Die anderdag, op ‘n per ongelukte Kaapstad somersdag, sit ons gesinnetjie en eet roomys in die middestad. Ons het skaars gesit of daar waai ‘n swerm lawaaierige jong knape die winkeltjie binne. Dis net aftershave, help-my-fris hempies, Bieber kuiwe en uitsteek onderbroeke waar jy kyk. Ek vergaap my letterlik en dink stil-stil: “dank vader ons boyfriends op daai ouderdom moes brushcuts hê vir drilperiode!”
“Kyk jy lekker my vrou?” kom my man se geamuseerde opmerking my ore binne.
“Is jy simpel man. Hulle kon my kinders gewees het!” blaps ek uit.
“Dis oukei my vrou. Daai spiere is seker handsome as dit jou tipe ding is…”
En net daar besef ek hoe verskillend ons Evas van die Adamsgeslag is. Soos ek sê- die seunskinders kon my seuns gewees het…(as ek op 18 begin het, wat ek Dank Vader nie gedoen het nie!). Vir my om “daai” kyke te kyk moet hulle darem so 28 plus wees…
Wie op aarde kan ‘n knaap wat soos ‘n pikkewyn loop (om sy beltlose broek bo te hou) nou begeer. Nee gits. Kom ons maak dit hy moet ten minste 28 wees EN ‘n belt dra.
Waar is die mannetjies se ma’s? wonder ek so by myself. Geen ordentlike ma laat haar kind met so lang kuif toe om die strate in te vaar nie. Hoe kan ek nou ‘n man begeer as ek nie die vensters van sy siel kan sien agter ‘n boskaas kuif wat ‘n papegaai sal skaam maak nie. Nee gits…28, belt EN ‘n ordentelike netjiese kapsel- minimum kriteria!
Maar máns- dis nou ‘n heel ander storie daai. “Hoe kan julle die jong meisies so bekyk?” vra ek my man. “Dis nie asof die meisies terug kyk na julle ou omies nie.” Bygesê- ‘n 57 jarige vriend (nie mooi nie, nie slim nie, nie oulik nie…) van my man het die anderdag met ‘n 19 jarige pop by een van ons braais aangekom…dié verhouding het ‘n hele 6 maande gehou- dink dis hoe lank dit Barbie gevat het om te besef sy geld is minder as wat hy aanvanklik wou voorgee dit is…”Mooi was nog nooit lelik nie my vrou, en hoe sê ou Jakkie altyd -As haar voete die toiletvloer raak as sy piepie is sy oud genoeg.” Ja toemaar, het hom klaar vertel hoe ‘n afskuwelike stelling dit is! Ek wip my stil-stil.
Nou vra ek jou met trane in my diep bruin oë. Moet ek nou in my rype dertigs, twee geborsvoede kinders later, kompeteer met al die goedjies wat net noudiedag nog Justin Bieber posters teen hulle pienk kamermure gehad het…G’n wonder al my vriendinne het so baie issues met hulleself nie. Die ergste is, die vriendinne wat die minste hang-ups hoef te hê, se issues is die ergste. En meeste van hulle se mans het lankal die sixpacks en aftershave laat gaan!
“Vrou vrou, daai een outjie check jou lekker uit!” smaal manlief.
“Ag my ou man, al wie my deesdae uitcheck is pensionarisse…rêrig? Watter een?” Gits ek hoop dis ten minste die een met die belt…