Yolande Strauss

Singer , Songwriter, Blogger & Creative

"Art is not what you see, but what you make others see." - Edgar Degas


Brief aan my Skoonpa

Liefste Pa


Toe ek klein was, het my oupa my altyd so skelm eenkant geroep, ‘n sweetie in die hand geprop en gesê, dis net vir my, want ek is sy gunsteling kleinkind. Klein bietjie ondersoek en die feit dat geen kind met ‘n brein so geheim kan hou nie, het natuurlik daartoe gelei dat ons almal mettertyd uitgefigger het dat hy deur die bank vir al die kleinkinders dieselfde klein wit leuentjie vertel het. En dat ons almal blykbaar sy gunsteling kleinkind was.


Pa het altyd vir my gesê ek is pa se gunsteling skoondogter. Dalk het pa dit ook vir al die ander skoondogters gesê. Mens sal nou nooit weet nie. Hoe dit ook al sy. Ek kan met honderd persent eerlikheid sê dat pa my gunsteling skoonpa OOIT was. Ook in ‘n sterk tweede plek, gunsteling pa.


Kyk ek gaan nou nie verspot wees en ontken dat pa maar soms ‘n moeilike ou was nie. En vir seker nie elke mens wat oor pa se pad geloop het se koppie sop nie. Wat ek wel kan sê is dat pa nie een enkele dag van my lewe met my unkind was nie. Inteendeel. Ek het actually soms skaam gekry oor hoe verskriklik pa my voorgetrek het. Skaamteloos so.


Die dag wat my bloedpa dood is het pa, getrou aan vorm en voet-in-die-mond vir my gesê: “Darem het jy nog een pa oor hier op aarde.” (Ek vermoed egter dat baie van daai voet-in-die-mond oomblike baie goed en strategies beplan was. Ek mag verkeerd wees.)

Dit was egter die beste en nodigste voet-in-die-mond ding wat enigiemand op daai aaklikge dag kwytgeraak het. Pa was natuurlik reg. (Ook getrou aan vorm haha!)

 

Vir sommiges was pa ‘n lewenslange vriend. Vir sommiges ‘n balk in die oog. Vir ander ‘n lewenslange ouer, pa, raadgewer. Vir ander ‘n pyn in die alie. Vir ander ‘n eggenoot en companion. Vir sommiges ‘n mentor. Vir die kleinkinders ‘n “freakin legend.” Ek steel daai aanhaling by my Grootprins. Vir my, was pa vir die laaste 30 jaar, my pa. En ek vat niks hier weg van my bloedpa nie. Hy was ‘n geesperd. (Met dank aan Peach). As ek moes kies sou Pa Peet natuurlik altyd wen. Maar gelukkig hoef ek nooit te gekies het nie, en ek het die voorreg gehad om twee besondere pa’s in my leeftyd te hê. En natuurlik kan niemand jou liefhê soos ‘n bloedpa nie, maar hel, weereens ‘n baie sterk tweede plek daar vir pa. Behalwe vir my Pa Peet en pa se seun André, was daar niemand wat my so hard aangecheer het soos pa nie. My foute so misgekyk het nie. My handjievol goeie punte en talente so goed raakgesien het nie.


My grootste voorreg was om al huilend “leaving on a jetplane” daar in die stoor te sing. Net ons twee. Pa se oë was toe en vir ‘n oomblik het ek gedink: Dis hoe ek dit wil onthou. Ek, die ou korrelkop en musiek. Want ek dink dit was dalk die draadjie wat ons vriende laat maak, en vriende laat bly het. Toe tjank ek natuurlik en pa stuur op die familiegroep dat ons nou lekker sit en huil. En ek sê: “pa kan nie my skandes sommer so deel nie.” En pa sê: “Jou emosies is definitief nie ‘n skande nie. Dis wat jou jy maak.”


So week terug was ons op die plaas. Pa se laaste woorde aan my was: “Dankie dat jy altyd so kind is, vir alles wat jy doen. Almal se moeder hen.” Ek het besef daai is laaste groetwoorde en het pa in die rede geval, want wie is nou ooit lus vir laaste groete? Pa was baie seer en ek kon nêrens aan pa raak nie nie, so ek het net my hand uitgesteek en pa het dit gevat met albei hande en net vir ‘n oomblik vasgehou. Oë toe. ‘n Prentjie vasgebrand in my kop vir ewig. Ek het my hande terug gevat.


 “Ek sien pa DV oor so paar weke.” Ek het DV gebruik, want ek het geweet dit sou pa amuse. Dit het. Ons het albei geglimlag, want ons het albei geweet dit was die laaste keer. I’ve seen this film before.

 

Ek is intens dankbaar vir die wonderlike seun wat pa vir my los. Ek is intens dankbaar dat daar so baie van pa in my seuns is. Ek is intens dankbaar dat ek pa se ekstra dogter mag gewees het. (In my kop – ‘n sterk tweede plek.)

 

Ek het nou niks meer pa’s oor nie. Maar hel ek het dit waaragtig lucky getref met die twee wat ek gehad het. Ek was nie daar toe Pa Peet sy laaste asem uitgeblaas het nie en het vir dae daarna nog gewens dat iemand my gaan bel en sê, dit was ‘n fout. Hy lewe nog. Vanoggend voel ek dieselfde. Soms dink mens almal gaan vir ewig lewe. Maar nou ja. So is die lewe nou maar eenmaal.


Al my liefde

Pa se gunsteling skoondogter

 

xxx

Buckle up, buttercup! This website is a copyrighted work of pure awesomeness, belonging solely toYolande Strauss. All rights reserved, now and forever.

©Yolande Strauss 2025.