietjie soos om in ‘n sterk rivier te swem. As jy teen die stroom aanfoeter is dit moeite en moeilik. As jy saam met die stroom beweeg is dit steeds moeite, maar makliker. Ek weet dit nou, en sodra my brein inskop gaan ek dit begin toepas. My brein sukkel egter om in te skop. Ek het meer as een maal gisteraand links gedink en dan halsstarrig regs gegaan. Ek en my brein sal diep hieroor moet bepeins as ons die dood wil aanhou vermy. (Ironies genoeg beteken die woord Jiu-Jutsu ‘gentle art.’ Jy moet egter saam met die rivier gaan om dit te verstaan. Ek is nog nie daar nie.)
Daar is diep fout met my as mens. Ek beplan om so spoedig ek weer die gebruik van al my ledemate, spiere en bene terug het dadelik terug te gaan vir meer. Selfs al is my lyf nog nie daar nie, is my kop op ‘n fantastiese plek. Een waar ek skielik anders na die wêreld kyk. Asof ek wakker geword het uit ‘n diep slaap. Soms na 44 jaar 1 maand en 3 dae leer jy waaragtig nog nuwe dinge oor jouself. Who knew?
Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.