‘n YOLANDE STRAUSS kortverhaal – Stoepsit saam met Anna
*Spesiale dank aan Jak J Brits vir jou hulp met die skryfstuk
Hier sit hulle op Anette se stoep. Sewentig plus met niks meer om hierdie ou wêreld te bied nie. Dag in en dag uit staar hulle na die vaalgroen blare van die apiesdoringboom in die agtererf.
Die blare staan stil, nes tyd. Tyd wat stilstaan is nie ‘n ou se maat nie. Dae word langer. Soos Somer. Die vreugdes van Somer ontgaan jou egter.
Bedags spandeer hulle op die stoep. Dag in en dag uit lê Anette se hond getrou by hulle voete. Die nuwe intrekkers was vir hom aanvanklik vreemd. Die eerste ruk was dit ‘n alewige onsinnige geblaffery, maar later het hy hulle gewoond geraak. Snags sluip hulle so stil as moontlik in die huis rond. Van slaap is daar al lank reeds nie meer ter sprake nie.
“Kan jy glo sy verkoop net als so?” sê Anna.
Sy is die een wat altyd die stilte breek. Piet het lang jare terug al geleer dat stilbly so goed ‘n antwoord is as enigeiets. Hy kruis sy bene langsaam en krap-krap aan die laaste stukkies tabak wat vassit in sy pyp.
“Dit was my pa se erfgeld,” praat Anna voort. “Onthou jy nog toe ons die tafel gaan koop het, Piet?”
Hy knik net sy kop.
“Ek was verlief op die kabinet wat saam met dit gekom het,” sê Anna. Sy onthou dit nog soos gister. “Die gekleurde glasvenstertjies was vir my so mooi. Het die kind dan geen sentiment nie?”
Piet wens hy kan die pyp aansteek, maar hy moes die sondetjie ook maar prysgee. Hy dink eers lank voor hy antwoord.
“Ag my vrou, die ding het die hele wêreld volgestaan in Anette se huis. Sy het tog haar eie smaak, hoekom sal sy nou daai monsteragtige eetkamerstel in die ou klein plekkie wil laat probeer inpas? Is dit nie nou haar meubels om mee te maak soos sy wil nie?”
Anna is egter nog nie klaar nie. Sy kan ‘n ding dood praat as mens vir haar ‘n kans gee. Sy was nog altyd so. Dalk daarom dat Piet so stil geword het.
“En wat van al die soetgoed wat sy die seuns so voer?”
Piet val haar hier in die rede. Want stilbly is ook soms nie die antwoord nie.
“Jy gaan staan nie weer en steek die soetgoed weg nie. Ons is net gaste hier, Anna! Los die kinders. Die lewe is swaar genoeg.”
Anna lag vir haar eie vernuftige poets. So paar weke terug het sy al die soetgoed in die huis onder in die vrieskas gaan wegsteek. Anette is nie ‘n voorslag kok nie, so die vrieskas is die laaste plek waar sy vir enige iets soek. Altyd net Woolies klaargaar kos.
Anna, uit pure verveeldgeid en vir bietjie binnepret, steek ook soms ander klein goedjies weg, maar Piet hoef nie van alles te weet nie.
Hy raak versigtig weer ‘n ou onderwerp aan.
“Jy sal jou dinge moet laat staan, Anna. Ons het ons beurt gehad. Nou moet ons terugstaan en die laaste bietjie van die lewe saam geniet.”
Alles is anders na die ongeluk. Anna stry nie daaroor nie. Piet sal nooit weer dieselfde wees nie. Sy ook nie.
Hulle was oppad Stilbaai toe vir die langnaweek. Anette sê al vir jare hulle is te oud om so vêr te ry. Vandag amper ‘n jaar terug. Kan dit al so lank wees?
Anna trek haar kieste in soos sy altyd maak as sy haar vir Piet vererg.
“Dis nie in my persoonlikheid om terug te staan nie. Jy van alle mense behoort dit teen die tyd te weet, Piet. Hoe gaan Anette haar seuns grootkry? Sy kan nie eers ‘n eier bak nie. En watse tipe vrou laat haar man kook en was en stryk? Iemand moet ‘n oog hou. Hand bysit waar dit nodig is.”
“Tye het verander, Anna,” sê Piet droog. “Anette is ‘n werkende vrou, en kom laatmiddag eers by die huis aan. Ek dink dis net reg dat Dawid sy deel bring. Die seuns ook, hulle is immers al in die laerskool.”
Anna weet nie hoe om terug te staan nie. En sy kan die verkoop van die meubels nie oorsien nie. “Sy raak ontslae van erfstukke, Piet! Ons het duur betaal daarvoor. En Dawid het laasnag weer pizza gaan koop. Dis gemorskos…”
Piet dink terug aan toe hy en Anna pas getroud was. Daar was aande wat hy ook skelm by die straatkafee kitskos gaan koop het. Die kos by die huis was effe te eksperimenteel na sy smaak. Maar hy’t dit nog al die jare van Anna weerhou. ‘n Klein wit jokkie.
Voor die ongeluk kon Anna enige dis in ‘n kookboek baasraak.
“Jy is ‘n goeie vrou, en jy was ‘n goeie ma vir Anette,” sê hy dan. “Jy het haar goed grootgemaak. Jy’t jou deel gedoen.”
“Ag, Piet…”
Sy plaas haar hand op sy been. Piet kon haar nog altyd met so bietjie heuning om die mond van iets oortuig.
“Maar wat van die kiaat boekrak? Nóg ‘n erfstuk, van my ma se kant van die familie,” sê Anna. “Sy hou niks!”
Piet kan sien dat Anna nie sal verstaan nie. As hy net die verduiwelse pyp kon aansteek. Die hemel weet hy is baie lief vir die vrou wat hier langs hom sit. Maar as sy eers so op een wysie begin sing, kry dit nie end nie.
“My grootoupa het daai boekrak met sy eie hande gebou, Piet. Al die boeke wat al deur daardie boekrak is, onthou jy nog vir Trompie en Saartjie? Dit het alles op daardie rakke gestaan. Niks van hierdie tegnologiese twak nie! Dit is herinneringe.”
“Dis net ‘n boekrak, Anna.”
Dalk moes hy liefs die onderwerp verander het, besef Piet.
“Dis nie net ‘n boekrak nie, Piet. Dis ons lewe. Ons besittings. Alles wat ons bymekaar gemaak het, en Anette raak daarvan ontslae asof ons nooit bestaan het nie!”
Anna se stem raak huilerig.
“Anna. Hoor mooi. Dit ís net ‘n boekrak. Ek het gesien hoe Anette huil…na die ongeluk. Sy haal elke aand jou trouring uit die kluis uit en dan huil sy Anna. Sy huil oor jou. En my en oor daardie ongeluk.”
“Maar ons het als aan haar oorgelaat…”
“Ons is in haar, Anna. Deel van wie sy is. Ons is nie in ’n boekrak of ‘n eetkamertafel nie. Dis alles net goeters.”
Anna se mond val verbaas oop. In vyftig jaar het Piet nog nooit so mooi met haar gepraat nie. So reguit, met wysheid in elkeen van sy min woorde nie.
Sy staan swaar op. Sy is nog steeds ‘n mooi vrou, selfs met die plooie en ekstra gewig wat aan haar lyf hang. Sy vee ‘n denkbeeldige kreukel uit haar romp en kyk vir ‘n laaste keer na die apiesdoringboom.
Sy buk stadig, en vryf geduldig die hond.
“Nou toe dan, Piet,” sê sy die volgende oomblik. Sy ignoreer die traan wat teen haar wang afrol. “Ek wíl die laaste bietjie tyd saam met jou geniet. Hier staan ek voor jou. Ek gee oor. Dis net meubels. Anette sal regkom. Soos jy sê; ons deel is gedoen. Daar kom seker ‘n tyd om die aflosstokkie oor te gee.”
Piet weet dat die tyd aangebreek het. Hy druk sy pyp in sy sak en staan met ‘n kreun op. Dan vat hy Anna se hand en soen dit.
“Ek reken ons is reg” prewel hy en slaan sy oë op na bo.
Die trappe voor hom is verlig en heelbo waar dit eindig hang ‘n verblindende wit lig – soos die son. Sy voete word lig en die klim is nie te steil of te moeilik nie.
Anna kon nie laat gaan nie en hy kon nie sonder Anna nie. Anna is nou gereed. Eindelik. Die frons op haar voorkop is weg. Sy hou glimlaggend haar arm na hom toe uit, sodat hulle kan inhak. Nes die dag in daardie mooi wit kerk toe sy vir hom die jawoord gegee het. En hy belowe het dat hy vir altyd langs haar sal staan. Kom siekte, armoede of erger. Nou kan hulle finaal met die nuwe avontuur begin.
Anette voel vir die eerste keer in ‘n jaar asof sy lig sien. Na haar ouers se dood in die motorongeluk oppad Stilbaai toe, was dit asof daar ‘n juk op haar skouers was. Maar vanoggend, amper ‘n jaar later is daardie juk net weg. Sy kan dit nie verklaar nie. Sy dink die hond voel ook aan dat sy beter voel. Vir die eerste keer in ‘n jaar kom lê hy by haar voete in plaas van alleen op die stoep. En vanoggend vir die eerste keer verbeel sy haar nie goed nie. Sy het al begin dink dit spook dalk hier….
Lees nog kortverhale.
Kyk YouTube Videos van Yolande Strauss