"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas
Dit is werklik fantasties om ek te wees. Daar is nie iets of iemand op hierdie aarde wat my so amuseer soos wat ek myself amuseer nie. Daar is ook nie iets soos ‘n gewone dag as jy in my kop bly nie. Elke dag is gevul met duisende oomblikke en elkeen van daai oomblikke het die potensiaal om te ontaard in iets wonderliks in. Vandag is ‘n skitterende voorbeeld. Sonder dat ek gesoek het daarvoor, het die lewe my ‘n besonderse les geleer. Oor myself. En oor menswees. En dit het nie ‘n groot gebeurlikheid gevat nie. Dit was sommer ietsie kleins.
Inkopies is nie regtig my ding nie, en inkopiesentrums nog minder. (Bwahaha- hoor ek #PappaStruis lag!) Nee, maar regtig. Tog is dit soms noodsaaklik, so vanoggend bevind ek myself dus in die gange van ‘n bekende-naam inkopiesentrum hier in Gauteng.
Terwyl ek redelik doelbewus drentel na waar ek wil wees, voel ek ‘n tik op my skouer. Dis ‘n netjiese man wat my vra vir ‘n paar rand. Hy wil darem net ‘n brood of so kan koop.
Slegste weergawe van die storie is dat hy my aandag wil aftrek en my beursie wil gaps sonder dat ek agterkom. Beste weergawe van die storie is dat hy regtig honger is en hoop dat ek vir hom ‘n paar sente het. Ek is so bietjie op my hoede, maar ek voel egter nie regtig in gevaar nie. Vandat Covid sy kop uitgesteek het is ek ook nie meer in die gewoonte om kontant in my beursie rond te dra nie, so ek wys die man se gawe aanbod om my van my kontant te verlos hoflik van die hand.
Die man is gelukkig toe ook nie te opdringerig nie en met sy volgende teiken klaar in sy visier maak hy hom redelik vinnig uit die voete. Dis eers toe hy weg is dat ek besef wat gebeur het. Sonder enige rede het ek my voete so geskuif dat my basis op sy sterkste is. Ek het my lyf so gedraai dat ek die man reguit in die oë kyk. En onbewustelik het ek my sleutel wat in my hand was so gedraai dat dit outomaties kan dien as ‘n wapen sou die geleentheid hom voordoen. Instinktief het my brein alles wat ek dit die laaste maande gevoer het in Krav Maga klas, uiteindelik net onthou, verstaan en gedoen. Daar staan ek. In my gereedheid-staanposisie met ‘n ‘wapen’ in my hand, soos ‘n goeie kryger meisie betaam. Bietjie verspot toe ek daaraan dink. Ek glimlag egter, want selfs deur die belaglikheid daarvan, is ek so bietjie trots op myself.
Of ek myself sinvol sou kon verdedig sou die man ‘n boef wees kan ek nie met sekerheid sê nie, maar ten minste weet ek nou my brein is nie heeltemal so breindood soos wat ek gedink het dit is nie. (My laaste Krav Maga klas was vir my besonders teleurstellend- dit het by tye vir my gevoel asof ek die eenvoudigste goed net nooit ooit onder die knie gaan kry nie.)
Terug oppad huis toe, nog steeds baie ingenome met myself, begin ek te dink oor die fenomeen wat pas hier afgespeel het. Ek besef skielik weer; ons breine is wonderlike goed. En ons het die mag om ons breine te vertel wie en wat ons wil wees. Dis bietjie soos ‘n rekenaar. Dit wat jy insit, is wat jy uitkry.
‘n Vriendin van my vertel noudiedag, dat sy en ‘n ander vriendin sit en spekuleer het oor hoekom ek altyd so gelukkig is. Hulle kon dit egter net nie verklaar nie. (Ek vra liewer nie hoe hulle op daai gesprek gekom het nie!) My geheim is eintlik eenvoudig. As ek elke dag vir myself vertel hoe gelukkig ek is, dan glo my brein dit naderhand. En as my brein dit eers glo is my kop deur, want dan word ek presies dit wat ek glo. (Ek praat uit ‘n plek van voorreg. Daar is natuurlik omstandighede waaruit nie die positiefste brein homself kan bedink nie!)
Kry ek donker dae en tye waar dit nie altyd heeltemal so goed werk nie. Natuurlik. Almal doen. Maar dan probeer ek bloot harder. (Verstaan egter ook dat ek nie lig maak van depressie nie. Depressie is ‘n siekte en jy kan dit nie bloot met ‘n goeie houding afskud nie. As jy werklik aan depressie lei, kry professionele hulp. Dit is al wat help!)
Ek bel noudiedag sommer so in die middel van die dag my man en vra: ‘Is dit astrant as mens trots op jouself is? Trots op die mens wie jy is?’
‘Nee’ sê hy ‘jy kan maar trots wees want jy is awesome.’
Hy moet dit sê, want hy’s my man en hoe meer hy dit vir my sê hoe meer byvoordele is daar natuurlik vir hom.
‘Maar net vir interessantheid, hoekom is jy spesifiek vandag awesome?’ waag hy om te vra.
Vyf jaar terug het #PappaStruis my gevra om die Kaap agter te laat en gevra of ek hom ‘n jaar sal gee in Gauteng. Ek is ‘n goeierige vrou, so ek het ja gesê. Ek sou hom ‘n jaar gee, maar hy beter nie van my verwag om daarvan te hou nie. Die jaar het egter vyf geword. En tot en met Desember 2020 het ek elke oomblik daarvan gehaat. Want dis wat ek elke dag vir my kop vertel het. Ek haat Gauteng. Iewers tydens Covid-Kersfees het ek egter ‘n waarmaak oomblik gehad. Ek het besef dat ek iets gaan moet doen aan myself, want die vyf jaar gaan waarskynlik tien word. Dalk selfs vir ewig. Dis maar hoe die lewe loop.
Ek het toe begin dink oor my lewe. Al my voorregte. My fantastiese (gesonde!) gesin. Hoe gelukkig ek is. Ek het ook skielik besef dat vandat ek in Gauteng bly, ek as mens soveel gegroei het. My lewe in die Kaap het hoofsaaklik bestaan uit werk, kinderoppasser wat my kinders in die middae rondkarwei en tutors om aan al die ander behoeftes te voorsien. Ek het niks gekort nie, maar as ek nou daaraan terugdink het ek dalk net nie geweet wat ek kort nie. Dit was ‘n goeie lewe, maar een waar ons soms ons koppe in gate gedruk het om die regte lewe uit te skakel.
My lewe vandag is een waar my seuns nou tuisskool kindertjies is, met geen katastrofiese gevolge nie. Inteendeel. Hulle blom. En ek is mal oor die feit dat ons daarvan hou om al die ekstra tyd bymekaar te spandeer. Ek werk vir twee verskillende liefdadighede. Een ad hoc en een semi-permanent. Selfs sonder betaling is dit die lekkerste en bevredigendste werk wat ek nog ooit gedoen het. Ek beoefen vir die eerste keer in baie jare ‘n sport wat my bemagtig en gesond hou. ‘n Sport waarvan ek besonder baie hou. Die gevolg is dat ek gesonder eet, ophou drink het, en aansienlik fikser is. Die dopamien wat saam met die oefen kom is natuurlik ‘n vet bonus. Ek spandeer skielik tyd aan myself. Ek is aansienlik minder gestres, lewe doelbewus stadiger en is skielik meer bewus van die wêreld om my.
(Ek WEET en BESEF ek is besonder bevoorreg om die keuse te kan hê om al hierdie goed te kan doen en wees. Daar is so baie mense wat bloot net water trap en hoop hulle maak dit lewendig uit. Baie mense met geen opsies nie. Ek is elke dag dankbaar vir my voorregte. Bitter bitter dankbaar.)
Ek kyk vandag na myself en hou aansienlik meer van die Gauteng weergawe van myself as van die Kaap weergawe van myself.
My antwoord vir my man was egter baie korter want hy’s so bietjie aandagafleibaar en kan en wil nie altyd na my lang verduidelikings luister nie. “Ek dink vir die eerste keer vandag Gauteng is dalk okay. Dit het selfs dalk so bietjie onder my vel ingekruip. Ek wil nie vir ewig hier bly nie, maar ek sal as ek moet en dit sal nie afskuwelik wees nie. Ek is trots op myself want ek het dit gedoen. My brein oortuig dat Gauteng okay is.”
My brein is baie dinge. Bietjie verroes. Soms stadig om te snap. Soms neig dit om verlore te raak in die regterlob. Soms is al die torre nie op hulle fietsies daarbinne nie. Maar ten minste is my brein nooit verveeld nie. En soos ‘n goeie getroue brein betaam, stel die ou ding my net nooit teleur nie. Inteendeel. Soms verbaas my brein my uit my sokkies uit. En dan is ek so bietjie trots op myself en my brein.
Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever. © Yolande Strauss 2025.